Gamkarivier

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Gamkarivier
Oorsprong Nuweveldberge, Wes-Kaapprovinsie
Monding Gouritsrivier
Stroomgebied Suid-Afrika
Oorsprong-hoogte 1 700m

Die Gamka-, Groot- en Olifantsriviere en hul sytakke is die bolope van die Gouritsrivier. Die Gamakrivier dreineer die oostelike deel van daardie deel van die Groot Karoo wat in die Wes-Kaapprovinsie val.

Stroomgebied[wysig]

Die Gamkarivier ontspring in die Nuweveldberge en vloei dan suid deur Beaufort-Wes. In sy opvanggebied is die jaarlikse reënval slegs 203mm, maar na hewige donderstorms loop die rivier baie sterk. Die Koekemoers-, Leeu- en die Gamkariviere kom by die dorpie Leeu-Gamka saam en vloei as die Gamka suid en teen die noordelike hellings van die Swartberge suidweswaarts tot die Dwyka daarby aansluit. Die Dwykarivier is die belangrikste sytak van die Gamka. Dit ontspring op 1 700m in die Komsberg, so ‘n 16km noord van Merweville en is 95km lank. ‘n Neerslag wat wissel tussen 100 en 250mm p.j. word as normaal beskou. Gevolglik is daar weinig sprake van waterbewaring en besproeiing. Hierdie is van die droogste dele in die halfwoestyn bekend as die Karoo. Saam het hierdie riviere ‘n opvanggebied van 18 300vk. km. Die vergrote Gamkarivier vloei dan met die Gamkapoort, verby Gamkaskloof (Die Hel) deur die Swartberg, verby Calitzdorp tot die Olifantsrivier van oos aansluit. Van hier af staan die rivier as die Gouritsrivier bekend. Die noordgrens van die Wes-Kaap vorm so rofweg die waterskeiding vir hierdie rivierstelsel. As die rivier deur die Swartberge gaan, verdeel hy die bergreeks in die Groot-Swartberge na die ooste en die Klein-Swartberge na die weste. Die gebied waardeur die Gamka en sy sytakke vloei, is warm en droog met gemiddelde dagtemperature wat wissel tussen die 10 grade tot selfs meer as 32 grade C. Die riviere loop gewoonlik slegs in die baie laat somer na die winter, d.w.s. die reënseisoen. Dus is die jaarlikse gemiddelde reënval minder as 500mm.

Ekonomie[wysig]

Die ekonomiese aktiwiteit van hierdie streek wentel om die boerdery. Lusern, weiding, vrugte en wingerd word onder besproeiing verbou. Besproeiing word egter belemmer deur ‘n gebrek aan water. Weens die brakkerige oppervlaktewater word boorgatwater vir die boerdery sowel as huishoudelike gebruik aangewend. Daar word geboer met volstruise en skape. Al hoe meer wildplase word gevestig. Toerisme is beperk.

Bevolking en dorpe[wysig]

Hierdie streek het ‘n bevolking van slegs 48 500, waarvan 80% in dorpe en kleiner nedersettings woon. Weens ‘n gebrek aan ‘n ekonomiese trekpleister word verwag dat hierdie getal nie sal styg nie. ‘n Trek van die plase na die dorpe sal waarskynlik voortduur. Op die hoofpad na die noorde, die N1 nasionale pad, lê Beaufort-Wes aan die oewers van die Gamka. Dit is die grootste dorp in die gebied. Prins Albertweg en Leeu-Gamka (voorheen bekend as Fraserburgweg) lê ook aan die N1. Calitzdorp en Prins Albert lê onderskeidelik aan die R62 en R407. Die pad na Merweville draai by Prins Albertweg noordnoordwes weg van die N1.

Damme[wysig]

  • Die Gamkapoortdam is in 1969 gebou met ‘n maksimum opgaarvermoë van 58 miljoen kubieke meter water. Die wal se hoogte is 42m en as die dam vol is, is sy oppervlakte 6 vierkante kilometer. Weens toeslikking het die volume stadig afgeneem en staan die maksimum volume nou op ongeveer 36 miljoen kubieke meter. Dit lê 2km suid van die aansluiting van die Dwyka by die Gamka en waar die Gamka deur die Swartberge gaan. Net voor die dam sluit twee klein riviere, die Elandskloofrivier en die Kerksrivier, by die Gamka aan en loop water uit die Bosluiskloof ook in die dam. Die dam kan bereik word via die Bosluiskloofpas wat na oos wegdraai aan die noordekant van die Seweweekspoort. Hierdie pad het voor die bou van die dam deurgeloop na Prins Albert. Die dam het hierdie roete versper. Sedert September 2004 is die roete weer oopgestel met ‘n pontverbinding. Dit verbind dus die dorp Prins Albert met die toeristeroete R62.
  • Die Leeu-Gamkadam het ‘n grondwal. Dit is in 1958 gebou en het ‘n ander dam enkele kilometer stroomaf wat na hewige reën meegegee het, vervang. Die dam lê in die Leeurivier en net noord van Leeu-Gamka. Die walhoogte is 21m, die lengte 1 204m. As die dam vol is, is sy oppervlakte 400ha (4 vierkante kilometer). ‘n Gebied van 637ha word hieruit besproei en die water word slegs vir hierdie doel aangewend. Hierdie dam ly so erg onder verslikking dat sy uitloop met ‘n meter en ‘n half verhoog is. Aanvanklik was die kapasiteit van hierdie dam ‘n 42 miljoen kubieke meter. Dit het stadig afgeneem en is nou nagenoeg 15 miljoen kubieke meter.
  • In die Gamkarivier 13km noord van Beaufort-Wes lê die Gamkadam net onder die samevloeiing van die Donkergatspruit met die Gamka. Dit is in 1955 gebou om water te verskaf aan die dorp sowel as aan die spoorweë. Sy opvanggebied in die Nuweveldberge is besonder klein, slegs 106 vierkante kilometer. Die dam se maksimumkapasiteit is byna 2 miljoen kubieke meter en die hoogte van sy wal is 56 meter. ‘n Groot byvoordeel van die dam is dat dit beskerming teen oorstroming van die dorp deur vloedwaters van die Gamka bied. Op 12 April 1961 het die dam vir die eerste maal oorgeloop. Reeds voor die voltooiing van die dam en weer in 1956 het die munisipalitiet grootbekbaars in die dam losgelaat. Sedert 1960 word visvang toegelaat. In September 2010 is die dam weens die heersende droogte byna dolleeg.
  • Net buite Calitzdorp op die grondpad na Groenfontein, Matjiesrivier en die Kangogrotte lê die Calitzdorpdam in die Nelsrivier. Dit het ‘n kapasiteit van 4,8 milljoen kubieke meter water.
  • By die noordelike ingang van Beaufort-Wes lê die Springfonteindam, ook bekend as die Beaufort-Wes-dam. Hierdie dam is reeds in 1869 in die Kuilsrivier, ‘n sytak van die Gamka gebou. Teen 1879 is die dam vergroot en was hy daardie jaar vol. Verskeie plesierbote en selfs ‘n stoomboot was op die dam en daar is geswem. In 1895 is die dam en omgewing tot natuurreservaat verklaar. In 1916 is die dam weer vergroot, maar hierdie dam ly ook onder die problem van toeslikking. In 1940 was die dam nog redelik diep, maar as die dam nou vol is, is die diepste punt skaars 3m. Dit gebeur slegs na swaar reën in die Karoo. Die dam speel teenswoordig slegs eintlik maar net ‘n rol in die sosiale lewe van die dorp. Veral voëlkykers kom gereeld om veral die swaeltjies te bewonder.
  • In die Cordiersrivier, ‘n oostelike sytak van die Gamka, is die Oukloofdam by Prins Albert. Sy maksimumkapasitiet is 4,2 miljoen kubieke meter water.
  • Die Tierkloofdam by Zoar het ‘n volume van 0,05 miljoen kubieke meter.
  • Vier kilometer wes van Calitzdorp in die Gamka besit 50 boere die Buffelsvlei-Gamka-keerwal en –kanaal. Dit dateer uit 1915. Die bou van die Gamkapoortdam het die besproeiingsituasie hier baie verbeter.

Plantegroei en dierelewe[wysig]

Nie-standhoudende riviere in die Karoo het nie ’n watertafel naby genoeg aan die oppervlakte om die tipiese oewerplantegroei wat baie water vereis te onderhou nie. Plantegroei wat wel voorkom langs die riviere en spruite van die Karoo is gewoonlik digter of groei sterker as die plantegroei verder van die rivier. Ook is die plantsamestelling anders as in die omliggende gebied. Hierdie stroke langs die riviere is die habitat vir baie plante en diere en ‘n groot verskeidenheid lewende organismes kom daar voor. Veral die Acacia karroo (soetdoring) is volop langs die oewers. Dit vorm ‘n korridor vir die beweging van diere. Sommige van die diere bly hul hele lewe afhanklik van die oewerplantegroei. Ander weer slegs sekere tye van die dag, in sekere seisoene of lewensstadium. Hierdie habitat verskaf voedsel, water, beskerming teen roofdiere en die harde klimaat van die Karoo, slaapplek en om nes te maak.

Ekologiese situasie[wysig]

Die ekologiese toestand van die Gamkarivier word as redelik beskou. Opnames van die toestand van die Dwykariver beskryf dit as goed.

Name Dwyka en Gamka[wysig]

Dwyka is ‘n Khoi-woord met die betekenis “brak” of “souterig”. Die reisiger John Barrow is die enigste skrywer wat sê dat Dwykarivier vertaal moet word as Renosterrivier. Die rivier deel die naam Dwyka met die laagste gesteentelaag in die bodem van Suider-Afrika. Geoloë praat van die Dwyka-tilliet. Gamka is die Khoi-woord vir “leeu”. In die dorpsnaam Leeu-Gamka kom dus ‘n interessante toutologie (stylfiguur) voor.

Bibliografie[wysig]

  • Vivier, W.G.H. en S.: Hooyvlakte. Die verhaal van Beaufort-Wes 1818-1968. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1969.
  • Standard Encyclopaedia of Southern Africa, dele 1 tot 12. Kaapstad: Nasou, 1970-76
  • Burman, J.: The Little Karoo. Kaapstad: Human en Rousseau, 1981 ISBN 07981-1214-X
  • River Health Programme. State of Rivers of the Gouritz Water Management Area. Pretoria: Departement van Waterwese en Bosbou, 2007. ISBN 0-620-38676-0
  • Departement van Waterwese en Bosbou. www.dwaf.gov.za
  • Botha, C. Graham: Place names in the Cape Province. Kaapstad: Juta, 1926.