Ossewabrandwag

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Wapen van die Ossewabrandwag

Die Ossewabrandwag (afgekort as OB) was 'n nasionalistiese Afrikaner-organisasie in Suid-Afrika wat in die konsistorie van die Tweetoringkerk in Bloemfontein op 4 Februarie 1939 gestig is[1] met dr. J.F.J. (Hans) van Rensburg aan die stuur daarvan. Dit is gestig met die doel om groeiende Afrikaner nasionalisme te verteenwoordig wat versterk is deur die simboliese Trek van 1938 ter eeufeesviering van die Groot Trek.[2] Die OB het noue bande gehad met dr. D.F. Malan se Herenigde Nasionale Party en die Afrikaner Broederbond en het spoedig ontwikkel van 'n kulturele organisasie na 'n hoogs gemotiveerde politieke stem. Teen 1941 het die organisasie reeds ongeveer 350 000 lede gehad.[2]

Die Ossewabrandwag het Suid-Afrikaanse deelname aan die Tweede Wêreldoorlog aan die kant van die Verenigde Koninkryk teengestaan weens die Boere se stryd teen die einste Britte in die Eerste- (1880-1881) en Tweede Vryheidsoorloë (1899-1902). Die OB was ook van mening dat die Duitser nie die vyand van die Afrikaner is nie.[1] 'n Meer aktiewe groep nl. die Stormjaers is as integrale deel van die OB gestig en is gemodelleer op die Sturmabteilung (Stormafdeling) van die Nazi's. Dit was die Stormjaers wat verantwoordelik was vir dade soos onder meer die knip van telefoondrade en ander dade van sabotasie. Hierdie soort van optrede het veroorsaak dat baie Suid-Afrikaanse soldate teruggehou moes word om stabiliteit in Suid-Afrika te verseker.[1][3] Die militaristiese standpunt van die OB was duidelik van die eed wat kadette moes aflê voordat hulle volwaardige stormtroepe geword het: "As ek omdraai, skiet my. As ek val, wreek my. As ek storm, volg my."

Baie lede van die OB is deur die loop van die Tweede Wêreldoorlog geïnterneer nadat dade van sabotasie gepleeg is om te verhoed dat Suid-Afrika aan die kant van Brittanje moes veg. In die interneringskamp te Koffiefontein het die Eerste Minister en President, John Vorster, bevriend geraak met generaal Hendrik van den Berg, latere hoof van die Buro vir Staatsveiligheid.

In September 1942 is die OB deur generaal Jan Smuts verbied en het die organisasie ondergronds gegaan. Daar is geen aanduiding beskikbaar dat die OB formeel ontbind het nie, maar voor 1960 het die organisasie reeds ophou bestaan as 'n samehangende organisasie.

Verwysings[wysig]

  1. 1,0 1,1 1,2 Die Ossewabrandwag”. (html) URL besoek op 28 April 2010.
  2. 2,0 2,1 Ossewabrandwag”. (html) URL besoek op 28 April 2010.
  3. Williams, Basil (1946). “10 - Smuts and the War in Africa”, Botha Smuts And South Africa. Hodder And Stoughton Limited London, 161 (n178). Besoek op 29 Julie 2009. 

Eksterne skakels[wysig]

  • Forum van die herleefde Ossewabrandwag