Groot Stormsrivierbrug

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die Stormsrivierbrug omstreeks 1959 of '60, 'n jaar of wat nadat dit voltooi is.
Die N2 betonboogbrug oor die Stormsrivier

Die Groot Stormsrivierbrug (voorheen die Paul Sauer-brug genoem) is 'n brug in die Oos-Kaap, Suid-Afrika.

Geskiedenis[wysig]

Hierdie brug oor die Stormsrivier is in 1958 voltooi om 'n belangrike skakel in die N2 ('n nasionale pad) tussen George en Port Elizabeth te vorm. Dit is 'n geribde boogbrug van beton en lê na-aan die kus, met die gevolg dat dit in 'n klam en verwerende seeklimaat staande moet bly. Hierdie brug aan die oostelike kant van die Tuinroete is 190 m lank en oorspan die Stormsrivier op 'n hoogte van 130 m.

Ontwerp Ingenieur[wysig]

Die ontwerper van die brug was Riccardo Morandi (1902 – 1989). Hy was 'n Italiaanse siviele ingenieur van Rome, wat nie net bekend was vir sy brûe in Italië self nie, maar ook in byvoorbeeld Kanada en Colombia. Ook sy Stormsrivierbrug is al as 'n meesterwerk op die gebied van brug-argitektuur en siviele ingenieurswese beskryf.[1][2][verwysing benodig]

1990 Verbetering[wysig]

Met verloop van tyd het verhoogde motorverkeer dit nogtans noodsaaklik gemaak dat die brug verbreed en versterk moes word. Die ekstra konstruksiewerk is deur die konstruksiemaatskappy HBO Africa gedoen. Die maatskappy is met 'n paar pryse vir hierdie projek bekroon.[verwysing benodig]

Dit het 'n bekende plek in die land geword vir avontuurlustiges om hul rekspronge (Engels: bungee jumping) uit te voer.

Ander boogbrûe op die N2[wysig]

Daar is ook ander betonboogbrûe in Suid-Afrika, soos die Bloukransrivierbrug met 'n span van 272 m, die Van Stadensrivierbrug naby Port Elizabeth met 'n span van 198 m, die Grootrivierbrug van 189 m en die Bobbejaansrivierbrug van 165 m. Wes van Mosselbaai is 'n balkbrug, die Gouritsrivierbrug, wat 182 m lank is.

Daar is ook 'n hangbrug vir voetgangers aan die mond van die Stormsrivier wat die Stormsrivierbrug genoem word, maar dié is nie in dieselfde klas as die Groot Stormsrivierbrug en soortgelykes wat veel groter motorverkeer dra nie.

Sien ook[wysig]

Verwysings[wysig]