Duiwelspiek

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Duiwelspiek
Devil's Peak from the Summit of Table Mountain.jpg
Duiwelspiek soos vanaf Tafelberg gesien.
Ligging: Wes-Kaap, Suid-Afrika
Hoogte: 1 000 meter
Koördinate: 33°56′S 18°23′O
Duiwelspiek vanuit Nuweland-krieketveld gesien.

Duiwelspiek is deel van die Tafelbergreeks in Kaapstad, Suid-Afrika. Indien die piek vanaf die hawe suidwaarts besigtig word, is die spitspunt van Duiwelspiek links van die plat tafelkop van Tafelberg, waarna die koepel van Leeukop en dan Seinheuwel volg.

Die oorspronklike Kaapstad-nedersetting (wat deesdae die stadskern, of "Stadskom" is) lê in die natuurlike amfiteater wat deur hierdie kenmerke gevorm word.

Duiwelspiek, soos die res van hierdie heuwels, is gevorm uit Tafelbergsandsteen. Onder dit lê graniet en skalie, maar hierdie materiale word nie op Duiwelspiek se hange gevind nie.

Duiwelspiek staan 1 000 meter (3 821 voet) hoog, minder as Tafelberg se 1 087 meter. Die plantegroei op die hange is tipiese Kaapse fynbos.

Aan die suidekant van Duiwelspiek is Rhodes Memorial, 'n aandenking aan Cecil Rhodes, asook die Universiteit van Kaapstad wat oor die Suidelike Voorstede van Kaapstad uitkyk: bo-oor die Kaapse Vlakte na Stellenbosch, Somerset-Wes en die Hottentots Hollandberge in die verte.

Duiwelspiek se naam kom uit 'n volksverhaal oor 'n Hollandse man genaamd Jan van Hunks, wat 'n berugte pyproker was en aan die voet van die berg geleef het rondom 1700. Hy is deur sy vrou verplig om die huis te verlaat wanneer hy sy pyp wou rook. Een dag, terwyl hy sy pyp teen die hange gerook het, het hy 'n vreemdeling ontmoet wat ook gerook het. Die twee het begin spog oor hoeveel elkeen rook, en vinnig het dit verval in 'n pyprook-kompetisie. Aan die einde van die verhaal het dit geblyk dat die vreemdeling die duiwel was en dat Van Hunks uiteindelik gewen het, maar nie voordat die rook wat hulle gemaak het die hele berg bedek het met die "tafeldoek"-wolk nie.

Sien ook[wysig]

Koördinate: 33°57′17.11″S 18°26′21.35″O