Topkwark

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Die topkwark is sover bekend die swaarste kwark. Die kwark is in 1995 ontdek met behulp van die D0-detektor en die CDF-detektor in Fermilab se Tevatron-versneller, maar die bestaan daarvan is reeds etlike jare vroeër voorspel.

Die top kwark het 'n massa van ongeveer 172 GeV/c^2 en is daarmee omtrent 170 keer swaarder as die proton. Die elektriese lading van die top kwark is +2/3 keer die elementêre elektriese lading. Net soos alle ander kwarks is die top kwark 'n fermion en het 'n spin van 1/2.

Die top kwark kom nie sommer in die natuur voor nie en kan slegs in partikelversnellers vervaardig word. Op die oomblik is slegs die energie van Fermilab se Tevatron-versneller en CERN se Groot Hadronversneller hoog genoeg om top kwarks te produseer.

Die produksie en verval van top kwarks[wysig]

Top kwarks kan in pare geproduseer word, waartydens 'n top kwark en 'n anti-top kwark gevorm word. Eksperimentele bewyse vir 'n alternatiewe metode word in 2006 gevind tydens die D0-eksperiment. Die metode word enkel topproduksie genoem.

'n kwark kan nie losstaande voorkom nie, maar sal hadrone vorm. Een van die eienskappe van die top kwark is dat dit verval voordat hadrone gevorm word. Die top kwark verval in 99,9 % van die gevalle na 'n bodem-kwark en 'n W-boson.