A.E. Gründling
A.E. (Eddie) Gründling is in Julie 1963 is as die nuwe hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie (MWU) aangestel nadat hy sedert Desember 1962 in daardie hoedanigheid tydens Daan Ellis se siekteverlof waargeneem het.
Andries Everhardus (Eddie) Gründling is in 1920 in die distrik Oudtshoorn gebore waar hy ook sy hoërskoolopleiding voltooi het. In 1939 het hy op Krugersdorp in die myne begin werk nadat hy die mynopleidingskool by Crown Mines bygewoon het. Deur middel van private studie het hy ook diplomas in kantooradministrasie, bestuurstegniek en ekonomie behaal. Hy is in 1953 as MWU-organiseerder op Krugersdorp en later op Carletonville aangestel. Gründling was ‘n gesiene gemeenskapleier en lid van die Afrikaner-Broederbond. Op Westonaria, waar hy gaan woon het, is Gründling in 1950 tot die stadsraad verkies en was hy later onder-burgemeester. Nadat hy Carletonville toe getrek het, het hy ook daar van 1957 tot 1961 as stadsraadslid gedien en was vanaf 1959 tot 1961 die dorp se eerste burgemeester. Hy het daarna die eerste voorsitter van die bestuurskomitee van Carletonville geword. Daarby het hy vier droogskoonmakerye en ‘n hotel op die dorp besit. Gründling se verkiesing as hoofsekretaris was ‘n weerspieëling van die feit dat die swaartepunt en invloed van die MWU se ledetal na die florerende Wes-Randse goudmyne verskuif het.
Sy termyn aan die stuur van die MWU sou spoedig omstrede raak as gevolg van die maandsalarisproefneming op sekere goudmyne wat hy met die Kamer van Mynwese (KVM) beding het. Een van die voorwaardes van die proefneming was dat sekere mynposte, wat voorheen uitsluitend deur blanke werkers beman is, voortaan deur swart mynwerkers gevul kon word. Gevolglik het ‘n sogenaamde Aksiekomitee uit die geledere van die MWU tot stand gekom wat teen Gründling en die maandsalarisproefneming geagiteer het. Na regeringsingryping d.m.v. die Nywerheidshof en ook a.g.v. volgehoue ondermyning deur die Aksiekomitee, is Gründling uiteindelik in November 1966 geskors waardeur sy bedanking as MWU-hoofsekretaris in werking getree het.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- MWU-Argief, Pretoria, Notule van die Vergadering van die Uitvoerende Raad, 23.7.1963, pp. 3, 5.
- Ibid., Notule van die Vergadering van die Uitvoerende Raad, 25.11.1966, pp. 1-4.
- W Visser, Van MWU tot Solidariteit. Geskiedenis van die Mynwerkersunie, 1902-2002, Solidariteit, Pretoria, 2008, pp. 179-195.
- MA du Toit, South African Trade Unions. History, Legislation, Policy, McGraw-Hill Book Company, Johannesburg, 1987, p. 69.
- R Davies, et al, The Struggle for South Africa. A Reference Guide to Movements, Organizations and Institutions, Zed Books Ltd., London, 1984, p. 261.
- Die Mynwerker, 10.7.1959, p.1 (M.W.U.-Man die 1e Burgemeester van Carletonville)
- Ibid., 25.11.1960, p. 4 (Mnr. A.E. Gründling weer Burgemeester van Carletonville).
- Ibid., 26.7.1963, p. 1 (Nuwe Hoofsekretaris is Gründling) en p.10 (‘Niemand hoef hom vir die M.W.U. te skaam’).
- A Sitas, “Rebels without a Pause: The MWU and the Defence of the Colour Bar”, South African Labour Bulletin, 5,3 (October 1979), pp. 33-34, 45-46.
- Die Transvaler, 24.7.1963 (Mnr. Grundling is Sekretaris van Mynwerkersunie).
- The Star, 24.7.1963 (A tough Job for Miners’ Leader); Sunday Times, 28.7.1963 (Miners’ Boss to seek Divine Guidance).
- Ibid., 4.4.1965 (C Birkby: Grundling to quit if miners say “no”).
- Sunday Times, 27.11.1966 (“Supremo” Beyers aims to smash the Broederbond).
- Financial Mail, 2.12.1966, p. 70 (Disturbing the peace).