Colombia

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
República de Colombia
Republiek Colombia
Vlag van Colombia Wapen van Colombia
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Libertad y Orden
(Spaans vir: "Vryheid en Orde")
Volkslied: ¡Oh, Gloria Inmarcesible!
(Spaans vir: "O onvervulde glorie")
Ligging van Colombia
Hoofstad Bogotá

4°35′N 74°4′W / 4.583°N 74.067°W / 4.583; -74.067

Grootste stad Bogotá
Amptelike tale Spaans
Regering Unitêre presidensiële
grondwetlike republiek
Iván Duque Márquez
Marta Lucía Ramírez
Onafhanklikheid
• Verklaar
• Erken
• Laaste unifikasie
• Huidige grondwet
van Spanje
20 Julie 1810
7 Augustus 1819
1886
4 Julie 1991
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
1 141 748 km2  (25ste)
440 831 myl2
8,8
Bevolking
 - 2018-skatting
 - 2005-sensus
 - Digtheid
 
49 755 971[1] (29ste)
42 888 592[1]
40,74 / km2 (173ste)
105,5 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2018-skatting

$750,276 miljard[2] (31ste)
$15 055[2]

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2018-skatting

$327,978 miljard[2] (32ste)
$6 581[2]

MOI (2015) Green Arrow Up Darker.svg 0,727[3] (95ste)  –  hoog
Gini (2016) 50,8[4][5] –  hoog
Geldeenheid Peso (COP)
Tydsone
 - Somertyd
COT (UTC-5)
nie toegepas nie (UTC-5)
Internet-TLD .co
Skakelkode +57

Colombia of Kolombië (Spaans: Colombia, [koˈlombja], ), amptelik die Republiek Colombia (Spaans: República de Colombia, ), is 'n land in die noordweste van Suid-Amerika. Dit grens in die noorde aan die Karibiese See, in die ooste aan Venezuela, in die suidooste aan Brasilië, in die suide aan Peru en Ecuador, en in die weste aan Panama en die Stille Oseaan.[6] Colombia is na Christophorus Columbus, wat die Amerikas in 1492 vir Europa ontdek het, genoem.[7]

Bekende Colombiane sluit in die Nobelprys vir Letterkundewenner, Gabriel García Márquez, popsangeres Shakira, Juanes, Formule 1renjaer Juan Pablo Montoya en dwelmbaron Pablo Escobar, wat in 1993 met die hulp van die Amerikaners in 'n koeëlreën uit die weg geruim is. Die land is dan ook berug vir die verbouing van kokaïen en die kombinasie van dwelmhandel en verbouing met 'n gewelddadige politiese stryd teen FARC dra daartoe by dat Colombia die hoogste per kapita moordsyfer in die wêreld het.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Prekolombiaanse tydperk[wysig | wysig bron]

Prekolombiaanse kulture
Ciudad Perdida ("Die verlore stad")

In die prekolombiaanse tydperk is die land bewoon deur inheemse volke met verskillende vlakke van beskawing en organisasie. Die vroegste tekens van menslike bewoning dateer sowat 16 400 jaar terug. Dit sluit in oorblyfsels van gereedskap wat gevind is naby Girardot. Die oudste menslike reste is 12 500 jaar oud en is by Zipaquirá gevind. Beide plekke lê in die relatief droë Andesgebied. Daar word egter gemeen dat die warm en vogtige Amasonegebiede en die Karibiese- en Stille Oseaankuste selfs vroeër reeds bewoon is hoewel die oudste vondse daar slegs 9 000 jaar oud is.

Die inheemse volke was rondom 3500 v.C. primitiewe jagters en nomadiese landbouers, wat die see- en rivierkuste bevolk het. Met die koms van mielies as voedselbron in die 2de eeu v.C. begin groepe hulle hier vestig. Vroeë prekolombiaanse volke in die noorde het die Urabá (1000 v.C.–0) en Sinú (0–1000 n.C.), (veral bekend vir uitgebreide wateraanleg en dreinering van landbougrond) ingesluit. Die Tumaco, Calima (1000 v.C.–800 n.C.), Malagana (300 v.C.–300 n.C.), Cauca, San Agustín (1000 v.C.–500 n.C.), Tierradentro, Nariño, Quimbaya (0–900 n.C.) en Tolima (200 v.C.–500 n.C.) het in die suidweste geleef. Ten tyde van die Spaanse verowerings was daar drie taalfamilies in Colombia: Chibcha, Carib en Arawak.

