Tsumeb

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Tsumeb
Satellitenbild Tsumeb.jpg
Wapen van Tsumeb
Wapen
Slagspreuk: Glück Auf
Ligging van Tsumeb op 'n kaart (Namibië)
Tsumeb
Tsumeb
Koördinate: 19°15′S 17°42′O
Land Vlag van Namibië Namibië
Streek Oshikoto
Stigting 1905
Hoogte 1 249 m (4 098 vt)
Bevolking
 - Stad 14 113

Tsumeb is die grootste dorp in die streek Oshikoto in die noorde van Namibië. Die bevolking is 14 113[1].

Tsumeb het sy ontstaan te danke aan 'n buitengewone myn wat die Herero oTjisume genoem het, of te wel "die plek van die alge" weens die uitsteeksels van kleurryke koper wat hulle laat dink het aan die alge wat groei oor staande waterpoele. Die San het die naam verander in Sumeb en die blanke nedersetters in Tsumeb.

Tsumeb is 'n ware tuindorp. Dit het ontstaan danksy die ontwikkeling van die myn en verkry munisipale status in 1965, Jakarandas, bougainvilleas en verskeie blomdraende bome, struike en rankplante aard volmaak in die omgewing. Hulle sorg dat die strate skaduryk en aantreklik is. Veral lente op Tsumeb is 'n belewenis.

Ná Europese verkenners en prospekteerders van die heuwel, bestaande uit minerale in allerhande kleure, te hore gekom het, was die eerste prospekteerder om dit te bereik Matthew Rogers op 12 Januarie 1893. Hy het met die plaaslike stam onderhandel vir die regte op die uitsteeksel en het begin met 'n sorgvuldige opname van die hoeveelheid erts, die aard daarvan en die lewensvatbaarheid van 'n myn op so 'n afgeleë plek.

Dit het etlike jare geduur om die myn te beplan en die nodige finansiering te bekom. In 1900 het die Otavi Mynbou- en Spoormaatskappy, wat gestig is om die myn te ontgin, 33 mynwerkers onder leiding van Christopher James gestuur om die mynbou te begin. Hulle het twee skagte in die heuwel gesink en so 'n idee begin kry van die wonders wat onder die oppervlak geskuil het.

Op 28 Desember 1900 is die eerste vrag kopererts Swakopmund toe gestuur per ossewa. Die vervoer was uiters moeilik terwyl 'n smalspoorlyn van die kus af in aanbou was. Die spoorlyn het Tsumeb op 24 Augustus 1906 bereik en binne 'n jaar het die treintjies op die smalspoorlyn 25 700 ton ystererts kus toe vervoer.

Ondanks die Eerste Wêreldoorlog, Groot Depressie en die politieke omwentelinge in die destydse Suidwes-Afrika, het Tsumeb se myn voort gegaan met sy bedrywighede. Van die 184 verskillende minerale wat reeds op Tsumeb uitgeken is, kom 10 nêrens anders ter wêreld voor nie.

Tsumeb se museum huisves 'n interessante verskeidenheid mineralemonsters, tesame met foto's en rekords sedert die ontstaan van die myn. Die dorp beskik ook oor 'n opelug- kultuurhistoriese museum waar elkeen van Namibië se inheemse bevolkingsgroepe 'n hut kan oprig en hulle tradisionele vaardighede kan beoefen.

Bron[wysig]

  • Bulpin, T.V., Discovering Southern Africa. Cape Town: Discovering Southern Africa Publications cc, 2001.

Verwysings[wysig]