Castor en Pollux

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die Dioscuri in Rome, Kapitool
Standbeeld van Pollux
Afbeelding van Castor op 'n vaas

Castor en Pollux (Oudgrieks: Κάστωρ καὶ Πολυδευκής) is tweelingbroers in antieke Griekse en Romeinse verhale wat talle avonture beleef het. Die sterregroep die Tweeling is na hulle genoem.[1] Saam staan hulle as die Dioscuri ("seuns van Zeus") bekend. Hulle was die kinders van Leda. Hul tweeling susters was Helena van Troje en Klytaimnestra.

Daar is verskillende stories oor die tweeling se herkoms. Die bekendste storie is dié van Leda en Zeus. Leda, die eggenote van koning Tindareus van Sparta, het 'n verhouding met Zeus, wat haar gereeld in die gedaante van 'n swaan kom opsoek. Danksy hierdie verhouding lê Leda twee eiers, waaruit Castor en Pollux gebaar word.

Castor en Pollux was in talle mites en sages van die Griekse wêreld betrokke. Hulle was onder meer metgeselle van Jason in sy soeke na die Goue Vlies. Pollux was 'n uitmuntende bokser en verslaan koning Amykos in 'n boksgeveg. Amykos wou die Argonoute verhinder om hul reis voort te sit.

Toe Castor sterf omdat hy ’n sterflike was, het Pollux by sy pa, Zeus, gesmeek dat hy Castor onsterflik maak. Zeus het dit gedoen deur hulle in die lug te verenig. Die helderste sterre van hierdie sterrebeeld is dan ook Castor en Pollux. Volgens Romeinse tradisie het hulle van die hemel gekom om die Romeine te help om die stryd teen die Latyne by die meer van Regillus te wen. Daarom is hulle hoog in Rome vereer.

Castor en Pollux is ook twee berge in die bergmassief van die Monte Rosa op die grens van Italië en Switserland.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]