Tampere

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Tampere
Tammerfors
Tampere01.jpg

Kaart Wapen
Tampere.sijainti.suomi.2008.svg
Tampere.vaakuna.svg
Vlag
 Land Flag of Finland.svg Finland
 Provinsie Länsi-Suomen läänin vaakuna.svg Wes-Finland
 Administratiewe gewes Pirkanmaa.vaakuna.svg Pirkanmaa
 Koördinate 61°30′N 23°45′O
 Stigting 1 Oktober 1779
 Oppervlakte:  
 - Totaal 689,53 vk km
 - waarvan land 524,97 vk km
 Hoogte bo seevlak 76 m
 Bevolking:  
 - Totaal (30 Junie 2009) 209 748
 - Bevolkingsdigtheid 399,5/vk km
 Tydsone UTC +2 (OET)
 - Somertyd UTC +3 (OEST)
 Burgemeester Timo P. Nieminen
 Amptelike Webwerf www.tampere.fi

Tampere [ˈtɑmpɛrɛ], Sweeds Tammerfors [tamərˈfɔrs], is 'n nywerheidstad in die suidweste van Finland. Met 'n oppervlakte van 689,53 vierkante kilometer en 'n bevolking van 209 748 in Junie 2009 is Tampere die derde grootste stad in Finland, die grootste stad in die provinsie Wes-Finland asook die grootste stedelike sentrum in die Nordiese lande wat in die binneland geleë is.

Vanweë sy wye verskeidenheid nywerhede word na Tampere dikwels ook as die "Manchester van die Noorde" verwys, terwyl dit in die Finse omgangstaal as Manse bekend staan.

Geografie en klimaat[wysig]

Tampere is die administratiewe sentrum van die gewes Pirkanmaa (wat dikwels ook "Tampere-gewes" genoem word) en op dieselfde breedtegraad soos Söderhamn in Swede en Lillehammer in Noorweë geleë sodat die dagligure se wisseling duidelik sigbaar word - 21 Junie is die langste dag van die jaar in Tampere waarop die son om 03:41 snags opgaan en eers om 23:12 uur ondergaan. In teenstelling hiermee gaan dit op die kortste dag van die jaar, 22 Desember, eers om 09:43 uur op en verdwyn reeds om 15:04 uur weer agter die horison.

Die Pyhäjärvi-meer teen sononder, met die Pispala-heuwelreeks in die agtergrond

Die stadsgebied van Tampere strek oor 'n totale oppervlakte van 689,53 vierkante kilometer. Groot dele van die gebied het nog 'n landelike karakter sodat die bevolkingsdigtheid met sowat 400 inwoners per vierkante kilometer relatief laag is. Tampere grens in die weste aan Nokia en Ylöjärvi, in die suide aan Pirkkala en Lempääla en in die ooste aan Kangasala en Orivesi. Aangesien Tampere se stadsgebied ver na die noorde strek, is die noordelike buurdorpe Kuru en Ruovesi reeds sowat 70 tot 80 kilometer van Tampere se middestad af geleë.

Alhoewel Tampere in die binneland van Finland geleë is, is water 'n alomteenwoordige element in die stadsgebied. Tampere het op 'n landstrook tussen twee mere, Näsijärvi en Pyhäjärvi, ontstaan, en die Tammerkoski-stroomversnelling met 'n lengte van 945 meter, wat as gevolg van die hoogteverskil van 18 meter tussen die twee mere gevorm het, word vir die opwekking van waterenergie gebruik. Die Sweedse naam van die stad, Tammerfors, is van hierdie waterval afgelei. Die stadsgebied behels meer as tweehonderd mere wat ontspanning en watersportgeriewe vir die bewoners bied.

In administratiewe opsig word Tampere in ses stadsdistrikte verdeel: Keskustan piiri (die stadsentrum), Läntinen piiri (die westelike distrik), Pohjoinen piiri (die noordelike distrik), Itäinen piiri (die oostelike distrik), Eteläinen piiri (die suidelike distrik) en Kaakkoinen piiri (die suidoostelike distrik).

Klimaat[wysig]

Tampere het 'n kontinentale klimaat met 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van 4,1 °C en gemiddelde jaarlikse neerslae van 573 millimeter. Januarie en Februarie is die koudste maande van die jaar met 'n gemiddelde temperatuur van -7,8 °C, Julie die warmste met 17,3 °C. Tussen November en Maart daal die gemiddelde temperature benede vriespunt.