Gaan na inhoud

Baldwinstraat (Nieu-Seeland)

Koördinate: 45°50′58″S 170°32′05″E / 45.84944°S 170.53472°O / -45.84944; 170.53472
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Baldwinstraat
Steilste straat ter wêreld

Vernoem na William Baldwin
Lengte 350 m
Ligging North East Valley, Dunedin, Nieu-Seeland
'n Vrou stap met Baldwinstraat af.

Baldwinstraat, of die steilste straat ter wêreld volgens die Guinness Wêreldrekords, is in die residensiële buurt van North East Valley, 3,5 km noordoos van die stad Dunedin se sentrale besigheidsdistrik, in Nieu-Seeland geleë. Dit word as die steilste straat ter wêreld beskou omdat geen ander straat meer hoogte in 10 (horisontale) lopende meter, gemeet op die straat se middellyn, verkry nie.[1]

Beskrywing

[wysig | wysig bron]

Balwinstraat is 'n reguit straat net minder 350 m lank, wat van die ooste van Lindsay Creek-vallei op teen die kant van Seinheuwel na Opoho loop. Die straat loop van 30 m bo seevlak by die kruising met North Road na 100 m bo seevlak aan die bokant,[2] 'n gemiddelde helling van net meer as 1:5. Die onderste gedeeltes is slegs matig steil, en die oppervlak is asfalt, maar die boonste gedeeltes is steiler en bedek met beton van 200 m lank vir gemak van instandhouding (bitumen — in óf spaanderseël óf asfalt — sal op 'n warm dag teen die helling afvloei) en vir veiligheid in Dunedin se ysige winters.

Die 161,2 m lange boonste gedeelte klim 47,2 m vertikaal, teen 'n gemiddelde gradiënt van 1:3,41.[3] Op sy maksimum, ongeveer 70 m van bo af,[3] is die helling van Baldwinstraat ongeveer 1:2,86 (19° of 35%). Indien daar 2,86 m horisontaal gereis word, verander die hoogte met 1 m.

Vir karre is dit 'n doodloopstraat, maar Baldwinstraat is wel geskakel met Buchananstraat aan die bokant, 'n voetpad wat 'n andersins ongeplaveide pad volg wat dit met Calderlaan en Arnoldstraat verbind, wat ongevorm is in hul bo-loop waar Baldwin die steilste is. Die strate wat parallel met Baldwin loop, is ook almal steil: Arnoldstraat (1:3,6 of 27.77%), Dalmenystraat (1:3,7 of 27%) en Calderlaan (1:5,4 of 13%).

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Landmeter Toby Stoff in 2021

Die straat se steil helling was onbedoeld. Soos met baie ander dele van die vroeë Dunedin, en eintlik die hele Nieu-Seeland, is strate in 'n roosterpatroon uitgelê sonder inagneming van die terrein, gewoonlik deur beplanners in Londen. In die geval van Baldwinstraat (en baie van die Dunedin-straatplan), is die uitleg in die middel van die 19de eeu deur Charles Kettle opgemeet. Die straat is vernoem na William Baldwin, 'n Provinsiale Raadslid van Otago en koerantstigter, wat die gebied onderverdeel het.

In 1987 is Baldwinstraat as die wêreld se steilste straat deur die Guinness Book of Records erken na 'n tweejaarveldtog deur die uitsaaier Jim Mora. Baldwinstraat is toe bo die twee mededingende strate in San Francisco, wat tot op daardie stadium die titel as die steilste strate in die wêreld gedeel het, aangewys.[4]

Op 16 Julie 2019 het Baldwinstraat sy titel van die Wêreld se Steilste Straat verloor aan Ffordd Pen Llech, met Baldwinstraat met 'n helling van 35%, terwyl Ffordd Pen Llech teen 'n helling van 37,45% geklassifiseer is. Die burgemeester van Dunedin, Dave Cull, het gesê dat die Dunedin Stadsraad kan oorweeg om die naambordbewoording van die wêreld se steilste straat na die suidelike halfrond se steilste straat te verander.[5][4][6]

