Cassis

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Cassis
Uitsig oor Cassis
Uitsig oor Cassis
Wapen van Cassis
Wapen
Ligging van Cassis op 'n kaart (Frankryk)
Cassis
Cassis
Koördinate: 43°13′00″N 5°32′20″O
Land Vlag van Frankryk Frankryk
Gewes Flag of Provence-Alpes-Cote dAzur.svg Provence-Alpes-Côte d'Azur
Département Blason département fr Bouches-du-Rhône.svg Bouches-du-Rhône
Arrondissement Marseille
Kanton Aubagne-Est
Stigting 3de eeu
Regering
 - Burgemeester Danielle Milon Vivanti
Oppervlak
 - Stad 26,86 km²  (10,4 vk m)
Hoogte 0–416 m (0–1 365 vt)
Bevolking (2008)
 - Stad 7 758
 - Digtheid 289/km² (748,5/myl2)
Poskode 13260
Skakelkode(s) 13022
Webwerf: cassis.fr

Cassis is 'n belangrike toeristebestemming in die département Bouches-du-Rhône (Suid-Frankryk) met 'n oppervlak van 26,86 vierkante kilometer en 7 758 inwoners (2009). Die dorp staan bekend vir sy rotskus met die kenmerkende calanques en sy uitstekende wit en roséwyne. Bekende skilders soos Vincent van Gogh en André Derain het die landskap van Cassis as motief vir hulle kunswerke gekies.

Geografie[wysig]

Cassis lê aan die Middellandse See, sowat twintig kilometer oos van Marseille, in 'n sonnige streek met jaarliks sowat 3 000 sonskynure. Die plaaslike Kaap Canaille spog met die steilste rotswande van alle Europese kusgebiede, wat 'n hoogte van 394 meter bereik. Die dorp is omring deur krytrotse, wat in die winter 'n beskerming bied teen die soms koue Mistralwind.

Daar is sowat twintig calanques, tipiese klein fjorde, in die omgewing van Cassis, naas 'n aantal bekende sandstrande soos die Plage du Bestouan en die Plage de la Grande Mer en die klipstrand Plage de l'Arène.

Die plaaslike grond met sy hoë kalkgehalte en die hoë jodiumgehalte van die lug bevorder die wynbou in die gebied, wat met die Vin de Cassis 'n gewilde wit wyn van oorsprong oplewer.

Geskiedenis[wysig]

Die eerste bewoners van die gebied was Liguriërs wat in die tydperk tussen 500 en 600 v.C. 'n versterkte nedersetting bo-op die Baou Redon opgerig het.

In die Romeinse tydperk was Cassis 'n klein vissersdorp wat volgens argeologiese opgrawings ook handelsbetrekkinge met Noord-Afrika en die Levant onderhou het.

'n Uitsig oor Cassis met sy kenmerkende calanques

Tussen die 5de en 10de eeu het die castrum, 'n versterkte dorp, 'n skuilplek tydens barbare-invalle gebied. Die castrum het in 1223 die besit van die Seigneurie des Baux de Provence geword. Cassis is in die 15de eeu aan die grawe van Provence en later aan die biskoppe van Marseille afgestaan wat die gebied tot by die Franse Rewolusie in 1789 geregeer het.

Tydens die 18de eeu het Cassis oorkant die stadsmuur van die castrum en rondom die hawe begin uitbrei. Ná die tydperk van die Restorasie het nywerhede soos visverwerking, tekstiele, olyfolie, koraalverwerking en wynbou hulle in Cassis gevestig. 'n Baie belangrike bedryf was die ontginning van plaaslike natuurstene.

Die steengroewe van Cassis lewer onder meer sement en kalksteen op. Met die sogenaamde Cassissteen, wat al in die antieke tydperk ontgin is, het die dorp wêreldwyd bekendheid verwerf. Die stene vir 'n groot aantal hawehoofde in die Middellandse See-gebied, soos Alexandrië, Algiers, Piraeus, Marseille en Port Said, is in Cassis ontgin. Selfs die basis vir die groot vryheidsbeeld in New York Stad, wat deur Frankryk aan die Verenigde State geskenk is, is van Cassis se steen gemaak.

Teen die begin van die 20ste eeu het hierdie tradisonele nywerhede geleidelik verdwyn, terwyl die wynbou en toerisme al hoe belangriker geword het. Cassis is een van die eerste drie wingerde in Frankryk wat sedert die jaar 1936 die AOC-etiket vir wyne van oorsprong verkry het.