Joodse Museum in Berlyn

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die Joodse Museum in Berlyn

Die Joodse Museum in Berlyn, wat in 1999 ingewy is, behandel 2 000 jaar se Duits-Joodse geskiedenis en die wisselvallige betrekkinge tussen Jode en Nie-Jode in Duitsland. Die museum huisves 'n permanente asook verskillende wisselende uitstallings, 'n omvattende argief, die Rafael Roth Learning Center en 'n aantal navorsingsinstellings. Die verskeie afdelings dokumenteer almal Joodse kultuur en Joods-Duitse geskiedenis.

Die museum-kompleks in die Berlynse stadswyk Kreuzberg behels 'n historiese gebou in die barok-styl en 'n nuwe gebou met 'n kenmerkende kronkelende vorm, wat deur die Amerikaanse argitek Daniel Libeskind ontwerp is en 'n gebarste Dawidster simboliseer.

Die museum word deur 'n federale Duitse stigting onder die leiding van W. Michael Blumenthal beheer en was in 2005 met 690 000 besoekers een van die mees besoekte museums in Berlyn.