Gediminas

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Hierdie gedenkmunt ter waarde van 50 Litas is deur die Litause Munt as deel van die reeks "Die heersers van Litaue" uitgereik

Gediminas (soms ook Gedimin of Gedimyn, * omstreeks 1275, † Desember 1341) het tussen 1316 en 1341 as grootvors van Litaue oor die Litauers en groot dele van die Roes' geregeer. Hy word naas Mindaugas en Vytautas by die beduidendste heersers in die Litause geskiedenis gereken.

Aangesien Gediminas die Litause stamme in 'n gemeenskaplike ryk verenig het, word hy algemeen as die stigter van die Grootvorstedom Litaue met sy nuwe hoofstad Vilnius beskou - die magtigste ryk tussen die destydse Duitse Ordensstaat en Moskou. Gediminas het die politieke swakheid van die Mongoolse Goue Horde benut om Polozk, Minsk en Kiëf (Kiyv) te onderwerp, maar goeie betrekkinge met Pole gehandhaaf. Die huwelik tussen sy dogter en koning Kasimir III van Pole het die dinastiese basis vir die politieke unie tussen Litaue en Pole gevorm. Dié unie is uiteindelik deur sy kleinseun Jagiëllo verwesenlik.

Terwyl hy in sommige bronne as 'n verstokte heiden uitgebeeld word wat sterk teen die kerstening van Litaue gekant was, het hy inderwaarheid Christelike sendelinge in sy ryk toegelaat en met die vestiging van Duitse setlaars ook die hoeksteen vir die ekonomiese ontwikkeling van Litaue gelê.