Livingstone-Stanley-denkmaal

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die klipmerker by Moegere, suid van Bujumbura
'n Inskrif kan net-net uitgemaak word

Die Livingstone–Stanley-denkmaal by Moegere in Burundi is 12 km suid van die hoofstad Bujumbura geleë, en kyk uit oor die Tanganjika-meer. Dit merk die ligging van 'n besoek deur die ontdekkingsreisiger en sendeling Dr. David Livingstone en die joernalis en ontdekkingsreisiger Henry Morton Stanley, wat twee nagte naamlik tussen 25–27 November 1871 hier deurgebring het. In Frans word daarna verwys as La Pierre de Livingstone et Stanley. Sekere Burundiane beweer hierdie ligging is die plek waar die beroemde eerste ontmoeting tussen Livingstone en Stanley plaasgevind het, waarby die laasgenoemde die bekende woorde geuiter het: "Dr. Livingstone, neem ek aan?".

Daardie ontmoeting het egter plaasgevind in Oedjidji in Tanzanië op 10 November 1871 soos duidelik uitgewys in Stanley se boek, "How I Found Livingstone".[1] David Livingstone se joernaal bevestig ook Oedjidji as die ligging, met 'n inskrywing die dag voor die ontmoeting, wat lees "Vertrek met dagbreek en gaan na Oedjidji", 'n dorp wat aan hom welbekend was. Livingstone gee dan besonderhede van ontmoetings met verskeie Arabierinwoners van Oedjijdi, insluitend van een wat veronderstel was om sy goedere van 'n vorige besoek te stoor, voordat hy Stanley se besoek aanhaal.[2]

Uit hulle geskrifte wil dit blyk dat die besoek aan Moegere die een van 25–27 November is, wat deur Livingstone en Stanley beskryf word as een van die mees gasvrye wat hulle geniet het. Die uitgekerfde datum, 25 November 1871, is op die rots waarneembaar. Hulle het in Oedjidji gerus vir ses dae, en toe per kano vertrek langs die noordoostelike meeroewer, op soek na riviere wat moontlik uit die Tanganjikameer kon vloei. By die Moegererivier het hulle die stat van hoofman Moekamba teëgekom, wat hulle verwelkom het en hulle 'n hut aangebied het om in te rus. Hulle het twee nagte oorgebly, en Stanley teken aan dat Livingstone se bediende Soesi weens die hoofman se gasvryheid baie dronk geword het.[1] As die eerste Europeërs om die area te besoek, was hulle aankoms heuglik en sou die gebeurtenis by 'n sekere latere geleëntheid deur sekere mense verwar word met die eerste ontmoeting tussen Livingstone en Stanley. Op 'n aantal webblaaie kan die foutiewe aanduiding aangetref word.

Sien ook[wysig]

Verwysings[wysig]

  1. 1,0 1,1 Henry M. Stanley: How I Found Livingstone op die Projek Gutenberg webblad, besoek op 13 April 2007.
  2. David Livingstone & Horace Waller (red.): The Last Journals of David Livingstone in Central Africa from 1865 to his Death. In twee bande. John Murray, London, 1874. (Let daarop dat na verskeie jare sonder kontak met Europeërs, Livingstone se dagboek met 18 dae van die Europese kalender verskil het, weens die vele dae wat hy in koorsbeswymings verkeer het, en aangesien sy bediendes nie 'n kalender gehou het nie. Tot hy deur Stanley gekorrigeer is, was hy van mening dat die datum van die ontmoeting 24 Oktober was.)