Breederivier (rivier)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Breederivier
Die Breederivier ongeveer 5km vanaf sy monding.
Die Breederivier ongeveer 5km vanaf sy monding.
Oorsprong Skurweberge, Wes-Kaapprovinsie
Monding Witsand, Indiese Oseaan
Gebied waardeur dit vloei Suid-Afrika
Lengte 337

Die Breederivier (ook Breërivier) vloei deur van die bekendste wynprodusenrende streke van Suid-Afrika. Die rivier ontspring in die Warm Bokkeveld met die Skurwe- en Hexrivierberge as opvanggebied. Waar die Titus-, Koekedou- en Dwarsriviere saamkom, ontstaan die Breederivier. In die St. Sebastiaanbaai by Kaap Infanta op die westelike oewer en Witsand en Port Beaufort op die oostelike oewer mond die rivier uit in die Indiese Oseaan. Die mond is 900m wyd.

Geskiedenis[wysig]

Op ‘n Portugese kaart van voor 1502 word die Breederivier aangedui onder die naam Rio de Nazaret. So vroeg as 1667 het sersant Pieter Cruijthoff in die omgewing verkenningswerk gedoen. Negentig jaar later was daar naby Swellendam al ‘n pont oor die rivier. In die middel van die 19de eeu ontwikkel die Barry-familie die dorpie Port Beaufort as rivierhawe. Hulle firma het ‘n aantal jare ‘n bootverbinding tussen Kaapstad, Port Beaufort en die nedersetting Malgas, 48km stroomop, in stand gehou.

Stroomgebied[wysig]

Die rivier is 325km lank en het ‘n totale opvanggebied van nagenoeg 12 300 vierkante kilometer. Vanaf sy oorsprong gaan die river verby Ceres, sny deur die berge wes van die dorp deur die 1 500m diep Mostertshoekkloof. Ook die Michellspas gaan deur hierdie kloof. Daarna draai hy suidoos, vloei deur die wye Breëriviervallei tussen die Hexrivierberge aan die noordekant en die Slanghoek- en Du Toitskloofberge aan die suidekant en gaan verby Worcester, Robertson, Bonnievale en Swellendam. Oor sy hele lengte gemeet het dit ‘n gemiddelde val van 10m per km. Die opvanggebied het ‘n reënval wat wissel van 190cm in die berge tot 38cm in die vallei. Orals langs die rivier en sy talryke sytakke is daar besproeide landerye.

Sytakke[wysig]

Verskeie groter en kleiner sytakke voed die Breederivier. Wynkelders dra dikwels die name van die riviere waaruit die wingerde besproei word.

  • Hexrivier dreineer die oostelike helling van die Hexrivierberge en vloei van De Doorns suidweswaarts om by Worcester by die Breederivier aan te sluit.
  • Holsloot en die Smalblaarrivier kom uit die Du Toitskloofberge en Stettynsberge, en vloei verby Rawsonville na die Breede. Die boloop van die Smalblaar is die Molenaarsrivier wat langs die N1 nasionale pad loop aan die oostekant van die Hugenotetonnel. Die Waterkloofrivier is die boloop van die Holsloot.
  • Hoeksrivier kom uit die Limietberge en vloei by Aan de Doorns in die Breede.
  • Nuyrivier ontspring in die Langeberge net oos van Worcester.
  • Kogmanskloofrivier vloei van die noordekant van die Langeberge uit die Klein Karoo verby Montagu en Ashton na Bonnievale. By Montagu sluit twee riviere by die Kogmanskloofrivier aan, naamlik die Pietersfonteinrivier van noordwes en die Kingna (of Grootrivier) van oos.
  • Konings- en die Keisersriviere loop onderskeidelik wes en noord van McGregor. Hulle loop beide noordwaarts uit die Riviersonderendberge.
  • Riviersonderend dreineer die suidelike helling van die Riviersonderendberge. Sy grootste sytaak is die Elandskloofrivier.
  • Buffeljagsrivier kom verby Suurbraak en sluit van oos naby die Bontebok Nasionale Park by die Breederivier aan.
  • Slangrivier kom uit die rigting van Heidelberg en vloei in die Breederivier kort voor die Breede se mond.
  • In die Witelsrivier word forel gevang.
  • Romansrivier is net suid van Wolseley geleë.
  • Waboomsrivier

Damme[wysig]

In die hele Breederivierstelsel is daar ‘n groot aantal reservoirs. Die grootstes en bekendstes is die volgende:

  • Groter Brandvleidam tussen Worcester en Rawsonville. Kanale van die Holsloot en Smalblaarrivier lei na die Brandvlei. Die landbougebied tussen Worcester en Robertson benodig baie water. Kanale lei die water uit die dam na die plase.
  • In 1975 is die Kwaggaskloofdam in die Waboomsrivier gebou. Sedert 1989 is dit deel van die hernude Brandvleidam.
  • Stettynskloofdam in die Waterkloofrivier lê diep in die berge by Rawsonville. Die Zwiegelaarsdam is in dieselfde rivier.
  • Theewaterskloofdam kry sy water uit die Riviersondend, Du Toits-, Elands- en Waterkloofriviere.
  • Elandskloofdam is geleë in die Elandskloofrivier.
  • Moordkuildam (ook bekend as die Draaivlei) lê in die Hoeksrivier, naby Nuy.
  • Keeromdam is in die Nuyrivier geleë.
  • Poortjieskloofdam is in die Kingna en die Pietersfonteindam in die Pietersfonteinrivier.
  • Buffeljagsdam is in die Buffeljagsrivier.
  • Lakenvlei lê ten noorde van die Hexrivierberge, in die Sanddrifskloof en ten ooste van Ceres.
  • By die plase genaamd Goree, wes van Robertson, is daar ‘n groot studam in die Breederivier. ‘n Paar kilometer stroomaf en naby die dorp is die Silwerstrand-vakansieoord.
  • Ten weste van McGregor is die Klipbergdam in die Koningsrivier en ten suide is die McGregordam.
  • Suidwes van Robertson is die Le Chasseur-besproeiingsgebied.

Vislewe[wysig]

Die Burchell se rooivlerkie (Pseudobarbus burchelli) kom hoofsaaklik hier voor. Van die ander visse wat hier aangetref kan word is: die Bloustert-harder, die Seelt, die Natalse maanskynvis en die Kaapse maanskynvis.

Bibliografie[wysig]

  • Burman, Jose: Waters of the Western Cape. Kaapstad: Human & Rousseau, 1970.
  • 1:50 000 Suid-Afrika topografiese kaartreeks – 3319CB Worcester, 3319DD Robertson en 3419AB Caledon
  • www.dwaf.gov.za

Galery[wysig]