Spermsel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Spermatosoa)
Spring na: navigasie, soek
'n Enkele soogdierspermsel besing om n ovum te penetreer gedurende bevrugting.

Die term sperm is afgelei van die Griekse woord (σπέρμα), met sperma (wat "saad" beteken) wat verwys na die manlike geslagselle of gamete. "Spermatosoa" is dus die meervoud van "spermatosoum".

Die menslike spermsel is haploïed en bevat dus slegs helfte soveel chromosome as die liggaamsel van die betrokke organisme. Dit moet dus saamsmelt met die selkern van die vroulike gameet, die ovum, om bevrugting te laat gebeur en 'n sigoot te vorm wat gewoonlik verder ontwikkel tot 'n embrio. Die sigoot is dus 'n diploïede sel met 'n volledige getal chromosome (twee halwe stelle, een van elke ouer). (Sommige organismes is egter nie diploïed soos die mens nie, en ander stelsels mag daar ter sprake wees)

In die mens bevat elke gameet, manlik of vroulik, een unieke geslagschromosoom wat tydens bevrugting die geslag van die sigoot bepaal. Die eiersel sal altyd 'n X-chromosoom bydra, maar 'n spermsel kan 'n X- óf Y-chromosoom bevat. As die sperm wat die ovum bevrug 'n X-chromosoom het (wat 'n 50/50 lukrake gebeurtenis is), sal die sigoot vroulik wees met 'n genotipe "XX". As die sperm egter n Y-chromosoom bevat (ook 50/50 kans), sal die sigoot manlik wees met die genotipe "XY".

Die spermatosoa van diere word geproduseer deur spermatogenese in die manlike geslagskliere (testes/testikels) dmv meiotiese selverdeling. Dit word na buite die liggaam vervoer in 'n vloeistof bekend as semen tydens 'n proses bekend as ejakulasie. Elke dier se spermatosoa lyk mikroskopies effens anders en het unieke karaktertrekke. Die morfologie van die kopgedeelte is dikwels kenmerkend van 'n sekere spesie, alhoewel die spoed waarteen die sel swem (progressiewe motiliteit), hoe lank die selle buite die manlike liggaam leef ("viability"), die aantal selle in 'n ml semen (konsentrasie) almal eienskappe is wat verskil tussen spesies.

Anatomie[wysig]

'n Spermsel bestaan uit n kop, 'n middelstuk en 'n stert. Die kop word omring deur die kapsel-struktuur genaamd die akrosoom wat ensieme bevat wat penetrasie van die ovum moontlik maak. Dit bevat ook die selkern met die dig-verpakte chromatien vesels (DNA) wat uiteindelik tydens bevrugting ter sprake kom.

Die middelstuk het 'n sentrale filament-agtige kern met vele mitochondria wat dit omring. Die groot getal mitochondria is nodig om ATP ('n energieryke molekule) te produseer wat die reis deur die vroulike geslagstelsel tot by die eiersel moontlik maak.

Die stert, of "flagellum" voer voortdurende swiepbewegings uit wat die spermatosoum vorentoe dryf.

Menslike sperm

Bronne[wysig]

Eksterne skakels[wysig]