Hervormingsdag

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
'n Pamflet wat ter geleentheid van die eerste jaardag van Martin Luther se hervorming versprei is

Hervormingsdag (Duits: Reformationstag) is 'n kerklike feesdag wat deur Evangelies-Lutherse Christene in Duitsland op 31 Oktober ter herdenking van die kerkhervorming deur Martin Luther gevier word. Op 31 Oktober 1517 het Luther sy geloofsbelydenis in 95 stellings aan die deur van die slotkerk te Wittenberg vasgespyker.

In Switserland word die eerste Sondag in November as Hervormingsdag gevier. Ondanks dié land se gereformeerde belydenis het ook die Switserse Hervormingsdag die hervorming in Wittenberg as godsdienstig-geskiedkundige agtergrond.

Openbare vakansiedag[wysig]

Hervormingsdag is 'n openbare vakansiedag in die Duitse deelstate Brandenburg, Mecklenburg-Voorpommere, Sakse, Sakse-Anhalt en Thüringen. In Baden-Württemberg is dit 'n skoolvakansiedag, terwyl Evangelies-Lutherse leerders in Nedersakse aansoek om skoolverlof mag doen sodat hulle aan 'n kerkdiens kan deelneem. In ander deelstate met Evangelies-Lutherse bevolkings geniet Hervormingsdag 'n besondere wetlike status as "stille herdenkingsdag".

Buite Duitsland word Hervormingsdag in Slowenië en Chile as openbare vakansiedag gevier. Vir gereformeerde kerke in Switserland is die eerste Sondag in November (dus die eerste Sondag ná 31 Oktober) 'n godsdienstige feesdag. In Oostenryk, 'n land met 'n oorwegend Rooms-Katolieke bevolking, word Hervormingsdag nie amptelik gevier nie. Nogtans is dit 'n skoolvakansiedag vir Lutherse leerders, en ook Lutherse werknemers mag aan kerkdienste deelneem.