Die Chibcha-sprekende Indiane het 300 tot 400 jaar voor die huidige jaartelling vanuit Sentraal-Amerika na Colombia, Venezuela en Ecuador getrek – oorspronklik aan die Atlantiese (Karibiese) kus. Arawak-indiane het vanuit die ooste na Colombia geïmmigreer en hulle veral in die oostelike riviergebiede van die Orinoco en Amasone gevestig. Rondom 1000 n.C. trek oorlogsugtige Carib-indiane van die Brasiliaanse kusstreek en die eilande na die Colombiaanse kuste en rivierdale Río Magdalena en Río Cauca en verdryf die Chibcha na die hoërliggende Andesgebiede. Die Chibcha bereik 'n hoë graad van ekonomiese en politieke ontwikkeling. Toe die Europeërs rondom 1500 n.C. Suid-Amerika betree het, was die Chibcha die mees prominente etniese groep. Hulle was onderverdeel in die Muisca en die Tairona, en nog enkele kleiner groepe. Die grootste groep, die Muisca, het hulle woongebied op die hooglande van die huidige Cundinamarca en Boyacá gehad en was landbouers. Hulle maatskaplike organisasie het om die cacicazgo, die stamhoof, en een oorerfbare leier oor die vroulike lyn, gewentel. Die opvolger/erfgenaam van die stamhoof was die seun van sy suster.

Daar het twee groot Muisca bondgenootskappe bestaan ten tye van die Spaanse verowerings: Bacatá (Bogotá) en Hunza (Tunja). Aan die hoof van die Bacatá was 'n Zipa, die opperhoof. Die Hunza opperhoof het Zaque geheet. Die kleiner Chibcha-sprekende groep, Tairona, het die noordelike uitloop van die Sierra Nevada de Santa Marta berggebied bevolk. Tairona het uit twee groepe, naamlik een in die Karibiese laaglande en die ander in die Andeshooglande. Die eerste groep het van visvang en soutontginning geleef, dus produkte wat hulle vir tekstiel van die Tairona in die hooglande verruil het. Die Tairona het in talle goed-georganiseerde stede, wat met klippaaie verbind was, geleef.

Kolonisering[wysig | wysig bron]

Muisca-vlot. Die figuur verwys na die El Dorado-legende se seremonie

Rodrigo de Bastidas land in 1500 as eerste Spanjaard op die Colombiaanse kus. In 1509 stig Alonso de Ojeda die noordwestelike kusdorp San Sebastian de Urabá. Vasco Nuñez de Balboa stig Santa Maria la Antigua del Darién vanwaar hy 'n ekspedisie na die Stille Oseaan kus onderneem (1513). Met Santa Marta (1525) en Cartagena (1533) word vestings op die kus gestig vanwaar koloniale oorheersing van die binneland, aangemoedig deur die 'El Dorado'-mite – 'n oorvloedige bron van goud – begin. Onder leiding van Gonzalo Jiménez de Queasada en Sebastián de Belalcázar word die huidige Colombia ontdek (1536). In 1557 word in Santafé de Bogotá de 'Real Audiencia del Nuevo Reino de Granada' opgerig. Die verowering van Nueva Granada, soos die gebied toe bekend was, na die geboortegrond van Quesada, is gekenmerk deur die plunder van die Indiaanse kultuurgoedere, die afdwing van Spaanse gebruike en godsdiens, en slawerny. Die brutale Spaanse régime het 'n uitdunning van die Indiaanse bevolking tot gevolg, wat lei tot die invoer van slawe uit Afrika.

Onafhanklikheid en 20ste eeuse geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die Slag van Boyacá op 7 Augustus 1819 was die beslissende stryd wat die sukses van die bevrydingsveldtog van Nieu-Granada sou verseker
Vorming van die huidige Colombia sedert die Visekoninkryk van Nieu-Granada se onafhanklikheid as Groot-Colombia van die Spaanse Ryk

Tot 1810 was die land 'n kolonie van Spanje en 'n belangrike bron van goud, maar in dié jaar verklaar Colombia sy onafhanklikheid. Spaanse troepe onder leiding van generaal Pablo Morillo herower die land egter na die Napoleontiese Oorloë.

