Eureka-diamant

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die Eureka-diamant

Die Eureka-diamant is die eerste diamant wat in Suid-Afrika gevind is. Die diamant is deur Erasmus Jacobs naby Hopetown gevind teen die einde van 1866 en weeg 21,25 karaat, ongeslyp. Gedurende die begin van 1867 het Schalk van Niekerk, die Jacobs-gesin se buurman, die klippie opgemerk tydens 'n besoek. Van Niekerk het kleurvolle klippies versamel en mev. Jacobs het die klippie aan hom geskenk. 'n Paar weke later wys Van Niekerk die klippie aan die jagter John O' Reilly wat aangebied het om uit te vind wat se klippie dit is. Op beide Hopetown en Colesberg is O' Reilly uitgelag toe hy sê hy vermoed dié klippie is 'n diamant. Die vrederegter Lorenzo Boyes was egter geinteresserd in die klippie en bied aan om dit aan dr. William Guybon Atherstone te wys, wat 'n amateur mineraloog was.

Die klippie was op 12 Maart 1867 per koevert en poskoets gestuur na Atherstone wat dit klippie as strooikleurige diamant identifiseer. Hy skat die waarde daarvan as £800 en stel toe die koloniale sekretaris, Richard Southey, in kennis van die diamant. Atherstone versoek ook dat die diamant op die Paryse tentoonstelling vertoon moet word. Die diamant word, op versoek van Southey, na die Franse konsul, Ernest Héritte, gestuur; dié was ook 'n amateur mineraloog. Héritte en Louis Hond, 'n juwelier toets die diamant en bevestig die waarde as £500 ongeslyp en as £800 geslyp. Hierna word die steen na die juweliersfirma, Garrard & Co in Londen gestuur wat hulle bevinding bevestig.

Die Kaapse goewerneur, sir Philip Wodehouse het die diamant gekoop in Desember 1867 vir £500. Schalk van Niekerk ontvang twee-derdes en John O' Reilly een-derde van die geld. Wodehouse het die diamant later verkoop; die nuwe eienaar is onbekend.

'n Honderd jaar nadat die diamant opgetel is, in 1966, het De Beers die diamant van sy Londense eienaar, Peter Locan, gekoop en aan die mense van Suid-Afrika geskenk. Dit word bewaar in die Kimberleyse Museum.

Bronne[wysig]