Ilja Repin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Ilja Repin
REPIN portret REPIN.jpg
Selfportret, 1878 (Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg).
Geboortenaam Ilja Jefimowitsj Repin
(Илья́ Ефи́мович Ре́пин)
Gebore 5 Augustus [O.S. 24 Julie] 1844
Tsjoegoejef, Rusland (nou in die Oekraïne)
Sterf 29 September 1930 (in die ouderdom van 86)
Kuokkala, Finland (nou in Rusland)
Nasionaliteit Russies
Veld Skilderkuns
Opleiding Keiserlike Kunsakademie
Beweging Realisme

Ilja Jefimowitsj Repin (Russies: Илья́ Ефи́мович Ре́пин; Oekraïens: Ілля Юхимович Рєпін); 5 Augustus [O.S. 24 Julie] 184429 September 1930) was ’n vooraanstaande Russiese skilder[1] en beeldhouer. ’n Groot deel van sy werk is gewy aan sy vaderland, Oekraïne.[2] Sy realistiese werke toon dikwels psigologiese diepte en spanning binne die bestaande maatskaplike orde.

Lewe en werk[wysig]

Bootslepers op die Wolga (1870-'73), Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg.

Repin is gebore in Tsjoegoejef, Rusland (nou in Oekraïne). Sy ouers was Russiese militêre setlaars. In 1866, nadat hy ikoon- en portretskildering bestudeer het, is hy na Sint Petersburg, waar hy tot die Keiserlike Kunsakademie toegelaat is. Van 1873 tot 1876 het op sy akademiese toelae in Italië gereis en in Parys, Frankryk, gewoon waar hy aan die Franse Impressionisme blootgestel is. Dit het ’n blywende invloed gehad op sy gebruik van lig en kleur. Sy styl was egter altyd nader aan die ou Europese meesters, veral Rembrandt, en hy het nooit self ’n Impressionis geword nie.

Repin het bekend geword deur sy skildery Bootslepers op die Wolga, waarin die lot van hierdie arme mense uitgebeeld is. Hy was deur sy hele loopbaan aangetrokke tot gewone mense soos hyself, en hy het dikwels plattelandse mense geskilder, hoewel hy later ook lede van die Russiese imperialistiese adel, die intelligentsia en die aristokrasie geskilder het, onder wie tsaar Nikolaas II.

Historiese en eietydse onderwerpe[wysig]

Kort voor die sluipmoord op tsaar Aleksander II in 1881 het hy ’n reeks skilderye geskilder met die rewolusionêre beweging as tema. In 1885 het Repin een van sy psigologies mees intense skilderye voltooi: Iwan die Verskriklike en Sy Seun. Dit beeld ’n geskokte Iwan uit wat sy sterwende seun omhels nadat hy hom in ’n woedebui doodgeslaan het. In teenstelling met hom is sy seun kalm, amper Christus-agtig.

Een van Repin se mees komplekse skilderye, Antwoord van die Zaporozjiese Kossakke, het baie jare van sy lewe in beslag geneem. Hy wou dit skilder as ’n studie in lag, maar het ook geglo dit betrek die ideale van vryheid, gelykheid en broederskap; dus Kossak-republikanisme. Hy het dit in die laat-1870's begin en in 1891 voltooi. Ironies is dit dadelik gekoop deur die tsaar, wat 35 000 roebel daarvoor betaal het – ’n buitensporige bedrag vir dié tyd.

In sy latere jare het Repin baie van sy beroemde tydgenote geskilder, soos die skrywer Leo Tolstoi, die wetenskaplike Dmitri Mendelejef en die komponis Modest Moessorgski.

Latere lewe[wysig]

Repin het self sy huis net noord van Sint Petersburg in Kuokkale, in die Groothertogdom van Finland, ontwerp. Ná die Oktober-rewolusie het Finland homself onafhanklik verklaar. Repin is deur verskeie Russiese instellings genooi om na sy vaderland terug te keer, maar hy het dit van die hand gewys met die verskoning dat hy te oud was om so ver te reis. Hy het in dié tyd godsdienstige onderwerpe geskilder, hoewel sy behandeling daarvan gewoonlik innoverend eerder as tradisioneel was. Met die uitsondering van ’n portret van die hoof van die Russiese Voorlopige Regering, Aleksander Kerenski, het hy nooit iets beduidends geskilder wat met die Russiese Rewolusie of die Sowjetunie te doen gehad het nie.

Repin is in 1930 in Kuokkala, Finland, dood. Kuokkala is later aan die Sowjetunie afgestaan en is hernoem tot Repino (Leningrad-oblast).

Galery[wysig]

Verwysings[wysig]

Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel [1]
  1. Ilya Yefimovich Repin - Britannica Online Encyclopedia
  2. V Marcadé - Art d'Ukraine, edition l'Age de l'Homme, 1990 Lausanne, Switserland, pg. 151 - 163

Verdere leesstof[wysig]

  • Parker, Fan; Stephen Jan Parker (1980). Russia on Canvas: Ilya Repin. Pennsylvania State University Press. ISBN 0271002522.  Herhaal die standaard-Sowjet-interpretasie van Repin se werk en lewe.
  • Sternin, Grigory (1985). Ilya Repin: Painting Graphic Arts. Leningrad: Auroras.  Standaard- Sowjet-interpretasie, maar goed geïllustreer.
  • Valkenier, Elizabeth Kridl (1990). Ilya Repin and the World of Russian Art. New York: Columbia University Press. ISBN 0231069642.  Kritiese nie-Sowjet-interpretasie met vars inligting, maar hoofsaaklik vir akademici.
  • Marcadé, Valentine (1990). Art d'Ukraine. Lausanne: L'Age d'Homme. ISBN 978-2825100318. 
  • Jackson, David, The Russian Vision: The Art of Ilya Repin (Schoten, België, 2006?).

Eksterne skakels[wysig]

Commons
Wikimedia Commons het meer media verwant aan: