Riaan Cruywagen

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Riaan Cruywagen
’n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Riaan Cruywagen lees die nuus

Bynaam Ou Volkswagen
Gebore 5 Oktober 1945
Suid-Afrika
Beroep Nuusleser
Stemkunstenaar
Termyn in amp 1975-
Huweliksmaat Riana
Kind(ers) Een dogter, Anita

Riaan Cruywagen (* 5 Oktober 1945) is ’n Suid-Afrikaanse televisienuusleser en stemkunstenaar wat sedert 1975 by die SAUK en hul eerste televisie-uitsendings betrokke was. Cruywagen het oor sy loopbaan meer as 7 000 televisie-aanbiedinge gedoen.[1]

Loopbaan[wysig]

Cruywagen wou aanvanklik ’n vlieënier van passasiersvliegtuie word. Hy begin egter sy loopbaan in 1965 as ’n joernalis waarna hy deeltyds by die SAUK in Kaapstad werk terwyl hy aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.

In 1975 was hy ’n TV-nuusregisseur en moes op 26 November 1975 om 20:00 onbepland en onverwags as ’n nuusleser instaan. Die eerste storie wat hy die nag gelees het was oor die vonnisoplegging van Breyten Breytenbach tot nege jaar tronkstraf.

In Junie 2003, na openbare ontstokenheid oor berigte dat Cruywagen se kontrak by die SAUK nie hernieu sou word nie, is ’n skikking tussen die SAUK en UASA (United Association of South Africa) bereik. Sy kontrak is hernieu, en dit is aangekondig dat hy vir ’n tydperk met sy pligte sou voortgaan. Na aanleiding van sy afwesigheid van die nuusspan tydens hierdie besprekings, het die Suid-Afrikaanse musiekgroep Zinkplaat die liedjie "Waar is Riaan" opgeneem.

Cruywagen se naam het tydens sy langdurige loopbaan sinoniem geraak met Afrikaanse televisienuus. In die middel van die dekade 2000, na die kontrakhernieuwingskwessie, was Cruywagen weereens vir ’n tydperk in die fokus van populêre kultuur in Suid Afrika, toe ’n aantal humoristiese e-posse en internetbladsye, wat oorspronklik na Chuck Norris en David Hasselhoff verwys het, gewysig is met sy naam in plek van hulle s’n. Humor met ’n Suid-Afrikaanse tema in ’n soortgelyke trant is ook gesirkuleer, meestal met verwysing na sy voortgesette jeugdige voorkoms en intellektuele vermoëns.

Hy het op Maandag 26 November 2012, op die dag en datum 37 jaar nadat hy by die SAUK begin werk het, afgetree[1], maar is sedertdien 'n nuusleser en mede-aanbieder op kykNET se daaglikse ontbytprogram.

Akteur[wysig]

Cruywagen was die stemkunstenaar vir die karakter Haas Das op die gewilde Afrikaanse kindernuusprogram Haas Das se Nuuskas. Daar was selfs sprake van ’n moontlike terugkeer van die program ná ’n lang afwesigheid.[2]

Cruywagen het in rolprente verskyn waar hy gereeld homself as nuusleser vertolk het, insluitende ’n verskyning van hom as Zoeloe-nuusleser in Leon Schuster se Sweet ’n Short.[3]. Hy het ook verskyn in die film Stander as a nostalgiese herinnering aan sy lang loopbaan as nuusleser.

Filmografie[wysig]

  • Haas Das se Nuuskas (1976 - televisiereeks)
  • Sweet ’n Short (1991 - film)
  • Stander (2003 - film)
  • Haas Das hou konsert (2007 - film)

Verwysings[wysig]

  1. 1,0 1,1 Vos, Ügen (2 November 2012). “Riaan groet ná 37 j.”. Beeld. URL besoek op 3 November 2012.
  2. Comeback for Haas Das?
  3. IMDB: Sweet ’n Short

Eksterne skakels[wysig]