Mosambiekeiland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Mosambiekeiland
Ilha de Moçambique
Uitsig oor Mosambiekeiland
Uitsig oor Mosambiekeiland
Ligging van Mosambiekeiland op 'n kaart (Mosambiek)
Mosambiekeiland
Mosambiekeiland
Koördinate: 15°02′18″S 40°44′01″O Koördinate: 15°02′18″S 40°44′01″O
Land Vlag van Mosambiek Mosambiek
Provinsie Nampula
Oppervlak
 - Stad 1,5 km²  (0,6 vk m)
Bevolking (2005)
 - Stad 54 315
 - Digtheid 36,210/km² (93,8/vk m)
Tydsone SAT (UTC+2)

Mosambiekeiland (Portugees: Ilha de Moçambique) is 'n eiland en stad in Mosambiek met 54 315 inwoners (2005), wat deel uitmaak van die provinsie Nampula. Mosambiekeiland, wat sy naam ook aan die voormalige Portugese kolonie en huidige onafhanklike republiek in die suid-ooste van Afrika verleen het, is danksy sy historiese geboue deur die UNESCO in 1991 tot wêrelderfenisgebied verklaar.

Geografie[wysig]

Die smal eiland met 'n oppervlak van 1,5 vierkante kilometer het sy ontstaan aan 'n koraalrif te danke. Mosambiekeiland lê enkele kilometer van die vasteland af oorkant 'n seestraat. 'n Brug met 'n lengte van drie kilometer, wat net vir motors, maar nie busse of vragmotors geskik is nie, verbind die eiland sedert 1960 met die hawestad Lumbo.

Geskiedenis[wysig]

'n Kerk op Mosambiekeiland
Fort São Sebastião

Mosambiek het al vroeg 'n belangrike rol vir Islamitiese handelaars uit Zanzibar gespeel, en hulle handelsbetrekkinge het tot by Asië gestrek.

Die Portugese seevaarder en ontdekkingsreisiger Vasco da Gama was in 1498 die eerste Europeër, wat die eiland se sjeik, Moussa Ben Mbiki, ontmoet het. Die sjeik het ook die naamgewer vir die eiland geword. In 1506 het die Portugese Tristão da Cunha en Alfonso d' Albuquerque die eilandstad beset.

Alfonso d' Albuquerque het in 1508 die fort São Sebastião op die mees noordelike punt van die eiland teen aansienlike koste opgerig; vir die fort is genommerde stene uit Europa ingevoer. In 1607 en 1608 het die eiland Nederlandse aanvalle weerstaan.

Danksy die florerende slawehandel en sy gunstige geografiese ligging ontwikkel die stad tot een van die grootste en belangrikste hawens in Mosambiek. Ook goud en speserye is van hier uitgevoer. Met die opening van die Suezkanaal begin die ekonomiese agteruitgang van die eiland. Mosambiekeiland het tot by die jaar 1898 as die hoofstad van Mosambiek gedien; die setel van die koloniale regering is daarna verskuif na Lourenço Marques (die huidige Maputo) in die suide van die land.

Tot by die einde van die 19de eeu was die stad, wat ook as 'n belangrike sentrum vir Christelike sendelinge gedien het, die setel van die goewerneur-generaal en van 'n biskop. Sy pragtige historiese geboue sluit die goewerneurspaleis, die katedraal, 'n doeanekantoor, 'n tuighuis en die stylvolle kantore van Franse, Switserse en Duitse handelshuise in.

Die stad se bevolking het uit sowat 150 Europeërs (meestal Portugese), enkele honderd Baniane (wat die handel met Indië oorheers het), 'n aantal Sjinese en Arabiere en tussen 4 000 en 5 000 Makoea bestaan. Mosambiekeiland het sedert die einde van die 19de eeu en weens die gevolge van die Mosambiekse burgeroorlog toenemend verval.

Bevolking[wysig]

Tans is oorbevolking een van die grootste probleme van die eilandstad: Daar is een inwoner per 27,6 vierkante meter. Die oorgrote meerderheid van die bevolking woon in die riethuise van Makutistad in die suide van die eiland.

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Mosambiekeiland (kategorie)