Kameel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Kameel
'n Dromedaris, Camelus dromedarius
'n Baktriese kameel, Camelus bactrianus
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk: Animalia
Filum: Chordata
Klas: Mammalia
Orde: Artiodactyla
Familie: Camelidae
Genus: Camelus
Linnaeus, 1758
Spesies

Camelus bactrianus
Camelus dromedarius
Camelus gigas (fossiel)
Camelus hesternus (fossiel)
Camelus sivalensis (fossiel)

Die kameel is een van twee spesies groot, gelyktonige hoefdiere in die genus Camelus, naamlik die Dromedaris met sy enkele boggel en die Baktriese kameel met die dubbele boggel. Albei is inheems aan die droë en woestyngebiede van Asië en Noord-Afrika. Die naam kameel is afgelei via die Grieks, kamelos van die Hebreeus, gamal vir "kameel".

Die term kameel word in die breër sin gebruik om enige van die ses kameelagtige diersoorte in die familie Camelidae te beskryf; die twee ware kamele, asook die vier Suid-Amerikaanse kameelagtiges, naamlik die llama, alpakka, guanaco en vikoenja. Vir 'n oorsig oor die familie, sien Kameelagtiges.

Kamele is baie bekend vir hulle boggels. Daar word nie water in geberg soos algemeen geglo is nie, maar die boggels dien as 'n opgaarplek vir vetweefsel, terwyl water in die bloed opgeberg word. Dit stel kamele in staat om baie dae sonder kos of water te oorleef.

Die mens het die kameel etlike duisende jare gelede al mak gemaak. Die Dromedaris en die Baktriese Kameel word steeds gebruik vir melk, vleis en as lasdier; die Dromedaris in Noord-Afrika en Wes-Asië, die Baktriese Kameel verder na die noorde en ooste van Sentraal-Asië.

Hoewel daar vandag omtrent 13 miljoen Drommedarisse bestaan, is die spesie in die natuur feitlik uitgewis; almal behalwe 'n handjievol is makgemaakte diere (hoofsaaklik in Soedan, Somalië, Indië en nabygeleë lande), asook Suid-Afrika, Namibië en Botswana. Daar is egter 'n groot groep van omtrent 700 000 wilde kamele in Sentraal-Australië wat afstam van enkele kamele wat uit aanhouding ontsnap het gedurende die laat 19de eeu. Hierdie populasie groei teen nagenoeg 11% per jaar en onlangs het die Suid-Australiese regering besluit om die diere uit te dun deur gebruik te maak van skerpskutters in vliegtuie omdat die kamele te veel van die skaapboere se beperkte weiding gebruik.

Die Baktriese Kameel was voorheen baie volop, maar tans is daar sowat 1,4 miljoen diere, meestal mak. Daar word beweer dat daar ongeveer 1 000 wilde Baktriese Kamele in die Gobi-woestyn, asook klein getalle in Iran, Afganistan, Turkye en Rusland is.

'n Klein populasie ingevoerde Dromedarisse en Baktriese Kamele het tot vroeg in die 20ste eeu in die suid-weste van die Verenigde State oorleef. Hierdie diere, wat van Turkye ingevoer is, was deel van 'n proefneming van die "US Camel Corps" en is gebruik as trekdiere in myne, en hulle het ontsnap of is vrygelaat nadat die projek deur die mat geval het.

Eksterne skakel[wysig]

Aantekeninge[wysig]

Vertaal van die ooreenstemmende artikel in die Engelse Wikipedia