Clerkenwell

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Clerkenwell
Clerkenwell Green en St James's Church
Clerkenwell Green en St James's Church
Ligging van Clerkenwell op 'n kaart (Groter Londen)
Clerkenwell
Clerkenwell
Koördinate: 51°31′34″N 0°06′13″W / 51.52611°N 0.10361°W / 51.52611; -0.10361Koördinate: 51°31′34″N 0°06′13″W / 51.52611°N 0.10361°W / 51.52611; -0.10361
Land Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
Land Flag of England.svg Engeland
Graafskap Groter Londen
Borough Islington
Tydsone MGT (UTC±00:00)
 - Somer (DST) BST (UTC+01:00)
Poskode EC1
Skakelkode(s) 020

Clerkenwell [ˈklɑrkənwɛl] is 'n buurt in Sentraal-Londen wat administratief onder die London Borough of Islington val. Clerkenwell behels twee historiese parogieë, St. James en St. John, en het tussen 1900 en 1965 deel uitgemaak van die Metropolitan Borough of Finsbury wat daarna met die aangrensende Islington saamgesmelt is om die nuwe Borough of Islington te vorm.

Die hoofportaal van St James, 'n Anglikaanse parogiekerk
St John's Gate teen sononder. Die historiese poort huisves die Museum of the Order of St John
Die Italiaanse Sint Pieterskerk in Holborn Road is in 1863 ingewy

Clerkenwell het oorspronklik rondom die nonneklooster St. Mary (wat in 1792 deur St. James in Clerkenwell Green vervang is) en die St. John of Jerusalem-klooster gegroei - twee godsdienstige instellings wat in die 12de eeu deur Jorden de Briset gestig is. Die nedersetting se naam is afgelei van 'n bron, Clerk's well, wat naby die nonneklooster geleë was en waar sogenaamde mirakelspele opgevoer is - toneelstukke wat godsdienstige boodskappe op 'n eenvoudige manier aan die gewone bevolking oorgedra het. Tot en met die ontbinding van kloosters in Engeland tydens die Reformasie tussen 1536 en 1539 het die St. John-klooster as die Engelse hoofkwartier van die Hospitaalorde van Sint Johannes van Jerusalem gedien. Van die kloostergebou het slegs die 16de eeuse St. John's-poort en die 12de eeuse kripte bewaar gebly.

Die St. John's-poort is tans in besit van die nuutgestigte Priory of England of the Order of St John wat hier, net soos St John Ambulance, sy hoofkwartier het. Nuwe museumgalerye, die Museum of the Order of St John, is in 2010 geopen.

Clerkenwell het later as voorstad van Londen vinnige groei ervaar. Teen die middel van die 17de eeu het Hugenote-vlugtelinge en talle handelaars hulle hier gevestig, kort voordat die buurt deur die Groot Plaag getref is.

Die naamgewende bron is in 1924 in Farringdon Road herontdek. Die plaaslike ekonomie het vroeër swaar op die horlosiebedryf en die herstel van horlosies gesteun.[1] Na die suidwestelike gedeelte van Clerkenwell is vroeër as Little Italy verwys vanweë die groot aantal Italiaanse immigrante wat hulle hier tussen die 1850's en die 1960's gevestig het. Die huidige buurt het baie van sy tradisies bewaar, waaronder die dorpsagtige karakter, en dien vandag met sy mengsel van residensiële geboue, werkswinkels en besighede as 'n woon- en sakekwartier vir die aangrensende City of London, die finansiële en sakesentrum van die Britse hoofstad.

In Julie 2017 sal The Postal Museum in Clerkenwell sy deure vir die publiek open.[2]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. W. G. Moore: The Penguin Encyclopedia of Places. Hammondsworth: Penguin Books 1971, bl. 178
  2. postalmuseum.org: The Postal Museum: Opening July 2017. Besoek op 30 Mei 2017

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]