Sedert 1819 was daar al sprake van egte onafhanklikheid onder leiding van Simón Bolívar en Francisco Paula de Santander. Bolívar word die eerste president van Colombia wat toe nog uit die huidige Colombia en (dele van) Ecuador, Venezuela en Panama bestaan. In 1830 word die regering van Bolivar omvergewerp wat tot die verbrokkeling van die Republiek gelei het. Ecuador en Venezuela ontstaan as onafhanklike state, terwyl Panama nog deel van Colombia bly tot 1903. Van die begin af was die politieke situasie onrustig o.a. omdat die politieke stelsel uit slegs twee partye bestaan het, die liberales en die konserwatiewes. Hierdie tweeledigheid het ook rofweg ooreengekom met die sosiale tweeledigheid van die land: Aan die kus het die 'costeños', meestal afstammelinge van die slawe gewoon – in die sentrale hooglande die 'cachacos', die Spaanse afstammelinge. As gevolg van die haglike ekonomiese toestande, verskeie staatsgrepe en voortdurende gewelddadige konflik begin die 1 000-daagse Oorlog in 1899 tussen die regerende konserwatiewes en die liberale troepe. Die oorlog, wat tot 1902 sou duur, het uiteindelik tussen 60 000 en 130 000 lewens geëis en die land vernield agterlaat. In 1903 begin 'n opstand, gesteun deur die Verenigde State wat die Panamakanaal wou bou, wat lei tot die afskeiding van Panama.

In 1928 vind die bloedbad van die Piesangstaking plaas. Die Amerikaanse "United Fruit Company" het 'n monopolie in die piesangplantasies gehad en die werkers uitgebuit. Die staking word met geweld beëindig en het honderde slagoffers tot gevolg. Vanaf 1948 vind 'n bloedige volksopstand plaas, nadat die liberale presidentskandidaat Jorge Eliécer Gaitán vermoor is. Die volksopstand in Bogotá, waarin 2 500 mense sterf, versprei oor die hele land. Hierdie stryd, bekend as 'La Violencia', het die lewe gekos van waarskynlik meer as 'n honderdduisend mense. Stede en dorpe word afgebrand en meer as 'n miljoen mense vlug na Venezuela. Van 1953 tot 1957 lei generaal Gustavo Rojas Pinilla 'n militêre diktatuur. In 'n poging om politieke geweld en outoritêre optrede te beëindig, kom die twee groot politieke partye, die Konserwatiewe en die Liberale, in 1958 ooreen om afwisselend die bestuur van die land oor te neem. Hierdie periode duur tot 1974 maar van 1965 tot 1968 word 'n staat van beleg uitgeroep, as gevolg van geweld van linkse guerrilla's en opstand vanuit die Universiteit van Bogotá.

Colombia is oorspronklik op 9 Junie 1974 in Frankfurt am Main, net voor die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1974 in Wes-Duitsland, as gasheerland van die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1986 aangewys, maar nadat die getal spanne van 16 tot 24 verhoog is, was dié land nie meer in staat om die toernooi te organiseer nie. Op 5 November 1982 het Colombia amptelik onttrek. FIFA het op 20 Mei 1983 in Stockholm Meksiko as gasheerland aangewys.[8]

Die huidige grondwet dateer uit 1991.

Kontemporêre geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die voormalige president Juan Manuel Santos onderteken op 26 September 2016 'n vredesooreenkoms

Die huidige politieke bestel is onrustig. Teenoor die owerheid ontstaan die linkse guerrillagroepe FARC en ELN. Groot grondeienaars het van ouds hul eie gewapende magte om hulle grond te verdedig. Oorblyfsels hiervan vorm steeds baie paramilitêre regse strydgroepe. Met die opkoms van kokaïenproduksie, bewapen die onwettige magte hulle ook op groot skaal. 'n Ideale uitkoms lyk nie moontlik nie. Die onwettige magte gebruik die beskerming van die guerrillas, en die guerrillas befonds die dwelmoorlog teen die owerheid met dwelmgeld. Die stryd teen paramilitêre geweld, guerrillas, kokaïen mafias, korrupsie en magsmisbruik het 'n voortdurende invloed op die politieke situasie.

In 2002 is die presidentskandidaat, Ingrid Betancourt, voorstaander van dialoog, deur die linkse guerrillagroep FARC ontvoer. Hierdie faktore maak dit vir buitelandse beleggers 'n onaantreklike land en dit word weerspieël in die haglike ekonomiese toestande. Die voormalige president, Álvaro Uribe Vélez, volg enersyds 'n ferm beleid teen terreur en probeer andersyds om 'n houvas te verkry op die paramilitêre groepe deur ooreenkomste te sluit en hulle te integreer in die leër en politiek. Deur ferm hantering word die FARC tot verdediging gedwing en verbeter die ekonomiese toestand effens. Die kokaïenmafia word met wisselende sukses bestry in die oorlog teen dwelms, wat grotendeels deur die VSA finansier word.

