Christiaan de Wet

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Generaal de Wet)
Spring na: navigasie, soek
Christiaan de Wet
7 Oktober 1854 – 3 Februarie 1922 (67 jaar oud)
Christiaan de Wet

Generaal De Wet

Geboortenaam Christiaan Rudolf de Wet
Geboorteplek Plaas Leeuwkop naby Smithfield
Plek van afsterwe Dewetsdorp
Plek van graf Vrouemonument, Bloemfontein
Lojaliteit Boer
Jare in diens 1880-1881, 1899-1902, 1914
Rang Generaal
Veldslae/oorloë Flag of Transvaal.svg Eerste Vryheidsoorlog
--Slag van Laingsnek
--Slag van Ingogo
--Slag van Majuba
Flag of the Orange Free State.svg Tweede Vryheidsoorlog
--Slag van Sannaspos
--Slag van Reddersburg
--vele meer
Familie Genl. Piet de Wet (joiner)
Ander werk Boer, politikus

Christiaan Rudolf De Wet (1854 - 1922) was 'n Boeregeneraal tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Christiaan de Wet is te Leeukop naby Smithfield in die Oranje-Vrystaat gebore op 7 Oktober 1854.

Vroeë lewe[wysig]

Hy het grootgeword op sy pa se plaas, Nuwejaarsfontein, naby Dewetsdorp. Hy het op negentienjarige ouderdom in die huwelik getree met Cornelia Margaretha Kruger en saam het hulle 'n kroos van 16 gehad.

Tydens die anneksasie van Transvaal in 1877 deur Brittanje het hy na die Vredefort distrik in die Oranje Vrystaat verhuis en daarna na Weltevreden naby Koppies en toe weer daarna in 1880 na Rietfontein in die Heidelberg distrik in Transvaal.

Die Eerste Vryheidsoorlog en nadraai[wysig]

De Wet was sewe-en-twintig jaar oud met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog in 1880. Hy het saam met die Heidelberg Kommando geveg en deelgeneem aan die Slag van Laingsnek, hy het sy dapperheid getoon by die Slag van Ingogo en met die bestorming van Majuba vroeg in 1881. Na die oorlog en die herstel van Transvaal se onafhanklikheid is hy tot veldkornet verkies. In 1882 het die gesin weer verhuis na die plaas Suikerboskop in die Lydenburg distrik. In 1885 is hy tot die Transvaalse Volksraad verkies. Hy het egter slegs 'n enkele sitting bygewoon aangesien die gesin daarna weer teruggetrek het na die Oranje Vrystaat. In 1896 het hy vir die soveelste maal getrek na die plaas Rooipoort in die Heilbron distrik. In 1889 is hy tot die Vrystaatse Volksraad verkies waar hy die Bowe Modderrivier kiesafdeling verteenwoordig het in 1898.

Tweede Vryheidsoorlog[wysig]

'n Foto van Christiaan de Wet vanuit With the Boer Forces, deur Howard C. Hillegas. 1900.

De Wet was vyf-en-veertig met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899. Op die 2de Oktober 1899 is De Wet en sy oudste seun, Kotie, as gewone burgers opgeroep na die Heilbron kommando. De Wet se seuns, Izak en Christiaan het hulself as vrywilligers aangesluit en so het dit gebeur dat die vier hulself vir diens aangemeld het onder Kommandant Lukas Steenkamp.

Guerrilla fase[wysig]

In Maart en April van 1900 het De Wet 'n offensief van stapel gestuur wat 'n herlewing in die Boere se stryd ingelui het. Hy het 'n legende geword met sy guerilla-aanvalle in die suidooste van die land.

Vredesonderhandelinge[wysig]

'n Konferensie van sestig afgevaardigdes uit die Transvaal en die Vrystaat is op die 15de Mei in Vereeniging gehou waar die Boereleiers beraadslaag het oor die Britse voorwaardes vir oorgawe. De Wet het as President van die Vrystaat waargeneem in plek van die President Steyn wat siek was op daardie stadium. De Wet wou die stryd voortvoer tot die bitter einde.

Ná die oorlog[wysig]

De Wet het met sy gesin teruggekeer na sy geruïneerde plaas, Rooipoort. In Julie van 1902 het hy sy vrou en kinders in 'n tent op die plaas agtergelaat en saam met genl. Louis Botha en genl. Koos de la Rey na Europa vertrek om geld te gaan insamel vir die weduwees en weeskinders wat deur die oorlog verarm is.

