Hendrik Bernardus Thom

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Hendrik Bernardus Thom (1905 - 1983) was 'n bekroonde Afrikaanse skrywer en historikus. Hy het 'n belangrike rol gespeel in die kultuurlewe van die Afrikanervolk, en was die skrywer van 'n aantal belangrike historiese boeke.

Hy dien op die Argiefkommissie en tree op as voorsitter vanaf 1950 tot 1955. Hy was 'n lid van die Historiese Monumentekommissie, (later Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede), 1948 -1954; Van Riebeeck-Vereniging; Stigting Simon van der Stel; Stellenbosch Museum en voorsitter van sy Raad van Trustees, 1962 - 1968.

Vir 18 jaar lank was hy voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en was 'n gesogte spreker. Hy dien ook as administrateur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).

Biografie[wysig]

Prof. HB Thom

H.B. Thom is op 13 Desember 1905 in Jamestown, Oos-Kaap provinsie gebore, en het in Burgersdorp groot geword. Omdat hy die vyfde kleinseun van sy oupa en naamgenoot was met die voorname Hendrik Bernardus, het sy ouers besluit om hom op sy bynaam Quintus ("Vyfde") te noem om hom van sy neefs te onderskei; hy was sy hele lewe lank as Quintie Thom bekend.

Hy matrikuleer aan die Burgersdorp Hoërskool en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch (BA Geskiedenis en Afrikaans-Nederlands, cum laude, 1926 en MA Geskiedenis, cum laude, 1928). Hy sit sy studies in geskiedenis voort in Duitsland aan die Friedrich Wilhelms Universität in Berlyn (1928-1929), by die Sorbonne in Parys (1930) en in Amsterdam, waar hy navorsing doen vir sy doktorale tesis, wat hy voltooi na sy terugkeer na Stellenbosch. Die titel van sy doktorale tesis (Ph.D., 1930) was: Die geskiedenis van die skaapboerdery in Suid-Afrika.

Gedurende die volgende jaar word hy aangestel as Lektor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, en bevorder tot Senior Lektor in 1935. In 1937 word hy aangestel as professor van geskiedenis by dieselfde inrigting.

Van 1954 was H.B. Thom die Rektor van die Universiteit van Stellenbosch, tot sy aftrede in 1969. In 1983 is hy verkies tot Kanselier van die Universiteit, maar hy is oorlede aan die einde van dieselfde jaar nadat jy vir slegs nege maande as Kanselier van die universiteit gedien het. Die HB Thom teater van die universiteit is na hom vernoem.

H.B. Thom het tennis, hengel en fotografie as stokperdjies beoefen, en is in 1934 getroud met Maria du Toit, bekend as Ria; die huwelik was kinderloos.

Hy is op 4 November 1983 oorlede.

Toekennings[wysig]

  • SA Akademie vir Wetenskap en Kuns Toekenning vir Geskiedenis 1952
  • Buitengewone Eremedalje vir die bevordering van Afrikaanse letterkunde en kultuur 1959
  • Buitengewone eremedalje vir dienste gelewer aan universiteitsopvoeding 1969
  • D.F. Malan Medalje 1975
  • Akademie vir Wetenskape en Kuns toekenning (vir volksdiens) 1980
  • Doctor honoris causa van die Universiteit van Stellenbosch en UOVS (Universiteit van die Oranje-Vrystaat).

Erelidmaatskappe[wysig]

HB Thom ontvang erelidmaatskap van die volgende organisasies:

  • Nederlandse Koninklijke Akademie voor Wetenschappen, 1952
  • Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden
  • Linschoten Vereniging
  • Die Hakluyt Vereniging
  • Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1981
  • Suid-Afrikaanse Historiese Vereniging

Boeke uit sy pen[wysig]

  • Die Boodskap van 'n Honderd Jaar (Feesrede), 1947
  • Die Lewe van Gerrit Maritz, 1947 (Tweede uitgawe 1965)
  • Die Geloftekerk en ander Studies oor die Groot Trek, 1949
  • Jannie Marais, 1950
  • Daghregister van Jan Antonisz van Riebeeck, 1952 (vertaal deur HB en Maria Thom)
  • Die Nuwe Beeld van ons Weermag, (redakteur), 1963
  • Die Uitdaging van die Toekoms, (redakteur), 1965
  • Stellenbosch, 1866 - 1966 (medeskrywer), 1966
  • D.F. Malan, 1980 (onvolledig)
  • Lewer bydraes tot: Geskiedenis van Suid-Afrika (redakteurs: Van der Walt, Wiid en Geyer), Suid-Afrikaanse Bibliografiese Woordeboek en Argief-jaarboek.
  • Lid van die redaksiekomitee van die Nederlandse tydskrif Bijdragen voor de Geschiedenis der Nederlanden.

Verwysings[wysig]

  • Professor HB Thom (Redakteurs: DJ Kotzé, Bun Booyens, JJ Oosthuysen en GPJ Trumpelmann), Universiteit van Stellenbosch, 1969.