TAM Linhas Aéreas

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

TAM Linhas Aéreas (Transportes Aéreos Meridionais) is die grootste Brasiliaanse lugredery wat met sy vloot van 104 vliegtuie na 46 bestemmings in Brasilië, Amerika en Europa vlieg. TAM Linhas Aéreas is in 1961 gestig en het sy hoofkwartier in São Paulo, met die twee plaaslike internasionale lughawens Guarulhos en Congonhas as sy basis.

Geskiedenis[wysig]

TAM Airbus A320

TAM Linhas Aéreas is in 1961 onder die naam Táxi Aéreo Marília gestig en het destyds met sy enkel-enjin Cessna-vliegtuie passasiers en lugvrag op nasionale roetes tussen São Paulo, Mato Grosso en ander Brasiliaanse stede vervoer.

Die lugredery se geskiedenis is nou verbind met die biografie van kaptein Rolim Adolfo Amaro wat sedert 1963 as piloot by TAM werksaam was. Hy het al vroeg die bestuur van die maatskappy oorgeneem wat - met kort onderbrekings - tot by sy afsterwe in 1999 onder sy leiding gestaan het.

In 1971 was die totale aantal passasiers net 3 000. Die lugredery se naam is in 1976 gewysig tot TAM Transportes Aéreos Regionais, en Rolim het as hoofdeelaanhouer 67 persent van die aandele oorgeneem. In die tagtigerjare het die aantal passasiers sterk toegeneem, onder meer danksy die daarstelling van nuwe vliegroetes na lughawens binne die stadsgebied van Brasiliaanse metropole en TAM se sakebeleid wat klante-tevredeheid as sy belangrikste doelwit ingesluit het. 'n Aantal toekennings is aan die lugredery oorhandig, waaronder die tydskrif Air Transport World se World's Best Regional Airline-toekenning in 1995.

In 1996 is die dogtermaatskappy TAM Transportes Aéreos Del Mercosur gestig, wat bestemmings in die buurlande bedien het. In dieselfe jaar is die groep se naam gewysig tot Transportes Aéreos Meridionais.

'n Tyd lank was daar sprake van 'n samesmelting met die sukkelende mededinger Varig. Die onderhandelinge en die versmeltingsproses het egter baie moeilik geraak. Alhoewel die twee lugrederye ooreengekom het om as 'n eerste stap hul kodes te deel, is hierdie samewerking in Junie 2005 weer gestaak.

Vanaf 1982 het TAM F-27-vliegtuie van die vervaardiger Fokker op sy lugroetes gebruik. Die eerste straler-vliegtuig, 'n Fokker 100, is in 1986 in gebruik geneem, en hierdie tipe het in die 1980's en 1990's die ruggraat van TAM se vloot gevorm. Ná 'n aantal ongelukke is die Fokker-stralers deur Airbus-vliegtuie vervang, waarby op internasionale roetes veral die Airbus-straler A330 gebruik word.

Tans beplan die Star Alliance, een van die belangrikste internasionale kodedeeldienste, TAM as 'n nuwe lid te aanvaar.