Skåne

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Velde met bloeiende raapsaad is 'n tipiese landskapstoneel in Skåne. Vrugbare leemgrond het van die gebied die belangrikste graanstreek in Skandinawië gemaak.
Vlag van Skåne
Wapen van Skåne

Skåne (Sweeds en Deens Skåne, Latyn Scania) is 'n historiese provinsie in die suide van Swede wat tot in die 17de eeu deel uitgemaak het van die Koninkryk Denemarke. Dit kom grootliks ooreen met die huidige provinsie (Sweeds: län) Skåne län en gebied van die provinsiale munisipaliteit (wat ook 'n vroeër selfstandige munisipaliteit in die historiese provinsie Halland insluit).

Die belangrikste stedelike sentra is Malmö (die provinsiale hoofstad), Helsingborg, Kristianstad, Landskrona, Lund, Trelleborg en Ystad. Skåne maak saam met die Deense eilande Seeland, Bornholm, Lolland, Falster en Møn deel uit van die transnasionale Öresundstreek.

Vanweë die nabyheid aan Denemarke klink in die plaaslike Sweeds nog steeds 'n Deense aksent deur. Sowel Denemarke en Swede het eeue lank aanspraak op Skåne, Halland en Blekinge gemaak, en eers in 1658 is hierdie gebiede by Swede ingelyf.

Danksy sy vrugbare bodem, sy milde klimaat en sy ryk visgronde het Skåne steeds 'n beduidende rol as die belangrikste landboustreek van Swede gespeel. Die plaaslike landskap word deur saggies golwende heuwellande en groen weivelde in die kusgebiede gekenmerk, waarby Österlen in die suidooste 'n gewilde trekpleister vir toeriste en kunstenaars geword het. Die binneland word deur die heuwelreekse Söderåsen, Romeleåsen en Linderödsåsen en klein mere oorheers, waarvan Ringsjö en Krankesjö as voëlparadyse bekend staan.

Vervoer[wysig]

'n Pågatåg in die Kävlinge-stasie
Ligging van Skåne in Swede

In die 1950's is in Skåne met die bou van snelweë begin - die gedeelte tussen Malmö en Lund was selfs die eerste snelweg in Swede en vorm tans die beginpunt van die Europese roete E 22. Kort daarna is 'n snelweg-netwerk volgens die Duitse voorbeeld gebou. Skåne was in hierdie opsig rigtingwysend aangesien die res van die land nog in die 1960's slegs oor kort snelweë beskik het wat nie met mekaar verbind was nie. Skåne se netwerk het vanuit die internasionale veerboothawens geloop, en intussen maak ook die Öresund-brug deel uit van hierdie netwerk.

Skåne beskik daarnaas ook oor 'n eersterangse spoorwegnetwerk. Op die lyn tussen Malmö en Stockholm ry moderne X 2000-hoëspoedtreine, terwyl die treindienste Pågatåg en Öresundståg belangrike nedersettings in Skåne met mekaar verbind. Met die voltooing van die Öresund-brug is die treinskedules in Skåne by dié van die Deense eiland Seeland aangepas.