Sint Patricksdag

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Sint Patricksdag in Buenos Aires, Argentina
'n Godsdienstige prosessie ter ere van Sint Patrick in County Down, Noord-Ierland
Twee meisies speel Ierse folkmusiek tydens 'n feesoptog in Dublin
Die Operahuis in Sydney, Australië word ter geleentheid van Sint Patricksdag groen verlig

Sint Patricksdag of die Sint Patrickfees (Engels: Saint Patrick's Day; Iers: Lá Fhéile Pádraig) is 'n kulturele en godsdienstige feesdag wat op 17 Maart gehou word. Dit is vernoem na Sint Patrick (omstreeks 385-461), die mees erkende beskermheilige van Ierland.

Sint Patricksdag is in die vroeë 17de eeu tot feesdag verklaar en word deur die Rooms-Katolieke Kerk, die Anglikaanse Kommunie (veral die Kerk van Ierland), die Oosters-Ortodokse Kerk en Lutherse kerke waargeneem. Die fees herdenk Sint Patrick en die koms van die Christendom in Ierland, maar dit is ook die dag waarop die Ierse erfenis en kultuur en die Ierse volk in die algemeen gevier word.

Feesvierings sluit openbare optogte en feeste, céilithe (tradisionele Gaeliese byeenkomste met musiek en dans) en die dra van groen kleding of shamrock (jong klawerplante) in. Christene woon daarnaas ook kerkdienste by, en ter geleentheid van Sint Patricksdag word kerklike voorskrifte aangaande die vastyd voor die Paasfees tydelik opgehef - dit is ook die rede hoekom die feesdag tradisioneel met drankverbruik verbind word.

Sint Patricksdag is 'n openbare vakansiedag in die Republiek van Ierland, Noord-Ierland, Newfoundland en Labrador en Montserrat. Die fees word dwarsoor die wêreld ook deur Ierse gemeenskappe waargeneem, veral in Groot-Brittanje, Kanada, die Verenigde State, Australië, Nieu-Seeland en Argentinië waargeneem.