Op 8 April 2020, ná 'n uitgebreide hersiening van 'n appèl om die titel aan Baldwinstraat terug te besorg, ingedien deur verskeie inwoners van Dunedin onder leiding van landmeter Toby Stoff, het Guinness besluit dat die steilte van die straat op die sentrale as gebaseer moet wees, wat beteken het dat Ffordd Pen Llech 'n helling gehad het van 28,6% vergeleke met Baldwinstraat se 34,8%. Dit het beteken dat die titel van steilste straat aan Baldwinstraat teruggegee is.[7][8][9]

Residensiële ontvangs

[wysig | wysig bron]

Na erkenning as die wêreld se steilste straat, veral met die opkoms van sosiale media, het toerisme-aktiwiteit en gebeure by Baldwinstraat aansienlik toegeneem. Die straat is 'n gewilde bestemming op toeristebusse en reisgidse.[6]

Inwoners het gemengde reaksies teenoor die toeriste-aktiwiteite op straat gehad. Baie inwoners het probleme gerapporteer met sommige toeriste wat ontwrigtend was deur in inwoners se tuine te loop, op straat te lê en verkeersprobleme veroorsaak. Ander inwoners het meer positief daaroor gevoel en geniet die besige aktiwiteit en opwinding om op straat te woon.[10][5]

Nadat Ffordd Pen Llech tydelik as die wêreld se steilste straat aangewys is en 'n afname in toeriste na Baldwinstraat voorspel is, het die Otago Kamer van Koophandel se uitvoerende hoof, Dougal McGowan, opgemerk dat "dit dalk 'n bedekte seën kan wees vir sommige inwoners wat keelvol is vir skares besoekers, vertrapte tuine en swak bestuursbesluite oor die straat."[4]

Geassosieerde geleenthede en voertuigtoertjies

[wysig | wysig bron]
'n Eenwielfietsryer moet vorentoe leun om sy gravitasiemiddelpunt oor sy eenwielfiets te behou op die steiler betondeel van Baldwinstraat.

Baldwinstraat het al baie rekordnajaers en waaghalse opgelewer, wat probeer om op/in verskillende soorte voertuie in die straat op of af te ry. Sommige van hierdie pogings het wettig plaasgevind, terwyl ander nie, insluitend ten minste een dood weens 'n ongeluk.[11][12] In Maart 2001 is 'n 19-jarige student van die Universiteit van Otago dood toe sy en 'n ander student probeer het om by die straat in 'n rolasblik af te ry. Die asblik het teen 'n geparkeerde sleepwa gebots. Sy is op slag dood, terwyl die ander student ernstige kopbeserings opgedoen het. [11][12]

Die straat is ook die venue vir 'n jaarlikse gebeurtenis in Dunedin, die Baldwin Street Gutbuster. Elke somer sedert 1988,[2][13]moet atlete as 'n oefening in fiksheid en balans, van die onderkant van die straat na die bo-kant en weer af hardloop. Die geleentheid lok honderde deelnemers en die rekord vir die vinnigste tyd is in 1998 behaal met 1 minuut 56 sekondes.[14]

Sedert 2002 word daar jaarliks 'n liefdadigheidgeleentheid in Julie gehou wat die rol van 30 000 Jaffas ('n sferiese suikerbedekte sjokoladelekkerny) behels. Elke Jaffa word deur een persoon geborg met pryse vir die wenner en die ingesamelde fondse wat vir liefdadigheid geskenk word. Hierdie geleentheid volg die tradisie wat in 1998 begin is toe 2 000 tennisballe by 'n geborgde geleentheid by die straat afgerol is om geld vir Habitat for Humanity in te samel.[2]

Op 2 Januarie 2010 het die Cardrona-waaghals Ian Soanes met 'n motorfiets op een wiel by Baldwintstraat afgery. Hy het daarna 'n oorwinningsrondte gery deur met een hand en op een wiel met sy motorfiets teen die heuwel op te ry.[15][16]

In April 2015, onder gereguleerde toestande, het 'n driemanskap dryfvaart-driewielbestuurders - Harley Jolly, 23; Tyson Barr, 18; en Nic Roy, 18 - opslae gemaak toe hulle in die straat afgekom het met 'n spoed van na raming tot 100 km per uur om die sport te bevorder.[17][18] Die geskatte spoed was ongeveer twee keer die wettige spoedlimiet in Baldwinstraat van 50 km per uur.[19]

In 2017 het Wyn Masters (ook bekend as Wyn TV) 'n eenwielrit (met 'n handrat - dit wil sê swaartekrag in plaas van trap) teen die heuwel af op 'n fiets onderneem.[20]

Op 26 Januarie 2018 het die 11-jarige Harry Willis meer as NZD$ 11 000 vir die Ronald McDonald Huis in Christchurch ingesamel deur by die straat met 'n springstok ("pogo stick") op te gaan. Dit het hom ongeveer 10 minute geneem. Willis is sedertdien geëer deur 'n gedenkplaat aan die bo-punt van die straat op te rig.[21]

Op 10 Januarie 2019 het 'n man met bromponie van die handelsmerk Lime by Baldwinstraat afgery op dieselfde dag wat dié bromponies aan Dunedin bekendgestel is en 'n week na Dunedin se burgemeester op daardie tydstip, Dave Cull, gesê het dat hy "op mense se gesonde verstand" staatmaak om nie met die bromponies by die wêreld se steilste straat af te ry nie.[22][23]

In Augustus 2022, onder gereguleerde toestande, het die Australiaanse afdraand-skaatser Zak Mills-Goodwin die eerste persoon geword wat op video vasgevang is waar hy die straat op 'n skaatsplank heuwelduik ("hill bomb", dus nie glye doen nie, omdat dit spoed verminder).[24][25]

Na baie jare van idees en pogings,[26][27] is 'n poging deur die Amerikaanse youtuber en fietsryer Mitch Boyer in April 2023 gemaak om by die straat op te ry nadat hy gehoor het dat 'n Nieu-Seelandse TV-nuusverslag (wat op die program Seven Sharp uitgesaai is) oor sy verfilmde bestyging op met die straat Ffordd Pen Llech wat op daardie stadium die wêreld se steilste straat was. Een van die program se mede-aanbieders, Hilary Barry, het gesê: "As jy by die straat kan opry, dan is dit nie die wêreld se steilste straat nie".[28][29] Nadat Barry verneem het dat Boyer die 30 uur-reistog gaan aanpak om die uitdaging te probeer en speels vir Barry haar woord te laat tel, het sy aangebied om die pogings af te neem vir hulle program. Na twee mislukte pogings, het Boyer daarin geslaag om die straat te skaal, soms deur van 'n sigsagtegniek ('n selfopgelegde beperking wat hy later na die tweede poging weens moeilikheid weggegooi het) gebruik te maak. Hy het 'n kettingring van 52–36 en 'n kettingwielversameling van 11–34 gebruik om 'n minimum ratverhouding van 1,058 te kry, insluitende om die bande vir gewig te optimaliseer.[28]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Ander steil strate sluit in:

  • 'n Residensiële doodloopstraat in Stilfs in Suid-Tirol (Italië) het 'n 40%-gradient soos aangedui deur 'n padteken.[30]
  • Côte St-Ange in Chicoutimi, Quebec, Kanada, wat 'n beweerde 33%-gradient (omtrent 18°) het. Dit blyk egter te wyte te wees aan verwarring oor die hellingshoek en die persentasiegraad; die straat is opgeteken as 18%-graad.[31]
  • Cantonlaan, in Pittsburgh, Pennsilvanië, Verenigde State; dit is amptelik gemeet as 'n 37%-graad.[32][33] Die hoek van 37% strek egter net oor ongeveer 6,5 m, terwyl Baldwinstraat se steilste deel veel langer is.
  • Eldredstraat in Los Angeles, Verenigde State; een van drie strate in Los Angeles met 'n graad tussen 32% en 33,3%.[34]
  • Filbert- en 22ste straat in San Francisco, Kalifornië, Verenigde State, het onderskeidelik 'n 31 tot 31,5% (17°) vir 60 tot 70 m.[35] Verskeie kort ente van San Francisco se strate is steiler, insluitend 'n 9 m deel van Bradfordstraat wat in 2010 geplavei is teen 'n gemiddelde 39 tot 40%-graad.[36] Die steilste deel van Bradfordstraat is by 37°44′14″N 122°24′35″W / 37.7373°N 122.4097°W / 37.7373; -122.4097. Die res van die straat is ongeveer 25%-graad, maar die kort deel is wel eg: 3,5 vertikale meter in 9,4 meter van die sypaadjie, of 8,7 horisontale meter. Dit word gemeet in 'n reguit lyn langs die sypaadjie; as jy langs die soort-van-middellyn meet, is die graad 39,6%.
  • Waipio Valleyweg (20°7′11″N 155°35′36″W / 20.11972°N 155.59333°W / 20.11972; -155.59333 (Waipio Valley Road)) op die eiland van Hawaii. Soos gemeet deur Stephen von Worley het die pad lang ente wat 30% met piek gradiente van baie hoër bereik; party areas tot by 45%.[37][38][39][40] Hierdie pad is 'n geplaveide publieke pad, maar nie 'n residensiële straat nie en is slegs oop vir viertrekvoertuie.
  • Ffordd Pen Llech in Harlech, Wallis het 'n gerapporteerde helling van 36,6% (opgerond na 40% op die waarskuwingsteken).
  • Muro di Sormano (Muur van Sormano) is 'n welbekende fietsryskof in Noordelike Italië, met 'n maksimumgradient van 27%. Dit vorm onder andere deel van die Giro di Lombardia-fietsrywedren.
  • Paso Florentino-weg in Meksikostad het 'n gerapporteerde helling van 45%. Motorongelukke gebeur dikwels in hierdie straat as gevolg van die helling.[41]

Baie strate in die weste van Engeland en Wallis het gerapporteerde hellings van 33% en hoër. Valestraat in Bristol word dikwels as die steilste straat in Brittanje vermeld met 21,81° of 40,02%[42] en mag dus 'n helling steiler as 36,6% hê. Hierdie paaie is egter dikwels korter as die paaie wat bo genoem is en het gewoonlik baie meer draaie as byvoorbeeld die reguit pad van Baldwinstraat.

Galery

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Baldwin Street in New Zealand reinstated as the world's steepest street". Guinness World Records (in Engels (VK)). 8 April 2020. Besoek op 22 September 2021.
  2. 2,0 2,1 2,2 Hamel, A. (2008) Dunedin tracks and trails. Dunedin: Silver Peaks Press. pp. 2.08–09
  3. 3,0 3,1 Inligtingspaneel aan die onderkant van Baldwinstraat
  4. 4,0 4,1 4,2 Morris, Chris (16 Julie 2019). "Dunedin loses steepest street title". Otago Daily Times (in Engels). Besoek op 16 Julie 2019.
  5. 5,0 5,1 McNeilly, Hamish (16 Julie 2019). "A day of ups and downs for the king of Baldwin St". Stuff.co.nz (in Engels). Besoek op 16 Julie 2019.
  6. 6,0 6,1 Morris, Chris (16 Julie 2019). "Dunedin's Baldwin Street loses steepest world title: Why residents are celebrating". New Zealand Herald (in Engels). Besoek op 16 Julie 2019.
  7. "Baldwin Street in New Zealand reinstated as the world's steepest street". Guinness World Records. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 April 2020. Besoek op 8 April 2020.
  8. Kitchin, Tom (8 April 2020). "NZ wins back title of world's steepest street from Welsh challenger". Stuff. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 April 2020. Besoek op 8 April 2020.
  9. Hudson, Daisy (8 April 2020). "Baldwin St reclaims steepest street title". Otago Daily Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 April 2020. Besoek op 8 April 2020.
  10. "Ups and downs of living on world's steepest street". Stuff (in Engels). 8 Januarie 2016. Besoek op 25 Januarie 2022.
  11. 11,0 11,1 "Students used wheelie bin as sledge in tragic accident". The New Zealand Herald. 1 Maart 2001. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Oktober 2012. Besoek op 11 September 2011.
  12. 12,0 12,1 Dustbin deathThe Guardian, Friday 2 March 2001
  13. "Pupil wins gutbuster for third year in a row". Otago Daily Times. 17 February 1993. p. 3.
  14. McNeilly, Hamish (13 March 2008). "Steep task no trouble for Gutbuster winner". Otago Daily Times. Retrieved 30 November 2008.
  15. "Stuntman conquers Baldwin St". Otago Daily Times. 2 January 2010. Retrieved 2 January 2010.
  16. Baldwin street wheelie. Retrieved 15 April 2024 – via www.youtube.com.
  17. admin (24 January 2024). "Baldwin Street, the Steepest Street in the World". Crazy Roads. Retrieved 14 April 2024.
  18. Drift trike-steepest street in the world. Retrieved 14 April 2024 – via www.youtube.com.
  19. Transport. "Speed Management Plan - Dunedin City Council". www.dunedin.govt.nz. Retrieved 15 April 2024.
  20. Worlds Steepest street wheelie!!. Retrieved 15 April 2024 – via www.youtube.com.
  21. "Plaque marks Harry's pogo achievement". Otago Daily Times. 6 March 2018. Retrieved 10 September 2018.
  22. Satherley, Dan (10 January 2019). "Dunedin Mayor Dave Cull hopes 'common sense' will stop students riding Lime scooters down Baldwin Street". Newshub. New Zealand. Retrieved 10 January 2019.
  23. Findlay, Grant; Small, Zane (10 January 2019). "Watch: Young man tackles Dunedin's Baldwin St on Lime scooter". Newshub. New Zealand. Retrieved 10 January 2019.
  24. "Stuff". www.stuff.co.nz. Retrieved 14 April 2024.
  25. Worlds Steepest Street! Zak Mills-Goodwin skates down Baldwin Street in New Zealand. #getthatsk8. Retrieved 14 April 2024 – via www.youtube.com.
  26. Cycling up the steepest street in the world - Baldwin Street 2017. Retrieved 14 April 2024 – via www.youtube.com.
  27. A visit to Baldwin Street, the "world's steepest street". Retrieved 14 April 2024 – via www.youtube.com.
  28. 28,0 28,1 Cycling up the World's Steepest Street (New Zealand). Retrieved 14 April 2024 – via www.youtube.com.
  29. Does this cyclist make it up the steepest street in the world?. Retrieved 14 April 2024 – via www.youtube.com.
  30. [1] Google Street View
  31. [2] Google Street View
  32. Bob Batz, Jr. (30 Januarie 2005). "Here: In Beechview". Pittsburgh Post-Gazette. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Augustus 2007. Besoek op 11 Augustus 2007.
  33. "Pittsburgh Hills". Western Pennsylvania Wheelmen. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2007. Besoek op 11 Augustus 2007.
  34. Getting the Slant on L.A.'s Steepest StreetLos Angeles Times, Thursday 21 August 2003
  35. Baldwin St steeped in controversyOtago Experience (Dunedin City Council newsletter), Issue 3, March 2003, page 5
  36. "A New Steepest Street is Born".
  37. Jennings, Ken. "Is This Hawaiian Street the World's Steepest Road?", Conde Nast Traveler, 20 October 2014. Retrieved 18 May 2015.
  38. Russo, Carla Herreria (Maart 2014). "The 10 Steepest Streets In America". HuffPost. BuzzFeed, Inc. Besoek op 10 Mei 2022.
  39. "Waipio Valley Road in HI is the steepest road in the USA". Dangerous Roads. dangerousroads.org. Besoek op 3 Mei 2021.
  40. Baray, Alexa. "4 Steep U.S. Streets That Will Make Your Palms Sweat". Travel Trivia. Inboxlab, Inc. Besoek op 10 Mei 2022.
  41. "Paso Florentino Street Mexico - One Of The Steepest Road That Causes A Lot Of Accidents". thehooksite.com. Besoek op 23 November 2022.
  42. Meierhans, Jennifer. "Where is England's Steepest Street?", BBC News, 19 March 2017. Retrieved 19 March 2017.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

45°50′58″S 170°32′05″E / 45.84944°S 170.53472°O / -45.84944; 170.53472