Knoffel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Knoffel
Knoffelplant, geskets deur William Woodville, Medical Botany, 1793.
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk: Plantae
Divisie: Angiosperms
Klas: Monocotyledon
Orde: Asparagales
Familie: Amaryllidaceae
Genus: Allium
Spesie: A. sativum
Binomiale naam
Allium sativum
L.

Knoffel (Allium sativum), word as spesery gebruik en is die tweede mees verboude spesie van die genus Allium. Hierdie genus bevat ook verskeie ander spesies wat as uie bekend staan en verbou word as voedsel, soos die bruinui (A. cepa), sjalotte, preie, die Japanese tros-ui (A. fistulosum), Egiptiese ui (A. ×proliferum), en die Kanadese ui (A. canadense).

Beskrywing van plant[wysig]

Die knoffelplant groei tot 'n hoogte van 1.2 m en bestaan uit 'n waaier van hol, blou-groen blare. Die blare is vleesagtig, hol en silindries gevorm, met 'n afgeplatte kant. Dit produseer hermafrodiete blomme. Bestuiwing vind plaas met die hulp van bye en ander insekte. Wanneer knoffel ryp word, versamel voedingreserwes in die blaarbasisse en die bol swel uit.

As die bol deur die winter in die grond gelaat word, ontwikkel 'n nuwe groeipunt uit die middel van die bol in die lente. Nuwe blare verskyn en 'n lang, hol stammetjie skiet boontoe om die wit blomhofies wat vorm, te dra. Die sade is 'n blink swart kleur en driehoekig in dwarssnit.

Verbouing[wysig]

Die knoffelplant is eintlik 'n twee- of meerjarige plant, maar word algemeen ge-oes na die eerste jaar van verbouing.

Die knoffelplant se bol aan die basis van die plant begin te swel wanneer 'n sekere dag-lengte bereik word. In die herfs sterf die blaardele af en die buitenste lae van die bol word droog en bros. Die oes word gepluk en gedroog, waarna die knoffel gereed is vir gebruik of om te stoor.

Die oes is vatbaar vir aanvalle deur peste, siektes en verskeie fungi wat verrotting veroorsaak.

Gebruike[wysig]

Knoffel word wêreldwyd gekweek, verbou en verbruik. Gewoonlik word knoffel gebraai in kos, as 'n geurmiddel, of as bestanddeel van 'n gereg. Daarbenewens kan dit ook ingelê word in bottels bedek met olie. Knoffel het 'n skerp reuk wanneer dit gekap of gerasper word.

Daar word geglo dat die verbruik van knoffel sekere gesondheidsvoordele inhou, bv. anti-inflammatoriese, anticholesterol-, kankerbestrydende en antioksidant-eienskappe.

Ekonomies[wysig]

Top Tien Knoffelprodusente — 2010 (metrieke ton)
Wêreldwyd 17 674 893
Vlag van Volksrepubliek van Sjina Sjina 13 664 069
Vlag van Indië Indië 833 970
Vlag van Suid-Korea Suid-Korea 271 560
Vlag van Egipte Egipte 244 626
Vlag van Rusland Rusland 213 480
Vlag van Mianmar Mianmar 185 900
Vlag van Ethiopië Ethiopië 180 300
Vlag van Verenigde State VSA 169 510
Vlag van Bangladesj Bangladesj 164 392
Vlag van Oekraïne Oekraïne 157 400

Galery[wysig]

Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.