Radio Pretoria

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Radio Pretoria is 'n Pretoriase radiostasie.

Gedurende September 1993 is Radio Pretoria gestig en ontvang sy uitsaailisensie wat slegs vir drie dae geldig sou wees. Die radio is deur die hoofstroommedia beskryf as ’n "regse" radiostasie. Sommige oud-omroepers van die SAUK het hulle gewig ingegooi en het die radio se stryd om voortbestaan begin.

In 1995 ontvang die Radio sy eerste eenjaarlisensie, wat die daaropvolgende twee jaar hernu is. In 1999 word Radio Pretoria se eerste aansoek om ’n vierjaarlisensie afgekeur en moes die stasie talle hofsake begin om sy uitsaairegte te beskerm. Meer as agt jaar lank sou hierdie stryd duur om uiteindelik in 2007 gewen te word in die Bloemfonteinse Appèlhof waar vyf regters eenparig beslis het dat die redes vir afkeuring, verwerp word.

Die hof beslis dat die aansoek hersien word, dat die Uitsaaiowerheid die hofkoste moes betaal en dat al die redes vir die afkeuring van die aansoek ongegrond is.

Radio Pretoria het, te midde van hierdie lang uitgerekte stryd in die howe wat etlike miljoene rand beloop het, tog daarin geslaag om intussen te groei en die standaard van sy uitsendings en programme tot ’n besondere hoë peil te bring. Van die mees bekende omroepers het hulle dienste gratis aangebied in daardie eerste jare van sy bestaan.

Vandag is Radio Pretoria stewig gevestig as ’n gemeenskapsradio wat sy stem laat hoor oor die hele wêreld deur middel van internet-uitsendings. In Suid-Afrika beskik die Radio oor ’n aantal uitsaai-torings wat die grootste deel van die ou Transvaalse gebied bedien en duisende luisteraars word bereik deur middel van satellietskottel ontvangs.

Aan die einde van 2008 het die Radio reeds meer as veertig permanente personeel in diens gehad, terwyl sowat vyftig medewerkers hul dienste gratis aanbied.

Die Radio gebruik Standaardafrikaans as voertaal, bied ’n groot verskeidenheid programme aan wat reeds alom bekend geword het. Op 16 Desember 2008 het meer as 82 000 mense in die buiteland ingeskakel op die Geloftedag-uitsendings van Radio Pretoria.

Die Radio is trots daarop dat hy Afrikaners regoor die wêreld kan bereik deur middel van die moderne tegnologie. In die jare wat voor lê sal gepoog word om die steeds groeiende gevoel van samehorigheid van volksgenote verder te versterk.

Radio Pretoria bly dus trots Afrikaans – is dankbaar dat die dra van die Christelike boodskap deel is van sy selfopgelegde roeping.