Poensjak Djaia

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Poensjak Djaia
Puncakjaya.jpg
Die piek van Poensjak Djaia in Nieu-Guinee
Ligging: Nieu-Guinee, Indonesië
Hoogte: 4 884 meter
Reeks: Soedirmangebergte
Koördinate: 04°05′24.6″S 137°11′06″O
Tipe: Bergkam
Datum van eerste bestyging: 13 Februarie 1962
Eerste bestyger(s): Heinrich Harrer
  Philip Temple
  Russel Kippax
  Albert Huizenga
Maklikste roete: Bergklim

Poensjak Djaia (of Carstenszpiramide) is 'n berg in die Soedirmangebergte in die wes-sentrale hooglande van Papoea-provinsie, Indonesië (in die Poensjak Djaia-regentskap). Ander name sluit in Nemangkawhi in die Amoengkal-taal, Ngga Poeloe en Goenoeng Soekarno.[1]

Kaart wat die Poensjak Djaia vertoon

Met 'n hoogte van 4 884 m bo seevlak is Poensjak Djaia die hoogste berg in Indonesië, die hoogste op die eiland Nieu-Guinee (wat die Indonesiese Papoea-provinsies en Papoea-Nieu-Guinee omvat), die hoogste van Oseanië (Australië), en die 5de hoogste berg in die politiese streek Suidoos-Asië. Dit is ook die hoogste punt tussen die Himalajas en die Andes, en die hoogste eilandpiek ter wêreld. Sekere bronne gee Wilhelmberg van 4 509 m aan as die hoogste bergpiek in Oseanië, deurdat Indonesië as deel van Asië beskou word (Suidoos-Asië).[2]

Geskiedenis[wysig]

Die hooglande om die piek was reeds voor Europese kontak bewoonde gebied, en die piek was in Amoengkal bekend as Nemangkawhi. Poensjak Djaia is "Carstenszpiramide" genoem na die Nederlandse ontdekkingsreisiger Jan Carstensz wat op 'n helder dag in 1623 die bergpiek se gletsers vir die eerste keer opgemerk het.[3] Die waarneming sou vir meer as twee eeue onbevestig bly, en in Europa is met Carstensz gekorswil oor die sneeu wat hy by die ewenaar sou gesien het. Hierdie naam word steeds deur bergklimmers gebesig.[4] Alhoewel die sneeuveld om Poensjak Djaia so vroeg as 1909 deur die Nederlandse ontdekkingsreisiger, Hendrik Albert Lorentz betree is met ses van sy inheemse Dajak Kenjah portiers wat hy by die Apo Kajan in Borneo gewerf het.[5] Die piek is nie voor 1962 bestyg nie, en wel deur 'n ekspedisie gelei deur die Oostenrykse bergklimmer Heinrich Harrer (van Sewe Jaar in Tibet-faam, en klimmer van die Eiger se noordaansig) met drie ander ekspedisielede — Philip Temple, Russell Kippax en Bert Huizenga. Temple, van Nieu-Seeland, het voorheen 'n ekspedisie na die area gelei, en 'n toegangsroete na die berge gebaan.

Toe Indonesië in die 1960's beheer van die provinsie verkry, is die piek hernoem na 'Poensjak Soekarno' of Soekarno-piek, na die eerste president van Indonesië; later is dit verander na Poensjak Djaia, waar Poensjak 'piek' of 'berg' beteken, en Djaia 'oorwinning', 'seëvierend' of 'glorieryk'.

Verwysings[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Poensjak Djaia (kategorie)
  1. Groot Atlas van die Wêreld, Mladinska knjiga, Ljubljana, Slovenië, 1986.
  2. Statistiekjaarboek van Kroasië, 2007
  3. Neill, Wilfred T. (1973). Twentieth-Century Indonesia. Columbia University Press. ISBN 978-0-231-08316-4. 
  4. (2009) Die Trying: One Man's Quest to Conquer the Seven Summits. American Management Association. ISBN 978-0-8144-1084-4. 
  5. Lorentz, H.A., 1910. Zwarte Menschen - Witte Bergen: Verhaal van den Tocht naar het Sneeuwgebergte van Nieuw-Guinea, Leiden: EJ. Brill.