Britz

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Britz
Die Hoefyster-woonbuurt
Die Hoefyster-woonbuurt
Ligging in Berlyn
Ligging in Berlyn
Koördinate: 52°27′0″N 13°26′0″O
Land Vlag van Duitsland Duitsland
Deelstaat Berlyn
Distrik Neukölln
Eerste verwysing 1237
Oppervlak
 - Stadsdeel 12,4 km²  (4,8 vk m)
Hoogte 52 m (171 vt)
Bevolking (30 Junie 2012)
 - Stadsdeel 39 802
 - Digtheid 3 210/km² (8 313,9/myl2)
Tydsone MET (UTC+1:00)
 - Somer (DST) MEST (UTC+2:00)
Poskode 12347, 12359
Skakelkode(s) 030

Britz is 'n stadsbuurt in die Duitse hoofstad Berlyn se administratiewe distrik Neukölln wat bekend staan vir sy uitsaaifasiliteit van Deutschlandradio (vroeër RIAS/Rundfunk im amerikanischen Sektor), die Hoefyster-woonbuurt en die sogenaamde Gropiusstadt, 'n uitgestrekte woonbuurt met woonstelblokke wat in 2002 'n aparte stadsbuurt in Neukölln geword het.

Die bevolking van Britz was 39 802 op 30 Junie 2012.

Geskiedenis[wysig]

Die kasteel Britz

Die eerste historiese verwysing na die destydse dorp Britzig dateer uit die jaar 1237, terwyl dit in die Landbuch van keiser Karel IV Briczik genoem word. Onder sy besitter Otto von Britzke is die dorp tot riddergoed verklaar.

In 1920 is die landelike munisipaliteit Britz met sy 13 475 inwoners by Berlyn se administratiewe distrik Neukölln ingesluit.

Argitektuur en besienswaardighede[wysig]

'n Lugfoto van die Britzer Garten
Die historiese dorpskerk van Britz

Britz pronk met 'n historiese veldsteenkerk uit die jaar 1250. Nadat die kerk in 1948 deur 'n brand verwoes is, is dit deur die kunstenaar Charles Crodel van glasskilderye voorsien. Die dorpskerk maak net soos die historiese boerdery met sy perde- en ossestal deel uit van die plaaslike riddergoed. Die kasteel Britz met sy tuin het oorspronklik as woning van die Britzke-gesin gedien. Die gebou is in die 15de eeu opgerig, maar later deur 'n brand vernietig. Die huidige herehuis is deur veldmaarskalk Van Erlach opgerig en in 1880 volgens 'n ontwerp van Julius Wrede in die Nuwe Renaissance-styl herbou en van 'n toring voorsien.

Die Britzer Mühle is 'n windmeul in die Hollandse styl. Die gebou uit die jaar 1863 is in 1985 ter geleentheid van die Federale Tuinskou volledig gerestoureer en is as 'n historiese monument nog steeds in bedryf.

In die vroeë 20ste eeu het nuwe woonbuurte in Britz ontstaan. Die Ideal-woonbuurt dateer uit die jaar 1907. Die Hoefyster-woonbuurt het tussen 1925 en 1933 volgens 'n ontwerp van die bekende argitekte Bruno Taut en Martin Wagner as een van die eerste bouprojekte volgens Berlyn se na-oorlogse sosiale behuisingsplan ontstaan. Die naam verwys na die sentrale reeks geboue in die vorm van 'n hoefyster. Die woonbuurt is net soos die markplein van Britz-Suid 'n historiese monument en deur UNESCO in Julie 2008 saam met ander Berlynse behuisingskema's uit die 1920's tot wêrelderfenisgebied verklaar.[1]

Die Britzer Garten, 'n uitgestrekte park, is ter geleentheid van die Federale Tuinskou in 1985 aangelê en was destyds as 'n ontspanningsgebied vir die bevolking in die suidooste van Wes-Berlyn beplan, wat deur die grens met die DDR van die omliggende landelike gebiede afgesny was. Die park het 'n oppervlakte van 90 hektaar en verbind natuur en tuinboukuns (met rose- en rhododendrontuine), "speellandskappe" vir kinders en uitgestrekte grasvelde, argitektuur en kuns (in die Karl-Foerster-pawiljoen), mere en heuwels en blommevelde met mekaar. Die restourant by die Kalender-plein pronk met die - na bewering - grootste sonhorlosie in Europa.

Die Britzer Museumsbahn, 'n historiese veldtrein met 'n spoorwydte van 600 millimeter, dien as die belangrikste vervoermiddel in die park. Dwarsdeur die jaar word in die park feeste soos die Midsomerfees in Junie, jazz- en klassieke opelug-konserte en vuurwerke aangebied.

Die uitsaai-fasiliteit van RIAS en Deutschlandradio[wysig]

Die Amerikaanse militêre administrasie het vir sy nuutgestigte radiostasie RIAS (Rundfunk im amerikanischen Sektor / Radiokorporasie in die Amerikaanse sektor) in 1946 'n uitsaai-fasiliteit in Britz opgerig. Aanvanklik is gebruik gemaak van eenvoudige radiomaste, wat in 1948 deur die huidige staalmaste met 'n hoogte van 100 meter vervang is. Hulle is later verhoog tot 160 en 144 meter.

Vanaf 1949 is kortgolf-radioprogramme vanuit Britz uitgesaai. In 1978 is 'n mediumgolf-uitsaai-antenne bygevoeg, wat veral snags die opvangs van RIAS se Duitstalige program in die gebied van die Duitse Demokratiese Republiek (Oos-Duitsland) verbeter het. Die radiogolwe is destyds steil in die ionosfeer uitgesaai, sodat die Oos-Duitse stoorsenders die opvangs van die westelike program nie meer kon belemmer nie.

Die fasiliteite word tans deur Deutschlandradio gebruik, Duitsland se nasionale radioprogram.[2]

Verwysings[wysig]

  • Hierdie artikel, of gedeeltes daarvan, is uit die volgende Wikipedia-artikel vertaal: Britz

Bronne[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Britz (kategorie)

Geskiedenis en argitektuur

RIAS

Koördinate: 52°27′N 13°26′O