Hugo Naudé

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Hugo Pieter Naudé (distrik Worcester, 23 Julie 1868 - Worcester, 5 April 1938) was 'n Suid-Afrikaanse skilder.

Hy gaan studeer in die skilderkuns in Londen, München en Fontainebleau asook in Italië. Vanaf 1896 reis en skilder hy deur Suid-Afrika, waarna hy hom op Worcester vestig. Ná verdere reise trou hy in 1915 en rig dan finaal sy bekende ateljee op Worcester in. Hy het vroeg reeds erkenning gekry vir sy portrette, effens romantiese landskappe en sy fyn tekeninge en was op sy dag een van Suid-Afrika se gewildste skilders. Hy het hom van die destydse sektetaal en die gebruike van die kuns bevry en het van die akademiese tot 'n individueel-, vrye skilder- en tekenstyl ontwikkel. Met sy vryer gebruik van kleur en kwistige verfaanwending, het Naudé se werk later as 'n soort impressionisme ontwikkel. Sy geliefkoosde landskappe was blombestrooide valleie tussen berge, in 'n atmosfeer van voortdurende lente of somer.

Sy huis op Worcester het bewaar gebly as die Hugo Naudé-kunssentrum. Sy werke word in die meeste openbare kunsversamelings in Suid-Afrika gevind.

Bronne[wysig]

  • Swart, dr. M.J. (voorsitter redaksiekomitee). 1980. Afrikaanse kultuuralmanak. Aucklandpark: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge.