Cannabinoïd

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Kief bevat 'n hoë konsentrasie cannabinoïd inhoud.

'n Cannabinoïd is 'n uitgebreide klas chemiese verbindings wat met cannabinoïdreseptore in selle bind wat veranderinge veroorsaak in die brein se neurotransmittervrystelling. Cannabinoïde wat natuurlik deur die liggaam van mens en dier geskep word, word geklassifiseer as endo-cannabinoïde. Fitocannabinoïde kom in die natuur slegs in sekere plante voor, soos bv. dagga (Cannabis) terwyl 'n paar sintetiese cannabinoïde suksesvol kunsmatig deur wetenskaplikes in 'n laboratorium vervaardig is. Die bekendste cannabinoïd is 'n fitocannabinoïd naamlik Delta-9-tetrahidrocannabinol (THC) en is ook die belangrikste psigo-aktiewe verbinding van dagga. Cannabinol (CBD) is nog 'n hoofverbinding van die plant. Daar is tot dusver 113 verskillende cannabinoïde uit die daggaplant geïsoleer, elkeen met unieke eienskappe en uitwerking.

Sintetiese cannabinoïde omvat verskeie klasse gespesifiseer volgens hul chemiese samestelling. Klassieke cannabinoïde se samestelling vergelyk met natuurlike cannabinoïde terwyl nie-klassieke cannabinoïde endo-cannabinoïde naboots (endo-cannamimikrie).

Cannabinoïdreseptore[wysig | wysig bron]

Voor die 1980's is daar gespekuleer dat die fisiologiese en gedragsveranderende effekte van cannabinoïde nie deur 'n spesifieke selmembraan-interaksie veroorsaak word nie. Daar is met die ontdekking van die eerste cannabinoïdreseptor wel bevind dat cannabinoïde met gespesifiseerde reseptore in selmembrane bind.

Hierdie reseptore kom algemeen voor in die mens, sowel as in soogdiere, voëls, visse en reptiele. Tot dusver is daar nog net twee cannabinoïdreseptore ontdek, naamlik die CB1- en CB2-reseptore. Talle nuwe wetenskaplike ondersoeke vermoed dat daar nog vele onbekende reseptore bestaan. Die menslike brein bevat meer cannabinoïdreseptore as enige ander tipe G-proteïen-gekoppelde reseptore (GPCR).

Tipe 1 cannabinoïdreseptor (CB1)

CB1-reseptore kom in die brein hoofsaaklik in die basale ganglia, limbiese stelsel, hippokampus en die striate nukleus voor. Die CB1-reseptore kom ook in die serebellum voor asook in die manlike en vroulike reproduktiewe stelsels. Daar kom geen CB1-reseptore in die medulla oblongata voor nie, dié gedeelte van die breinstam wat verantwoordelik is vir respiratoriese en kardiovaskulêre funksies. CB1-reseptore kom ook in die voorste horingselle van die menslike oog en retina voor.

Tipe 2 cannabinoïdreseptor (CB2)

CB2-reseptore word hoofsaaklik in die immuunstelsel of selle afkomstig van die immuunstelsel gevind met die hoogste konsentrasie in die milt. Alhoewel CB2-reseptore meestal in die perifere senuweestelsel afgesonder is toon nuwe wetenskaplike navorsing dat CB2 deur glia-selle in die menslike serebellum uitgedruk word. CB2 is verantwoordelik vir die anti-inflammatoriese, terapeutiese en moontlik ander medisinale eienskappe van dagga wat in dierestudies en anekdotiese bewyse voorkom.[1]

Verwysings[wysig | wysig bron]

Eksterne bronne[wysig | wysig bron]

Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.