Na verwagting sal Colombia nog in 2018 by die OESO aansluit en daarmee ná Meksiko en Chili die derde Latyns-Amerikaanse lidland van dié internasionale organisasie word.[9]

Geografie[wysig | wysig bron]

Nasa-Satellietbeeld van Colombia
Kaart van Colombia

Colombia kan rofweg in drie geografiese dele verdeel word:

  • Die Andesgebergte in die weste. Die grootste deel van die bevolking woon hier en die drie miljoenstede, Bogotá, Medellín en Cali word hier aangetref.
  • Die Karibiese kus. Ook hier word enkele belangrike bevolkingssentra, soos Cartagena gevind.
  • Die oostelike deel van Colombia is hoofsaaklik bebos en behoort tot die uitlopers van die enorme Amazonewoud. Dit beslaan 54% van die oppervlakte van Colombia, maar slegs 3% van die Colombiane woon daar.

Die langste rivier in die land is die Río Magdalena.

Administratiewe indeling[wysig | wysig bron]

Colombia bestaan uit 32 departemente (hoofstede tussen hakkies): Amazonas (Leticia), Antioquia (Medellin), Arauca (Arauca), Eilandgroep San Andres, Providencia en Sta. Catalina (San Andres), Atlantico (Barranquilla), Bolivar (Cartagena), Boyaca (Tunja), Caldas (Manizales), Caqueta (Florencia), Casanare (Yopal), Cordoba (Monteria), Cundinamarca (Bogotá), Choco (Quibdo), Guainia (Inrida), Guajira (Riochacha), Guaviare (San Jose del Guaviare), Huila (Neiva), Magdalena (Santa Marta), Meta (Villavicencio), Nariño (Pasto), Norte de Santander (Cucuta), Putumayo (Mocoa), Quindio (Armenia), Risaralda (Pereira), Santander (Bucaramanga), Sucre (Sincelejo), Tolima (Ibague), Valle del Cauca (Cali), Vaupes (Mitu), Vichada Puerto (Carreño).

Sien ook: Departemente van Colombia, Vlae van departemente van Colombia

Die staatshoof en regeringsleier is Álvaro Uribe Vélez.

Bekende Colombiane[wysig | wysig bron]

Sien ook[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. 1,0 1,1 (es) Animated clock”. Departamento Administrativo Nacional de Estadística (DANE). URL besoek op 10 Augustus 2018.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 (en) World Economic Outlook Database”. Internasionale Monetêre Fonds: April 2018. URL besoek op 10 Augustus 2018.
  3. (en) 2016 Human Development Report”. United Nations Development Programme: 2016. URL besoek op 10 Augustus 2018.
  4. (en) Gini Index”. Wêreldbank. URL besoek op 10 Augustus 2018.
  5. (es) socio-economic policies”. dane.gov.co. URL besoek op 10 Augustus 2018.
  6. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  7. (es) Carlos Restrepo Piedrahita (Februarie 1992). “El nombre "Colombia", El único país que lleva el nombre del Descubrimiento”. Revista Credencial. URL besoek op 29 Februarie 2008.
  8. (en) FIFA World Cup™ host announcement decision”. FIFA. URL besoek op 10 Augustus 2018.
  9. (en) A mutually beneficial relationship”. OESO. URL besoek op 10 Augustus 2018.

Bronne[wysig | wysig bron]

  • Eugenio Gutierez Cely, Miguel Angel Urrego Ardila (1995). 1.001 cosas sobre la historia de Colombia que todos debemos saber. Bogotá: Circulo de Lectores S.A. ISBN 958-28-0751-2
  • Library of Congress: Country Studies – Colombia (http://countrystudies.us/colombia/)

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]


 
Lande en gebiede in Suid-Amerika
Lande: Argentinië | Bolivië | Brasilië | Chili | Colombia | Ecuador | Guyana | Paraguay | Peru | Suriname | Uruguay | Venezuela
Afhanklike gebiede: Falkland-eilande - Frans-Guyana - Galápagos-eilande - Suid-Georgië en die Suidelike Sandwicheilande

Lande van: Afrika - Asië - Europa - Noord-Amerika - Oseanië