Aan boord van die skip het ds. J.D. Kestell hom bygestaan met die skryf van sy gedenkskrif of memoires getiteld, De Strijd Tusschen Boer en Brit (wat dan ook later in Engels as die Three Years War gepubliseer is). Die boek het groot sukses behaal en is later in ses ander tale vertaal. Met sy terugkeer het De Wet 'n belangrike rol gespeel in die beweging om Milnerisme in die Vrystaat te beveg. Hierdie pogings het gelei tot die ontstaan van die Orangia Unie in 1906.

Toe daar in 1907 aan die "Oranje rivier soewereiniteit" selfbestuur toegestaan is, is De Wet verkies tot lid vir Vredefort en is hy aangestel as Abraham Fischer se minister van Landbou. Hy was 'n afgevaardigde by die Nasionale Konvensie van 1908-09, waar daar beraadslaag is oor die nuwe grondwet vir die Unie van Suid-Afrika. Hy het uit die politiek getree ná Uniewording in 1910 en te Allanvale naby Memel gaan woon waar hy benoem is om in die Unieverdedigingsraad te dien.

Sy vurige persoonlikheid het na vore getree toe dié stoere ondersteuner van Hertzog sy bekende Mishoop-toespraak in Pretoria op 28 Desember 1912 lewer. Die daaropvolgende jaar het hy uit die verdedigingsraad bedank. In 1914, toe De Wet en Hertzog die Nasionale Party gestig het, was daar 'n toenemende tweespalt onder Afrikanergeledere.

Die weerstandsbeweging[wysig]

Die metershoë standbeeld van De Wet op 'De Hoge Veluwe'

In die middel van Augustus 1914 het 'n aantal prominente Boereleiers (genl. de la Rey, luit.kol. 'Manie' Maritz, genl. Beyers, genl. Kemp en genl. De Wet) saamgesweer om 'n staatsgreep uit te oefen. Hulle was gekant teen die deelname van Suid-Afrika aan die Eerste Wêreldoorlog en het ook 'n geleentheid gesien om weer onafhanklikheid te verkry.

Ná die voorval op Langlaagte waar genl. De la Rey doodgeskiet is, het die rebellie in volle gang gekom en het De Wet 'n aantal dorpe ingeval en eiendom in beslag geneem in die Noordoos-Vrystaat. De Wet se seun Danie is saam met verskeie ander rebelle tydens 'n skermutseling te Allemanskraal dood gemaak. Genl. Louis Botha se regeringstroepe het die rebellie baie vinnig onderdruk, De Wet het egter ontsnap en met 'n handjievol volgelinge na die Kalahari uitgewyk in 'n poging om by Manie Maritz in Suidwes-Afrika aan te sluit. De Wet is op die 30ste November 1914 op die Waterbury plaas naby Vryburg in hegtenis geneem. De Wet is 'n vonnis van ses jaar en 'n boete van 2 000 pond opgelê wat 'n baie ligte vonnis was. Na ses maande in die tronk is hy begenadig en vrygelaat.

Kort na sy vrylating het De Wet sy plaas, Allanvale, verkoop en naby Edenburg gaan woon. Daarna het hy vir die laaste maal na die plaas Klipfontein naby Dewetsdorp verhuis. De Wet is op 3 Februarie 1922 op sy plaas oorlede en langs President Steyn en Emily Hobhouse aan die voet van die Nasionale Vrouemonument begrawe.

In dié jaar het die beeldhouer Mendes da Costa in opdrag van die Nederlandse familie, Kröller-Möller, 'n groot standbeeld ter nagedagtenis aan hom in Nederland opgerig, wat nou in die nasionale park 'De Hoge Veluwe' staan. Tydens die herdenking van sy 100ste verjaarsdag is, in Suid-Afrika, 'n brons standbeeld deur Coert Steynberg van De Wet op 'n perd by die Raadsaal in Bloemfontein onthul. Daar is ook talle strate wat na De Wet vernoem is in Suid-Afrika. In Nederland dra in totaal 35 strate sy naam, in Vlaandere 1 (in Antwerpen).

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Christiaan de Wet (kategorie)

Verwysings[wysig]