Dorset

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Dorset
Flag of Dorset.svg

EnglandDorset.svg
Ligging in Engeland
Seremoniële graafskap Dorset
Hoofstad Dorchester
Oppervlakte 2 653 km2
Bevolking 750 299 (2012)[1]
Bevolkingsdigtheid 283 inw./km2
Administratiewe (nie-metropolitaanse) graafskap
Streek Suidwes-Engeland
Administratiewe setel Dorchester
ISO 3166-2: GB-DOR
Oppervlakte 2 542 km2
Bevolking 414 940 (2012)
Bevolkingsdigtheid 163 inw./km2
Webtuiste www.dorsetforyou.com
Distrikte en Unitêre owerhede
Dorset Ceremonial Numbered.png
  1. Weymouth and Portland
  2. West Dorset
  3. North Dorset
  4. Purbeck
  5. East Dorset
  6. Christchurch
  7. Bournemouth (Unitêre owerheid)
  8. Poole (Unitêre owerheid)

Dorset [ˈdɔrsɨt], histories ook Dorsetshire, is 'n graafskap aan die Suidwes-Engelse Kanaalkus. Die seremoniële graafskap met 'n oppervlakte van 2 653 km2 sluit naas die nie-metropolitaanse graafskap, wat deur die Dorset-graafskapsraad (Dorset County Council) geadministreer word, ook Poole en Bournemouth in wat onder die beheer van unitêre owerhede (unitary authorities) val. Die administratiewe setel (county town) is Dorchester in die suide van Dorset.

Dorset grens in die weste aan Devon, aan Somerset in die noordweste, Wiltshire in die noordooste en Hampshire in die ooste. Ingevolge die Wet op Plaaslike Regering van 1972 is Dorset se oostelike grens uitgebrei om twee nedersettings in Hampshire, Bournemouth en Christchurch, in te sluit. Tans is sowat die helfte van die bevolking in Suidoos-Dorset saamgetrek waar Poole en Bournemouth 'n groot verstedelikte gebied vorm. Die res van die graafskap het 'n oorwegend landelike karakter en is yl bevolk.

Die vroegste bewoners het hulle reeds in die Jongsteentydperk in die gebied van die huidige Dorset gevestig. In die antieke tydperk is die inheemse Keltiese Durotriges deur Romeinse troepe verslaan en die gebied as deel van die provinsie Britannia by die Romeinse Ryk ingelyf. In die vroeë middeleeue het Saksiese setlaars hulle in die streek gevestig wat vanaf die 7de eeu 'n shire ('n historiese administratiewe voorloper van die latere graafskappe) gevorm het.

Die eerste histories gedokumenteerde Wiking-aanval op die Britse Eilande is in die 8de eeu op nedersettings in Dorset geloods. Melcombe Regis in Dorset was die plek van waar die Swart Dood in 1348 na ander dele van Engeland uitgebrei het. In latere eeue is Dorset deur politieke onluste geteister. So is 'n opstand van die sogenaamde Clubmen-burgermagte gedurende die Engelse Burgeroorlog deur Oliver Cromwell se troepe in 'n veldslag naby Shaftesbury neergeslaan. Die Monmouth-opstand, wat na die hertog van Monmouth genoem, het in Lyme Regis begin, en dit was 'n groep van plaaswerkers uit Tolpuddle wat in die 19de eeu 'n beslissende rol in die vorming van die eerste vakbondbeweging gespeel het. Die werkers, wat later as Tolpuddle-martelaars bekend sou staan, is vir die sweer van hul geheime eed gevonnis en na Australië verban.

Dorset het gedurende die Tweede Wêreldoorlog 'n belangrike rol by die voorbereiding van die geallieerde inval in Normandië gespeel. So het soldate onder meer in twee groot seehawens in Dorset, Portland en Pool, op D-dag aan boord van hul skepe gegaan.

Die graafskap bestaan uit 'n verskeidenheid landskapsvorme, waaronder krytheuwels, steil kalksteenriwwe en laagliggende kleivalleie. Meer as die helfte van sy oppervlakte maak deel uit van "Gebiede van buitengewone natuurskoon" (Areas of Outstanding Natural Beauty), terwyl driekwart van Dorset se kuslyn tot wêrelderfenisgebied verklaar is. Hier word verskeie bekende natuurmonumente aangetref soos byvoorbeeld die Lulworth-grot, Portland-eiland, Chesil-strand en Durdle Door.

Landbou was tradisioneel die belangrikste bron van inkomste vir die bewoners, maar dit speel intussen 'n ondergeskikte rol, terwyl die toerismebedryf aansienlike groei toon. Daar is geen snelweë in Dorset nie, tog word nedersettings in die graafskap deur 'n netwerk van A-paaie met mekaar verbind. Twee hoofspoorlyne verbind Dorset met Londen. Die graafskap beskik daarnaas oor drie seehawens in Poole, Weymouth en Portland en 'n internasionale lughawe.

Kultureel staan Dorset vir 'n verskeidenheid musea, teaters en feeste bekend. So word hier onder meer een van Europa se grootste buitelugskoue aangebied. Bekende boorlinge van Dorset is Thomas Hardy, wie se romans hoofsaaklik in die graafskap afspeel, en die digter William Barnes wat in sy poësie die ou plaaslike dialek huldig.

Fotogalery[wysig]

Die kuslandskap van Dorset
Kranse by Burton Beach. Baie fossiele is hier te vind.
Kranse by Burton Beach. Baie fossiele is hier te vind.  
Chesilstrand vanaf Portland Bill
Chesilstrand vanaf Portland Bill  
Die hawehoof in Bournemouth
Die hawehoof in Bournemouth  
Binnelandse besienswaardighede in Dorset
Die huis van Thomas Hardy
Die huis van Thomas Hardy  
Gold Hill in Shaftesbury.  Ook bekend as "Hovis Hill"
Gold Hill in Shaftesbury. Ook bekend as "Hovis Hill"  
High Street West, Dorchester
High Street West, Dorchester  

Verwysings[wysig]