Château Frontenac

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die Château Frontenac, soos gesien vanuit Lévis

Die Château Frontenac is een van die bekendste besienswaardighede in Quebecstad, die hoofstad van die Franstalige provinsie Quebec in Kanada. Danksy die ligging op 'n hoë kaap bied die hotel 'n voortreflike uitsig oor die stad en die Sint-Laurensrivier.

'n Nagtelike uitsig oor die Château Frontenac

Die Château Frontenac was een van die eerstes in 'n hele reeks hotelle wat deur die Kanadese spoorwegmaatskappy Canadian Pacific / Canadien Pacifique aan die einde van die 19de en begin van die 20ste eeu volgens die planne van die Amerikaanse argitek Bruce Prince opgerig is. Dit het sy deure in die jaar 1893 geopen. Die spoorwegmaatskappy het geprobeer om met die nuwe hotelle die luukse toerisme te bevorder en die belangstelling van welgestelde reisigers vir sy treine te wek. Wat sy boustyl betref, is die Château Frontenac nou verwant aan die Château Lac Louise aan die oewer van Alberta se Louisemeer.

Die Château Frontenac dra sy naam ter ere van Louis de Buade, graaf van Frontenac, wat in die tydperk tussen 1672 en 1682 en vir 'n tweede ampstermyn tussen 1689 en 1698 goewerneur van die kolonie Nieu-Frankryk was. Die hotel is op die plek opgerig waar Frontenac teen die einde van die 17de eeu met die bou van die Citadelle de Québec begin het.

Die hotel het in die 20ste eeu talle wysigings ondergaan, waarvan die byvoeging van die toring deur die argitekte Maxwel in die jaar 1926 die belangrikste was. Die toring het sedertdien 'n bekende baken van die hotel en die Quebecstad geword.

Die Konferensie van Quebec in die jaar 1943, waartydens Winston Churchill en Franklin D. Roosevelt stategieë vir die Tweede Wêreldoorlog bespreek, het in die Citadelle van Quebec plaasgevind, terwyl die personeel oorwegend in die Château Frontenac gewoon het.

Eksterne skakels[wysig]