Chinon

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Chinon
'n Uitsig oor Chinon en die kasteel Château Chinon
'n Uitsig oor Chinon en die kasteel Château Chinon
Wapen van Chinon
Wapen
Ligging van Chinon op 'n kaart (Frankryk)
Chinon
Chinon
Koördinate: 47°10′04″N 0°14′37″O
Land Vlag van Frankryk Frankryk
Gewes Flag of Centre (France).svg Centre
Département Blason département fr Indre-et-Loire.svg Indre-et-Loire
Arrondissement Chinon
Kanton Chinon
Stigting 6de eeu
Regering
 - Burgemeester Jean-Pierre Duvergne
Oppervlak
 - Stad 39,02 km²  (15,1 vk m)
Hoogte 27–112 m (89–367 vt)
Bevolking (2009)
 - Stad 7 986
 - Digtheid 205/km² (530,9/myl2)
Poskode 37500
Skakelkode(s) 37072
Webwerf: ville-chinon.com

Chinon is 'n Franse stad in die département Indre-et-Loire van die administratiewe gewes (région) Centre met 'n oppervlak van 39 vierkante kilometer en 7 986 inwoners (2009). Chinon dien naas Loches as een van die onderprefekture van die département.

As deel van die historiese landskap Touraine, wat ook dikwels die "tuin van Frankryk" (Frans: le jardin de la France) genoem word, het Chinon die bynaam "blom van die tuin van Frankryk" (la fleur du jardin de la France) gekry.

Chinon, wat aan die oewers van die Vienne-rivier lê, staan daarnaas bekend vir die indrukwekkende bouvalle van sy kasteel en sy moderne kernkragsentrale met vier aktiewe hoëdrukreaktors en drie magnoxreaktors wat intussen buite werking gestel is.

Geskiedenis[wysig]

Vroeë nedersettings[wysig]

Chinon met die Vienne-rivier
Château Chinon: Die koninklike woongebou

Die eerste menslike nedersettings in die gebied van Chinon het in die Jongsteentydperk ontstaan. Die Gallies-Keltiese oppidum, wat later hier bestaan het, is in die Romeinse periode tot 'n castrum uitgebou. Die eerste Christene in Chinon het Brictius van Tours (Frans: Brice, omstreeks 370-444), 'n aanhanger van Maarten van Tours wat die kerk Sint-Maarten gestig het, en Mexme, die stigter van 'n kerk en klooster, ingesluit. Die eerste historiese verwysing na Chinon as Caino dateer uit die 6de eeu en verskyn in 'n dokument van Gregorius van Tours (omstreeks 538-595).

Vroeë versterkings van die Château Chinon[wysig]

Die plato van Chinon, wat bo-oor die Vienne-rivier verrys, vernou teen die rivierkant. Die Romeine het reeds die strategiese posisie van die plek besef en hier 'n versterking opgerig. Oor 'n tydperk van tien eeue was die plato die toneel van tragiese gebeurtenisse. In 845 is Chinon deur die Wiking-hoof Hasting geplunder.[1].

Drie bekende boumeesters van versterkings het hul stempel op die huidige kasteel afgedruk - twee konings van Engeland, Hendrik II en Richard Leeuehart, en een Franse heerser, Filips Augustus. Die laasgenoemde het die kasteel in 1205 ná 'n beleg van agt maande van die Plantagenêts verower.

Die hof van die "koning van Bourges"[wysig]

Aan die begin van die 15de eeu was die Koninkryk Frankryk in 'n baie moeilike situasie. Met Hendrik VI as koning van Engeland, wat ook die "koning van Bretagne" genoem is, was die Franse heerser Karel VII niks meer as die "koning van Bourges" nie toe hy in die jaar 1427 sy klein hof in Chinon gevestig het. In die volgende jaar het hy die State-Generaal van die provinsies Centre en Sud byeengeroep wat heeltemaal onder sy gesag gestaan het. Die State het 'n besteding van 400 000 Franse livres (pond) aan militêre voorbereidings vir die verdediging van Orléans goedgekeur wat destyds deur die Bretone beleër is.

Verwysings[wysig]

  1. Dillange, Michel: Les Comtes de Poitou Ducs d'Aquitaine (778-1204). La Crèche: Geste éditions 1995. ISBN 2-910919-09-9, bl. 55