Plakkie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
'n paar plakkies met voetbrugbande
'n paar plakkies met Y-bandjies

Plakkies is skoene wat 'n mens maklik kan aan- en uittrek. Dit bestaan uit 'n sool van redelik stewige materiaal wat aan die voet bly deur een of meer Y-bandjies van sagte materiaal wat deur die tone vasgehou word. 'n Plakkie kan ook aan die voet gehou word deur 'n enkele voetbrugband vooraan die skoen.

Hierdie tipe skoeisel is deur verskillende kulture van regoor die wêreld gedra en vind sy oorsprong terug by Antieke Egipte in 4 000 v.C. Die moderne plakkie is afkomstig van die Japannese zōri, wat gewild geword het ná die Tweede Wêreldoorlog toe soldate na die Verenigde State met hierdie skoene teruggekeer het. Dit het veral gewild geword as slenterdrag in 1960's, 1990's en 2000's. Ten spyte van kritiek, het sommige soorte ook in formeler drag byval gevind.

Plakkies is ideaal om oor warm sand te loop tydens 'n strandvakansie, maar bemoeilik wandelings oor ruwer terrein. Plakkies word ook gereeld by swembaddens en sauna's opgemerk. Plastiekplakkies word ook dikwels gebruik op die strand om daarmee in die see te loop. Dit voorkom snywonde van die voetsool deur klippe onder water. Hierdie skoene kan ook beserings tot gevolg hê. Indiwidue wat lank geloop het kla van voet-, enkel- en onderbeenpyn. Behalwe die weinige ondersteuning vir die voet, sak die voete onnatuurlik inwaarts tydens wandelings, wat beserings aan ooreising kan meebring. Dit kan ook lei tot platvoete en peesontsteking. Omrede die plakkie 'n oop skoen is, kan tone stukkend gestamp word, snye en kneusplekke opdoen. Dit kan ook tot enkelverstuitings en gebreekte bene aanleiding gee.