Laerskool Simon van der Stel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Laerskool Simon van der Stel
Simon van der Stel wapen.jpg
Leuse Waarheid wen
Gestig Augustus 1928
Tipe Staatskool
Hoof E.L. Käsner
Leerlinge 210 (van wie 25 voorskools)
Grade pre-gr.R - gr.7
Adres Waterloo Green, Wynberg
Stad Kaapstad
Provinsie Wes-Kaap
Land Suid-Afrika
Kleure          
Webblad http://www.laerskoolsvds.com
LS SvdS.jpg
Die skool se leerders en onderwysers in November 2010.

Die Laerskool Simon van der Stel in Wynberg is die enigste oorblywende Afrikaansmediumskool in die suidelike voorstede van Kaapstad (naas Laerskool Paul Greyling in Vishoek).

Leerdertalle[wysig]

Die skool het aan die begin van 2014 210 leerders gehad van wie 25 in die twee voorgraadse klasse was. Die gemiddeld per klas in gr. 1 tot gr. 7 was amper 26,5. Gr. 1 was die kleinste klas met 23 leerders en gr. 5 die grootste met 35. Dié getalle het goed vergelyk met 2010, toe die skool 183 leerders van gr. 1 tot gr. 7 en 19 in die twee voorskoolse grade gehad het. Aan die einde van daardie jaar het die skool meer as 40 gr. 7's afgestaan, die laaste keer dat 'n graad uit twee klasse bestaan het. Die 2010-gr. 7-klas buite rekening gelaat, was daar tot 2012 'n toename van gemiddeld een leerder per graad, sodat die skool aan die begin van 2012 171 leerders van gr. 1 tot gr. 7 gehad het en 198 met die voorskoolse klasse ingereken. In 2013 het die getal leerders verder toegeneem tot 188 in die graadklasse en 32 in die voorskoolse klasse, altesaam 10 meer as in 2014.

Ontstaan[wysig]

Die toekomstige eerste skoolhoof, mnr. J.D. Fick, en 10 ouers het die skool in Augustus 1928 gestig. Hulle besluit die eerste leerders sou van Januarie 1930 in die beplande Afrikaansmedium-skool in Wynberg opgeneem word. As eerste huisvesting vir die skool, is die Masonic-saal in Pierweg en die saal van die NG gemeente Wynberg, wat in 1930 reeds 101 jaar oud was, gehuur.

Twee onderwyseresse het mnr. Fick bygestaan toe die skool in Januarie 1930 met 90 leerders begin. Dit was vier jaar voor Laerskool Nassau in Observatory en ses jaar voor Laerskool Groote Schuur in Rondebosch. Omdat goewerneur Simon van der Stel se plaas Constantia naby aan Wynberg geleë is, stel die eerste komiteevergadering op die gepaste naam, Simon van der Stel, voor. Die naam is goedgekeur en op 4 Junie 1930 bevestig. Vandag nog herdenk die skool jaarliks Van der Stel se geboortedag op 14 Oktober met 'n muntlegging ten bate van Die Burger se Kersfonds.

Huidige perseel[wysig]

Die eerste skoolkomitee moes 'n geskikte perseel vir die skoolgebou kry. Hulle stel die onderwysdepartement in kennis dat Waterloo Green, wat aan die verdedigingsmag behoort het, moontlik in die mark sou kom. Die departement koop die grond aan die einde van 1931 vir R2 500. 'n Groot sinkhuis, "Waterloo Hut", wat destyds die woonhuis van kol. Wakefield was en reeds tydens die Anglo-Boereoorlog opgerig is, is so verander dat sewe klasse aan die begin van 1932 daar kon intrek.

Na vele onderhandelinge is in 1933 besluit om 'n nuwe skoolgebou op te rig teen £700. Dit het bestaan uit ses klaskamers, 'n houtwerkkamer, pakkamer, kantoor en afsonderlike kleedkamers vir seuns en meisies. Die seuns en meisies het afsonderlike ingange gekry en dit is in reliëf aangeteken - "Jongetjies" en "Meisies".

In 1948 is op die leuse – "Waarheid Wen" – besluit en die wapen ontwerp. Ná 'n strategiese beplanningsessie omstreeks 2005 om sy voortbestaan as Afrikaansmedium-skool te verseker, het die skool ook op die slagspreuk "Waar elke kind belangrik is" besluit.

In 2010 het die skool sy tagtigjarige bestaan met 'n verskeidenheidskonsert (in September) en 'n reünie (in November) gevier.

Toekoms[wysig]

Onder leiding van mnr. Eugene Käsner, wat sedert 1997 aan die hoof van die personeel van sowat tien staan, het die beheerliggaam en onderwysers se vasberadenheid toegeneem om as eentalige Afrikaanse skool voort te bestaan. Met ingang 2011 was Simon van der Stel dan ook die enigste voormalige Model C-skool tussen Pinelands in die noorde en Muizenberg in die suide wat 'n Afrikaanse gr. 1-klas het, ná die Afrikaanse leerders in Zwaanswyk Akademie se grondslagfase tot net 16 gedaal het en dié skool in 2010 besluit het om Afrikaans met ingang 2011 in die eerste drie grade af te skaf. Laerskool Groote Schuur het Afrikaanse onderrig reeds in 2009 in alle grade beëindig. Sowat 60 oudleerders van Simon van der Stel haal elke skooldag om 07:00 'n bus Tamboerskloof toe waar hulle hul skoolloopbaan aan die Hoërskool Jan van Riebeeck voortsit omdat die laerskool reeds sedert omstreeks 2005 nie meer as voederskool vir die Hoërskool Voortrekker, wat parallelmediumonderrig ingevoer het, dien nie.

Sien ook[wysig]

Mnr. Eugene Käsner, skoolhoof sedert 1997.

Bron[wysig]

Eksterne skakel[wysig]

Verwysings[wysig]