François Bloemhof

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
François Bloemhof
Gebore 15 September 1962
Paarl
Nasionaliteit Suid-Afrika
Beroep Outeur, dramaturg, komponis, kopieskrywer en rolprentresensent
Eerbewyse Verskeie, sien teks.
Webblad http://www.francoisbloemhof.net

François Bloemhof is 'n bekroonde Afrikaanse outeur, dramaturg, komponis, kopieskrywer en rolprentresensent. Bloemhof verwerf bekendheid as kinder- en jeugverhaalskrywer. Hy skryf aanvanklik tydskrifverhale en debuteer in 1991 met Die nag het net een oog, wat die debuutprys in De Kat/Antenne/Sanlam se romanwedstryd ontvang. Dit word as die eerste Gotiese riller in Afrikaans beskou.[1] Hy skryf ook onder die skuilnaam Leo Bekker.

Biografie[wysig | wysig bron]

François Bloemhof is op 15 September 1962 in die Paarl, Wes-Kaap, Suid-Afrika gebore. Sy skryfloopbaan het in graad 9 koers gekry toe sy Engels-onderwyseres hom 97% vir ’n kortverhaal gegee het. Sedertdien het hy die enigste outeur ter wêreld geword wat so uitgebreid en suksesvol vir die volwasse, tiener- én jeugmarkte skryf.

Hy het nie ’n roman probeer skryf voor hy al ’n paar jaar uit die skool was nie, hoofsaaklik omdat hy gemeen het daar is nie plek vir “sy soort storie” in wat nog ’n bra konserwatiewe Afrikaanse mark was nie. Toe hy dit wel skryf, was sy visie volledig gevorm. Die nag het net een oog, ’n Gotiese roman, speel af in ’n klein (en totaal ongotiese) plattelandse gemeenskap. Hy het in 1991 daarmee die gesogte De Kat-prys losgeslaan, toe die land se aansienrykste literêre toekenning.

Baie boeke vir volwassenes het hierop gevolg, asook vele toekennings en nominasies. Hierdie produktiewe skrywer se volwasse werk verken spannings-, bonatuurlike en meer konvensioneel dramatiese temas. Hy het ook ’n reeks boeke oor ’n geheime agent (Rooi Luiperd) en die vrouespeurder Alma van der Pool geskryf, albei die eerste van hul soort op die Afrikaanse boekterrein. Tot op hede het hy ook ’n kabaret en bekroonde verhoogstukke en radiodramas en -vervolgverhale gelewer.

Omdat tieners van sy volwasse werk gehou het, het hy spesifiek vir hulle begin skryf met die kontroversiële Slinger-slinger, 1997-pryswenner in die Tafelberg/Sanlam Jeugromanwedstryd, waar manuskripte anoniem beoordeel word. Nog tienerromans het verdere pryse gewen – hoewel die skrywer sê die grootste prys is om net jou werk gelees te kry.

Daar is agt titels in die Rillers-reeks vir jong lesers. Dit was gereelde wenners van ATKV-Veertjies, ’n jaarlikse kompetisie waar geen akademiese paneel sit nie maar honderd lesers van die regte ouderdomsgroep die boeke evalueer. Die skrywer beskou dié soort kompetisie as “die mees amptelike soort erkenning”.

François Bloemhof is steeds die eerste Afrikaanse skrywer om ’n strokiesreeks te publiseer, die hoogs suksesvolle Agent Snoet-boeke waarin ’n oningeligte geheime agent bygestaan word deur sy getroue maar dominerende Siamese kat, Felino.

Wêreld-eerstes deur hierdie skrywer was ’n interaktiewe koerantvervolgverhaal (in Rapport); ’n jeugroman met sy eie rekenaarspeletjie; ’n Flipom wat ’n twee-in-een-boek is met twee voorblaaie wat van enige kant af gelees kan word, met dieselfde karakters in albei stories (een grillerig en een wetenskapfiksie); en ’n roman met ’n selfgekomponeerde klankbaan-CD uitgevoer deur bekende Suid-Afrikaanse musici en sangers.

Die skrywer het nou reeds meer as 60 boeke die lig laat sien. Hy haal graag vir Alfred Hitchcock verkeerd aan deur sy skryfwerk soos volg op te som: “Party mense skryf slices of life. Ek het nog altyd slices of cake verkies.”

In sy vrye tyd (wat hy aandring hy baie van het) doen hy kopieskryf- en redigeerwerk, skryf hy rolprent- en boekresensies vir verskillende publikasies, versamel hy CD’s en Blu-Rays, en het hy natuurlik die erg veeleisende taak om na die behoeftes van vier katte om te sien. Hy het ook die wêreld van draaiboek- en liedjieskryf begin verken.

Bibliografie[wysig | wysig bron]

Kortverhaal[wysig | wysig bron]

Vir volwassenes[wysig | wysig bron]

  • Die nag het net een oog (1991)
  • Die duiwel se tuin (1993)
  • Koue soen (1994)
  • Bloedbroer (1995)
  • Storieboek (1996)
  • Mooidraai Basuin (tydskrifbundel) (1997)
  • Nagbesoeker (1997)
  • Hostis (1998)
  • Klipgooi (1999)
  • ’n Tweede asem vir Jan A (2001)
  • Spinnerak (2006)
  • Jagseisoen (2007)
  • Rooi Luiperd (2008)
  • Harde woorde (2009)
  • Afspraak in Venesië (2009)
  • Die onbekendes (2010)
  • Die Genesis-faktor (2010)
  • Donker plekke (2011)
  • Helse manier van koebaai sê (2011)
  • Jy-weet-wie (2012)
  • Moord in die beloofde land (2013)
  • Pad na jou hart (2013)
  • Vir die Voëls (2016)

Vir tieners[wysig | wysig bron]

  • Slinger-slinger (1997)
  • Die wit huis (1998)
  • Die dae toe ek Elvis was (2002)
  • Nie vir kinders nie (2005)
  • Stad aan die einde van die wêreld (2007)
  • City at the end of the world (2009)
  • Moenie dat die grootmense hoor nie (2009)

Vir jong lesers (9 tot 12)[wysig | wysig bron]

  • Middernagland (1996)
  • Die vrou met die pers oog* (1996)
  • Donderwoud* (1996)
  • Die waterding* (1997)
  • Kamer 13* (1998)
  • Die speletjie* (1999)
  • Kry vir jou, ou Langklou* (2000)
  • Hospitaaltyd* (2002)
  • Agent Snoet en die Botterdiamant (2002)
  • Vampiere in Londen* (2004)
  • Agent Snoet en die Kattekwaad (2005)
  • Agent Snoet en die Hondelewe (2008)
  • Flipom (2009)
  • Agent Snoet en die Groen Genugtig (2010)
  • 13 spookstories (2010)
  • Die land verby donker (2012)
  • Vreeslike versies (2012)
  • Nog 13 spookstories (2012)
  • Koue rillings (2013)
  • (* in die Rillers/Chillers-reeks (slegs Afrikaanse titels word genoem))

Vir jong lesers (7 tot 9)[wysig | wysig bron]

  • Sakkie en die Toffiewolf (1994)
  • Die dom towenaar (1994)
  • Dinnie Kaboef (1997)
  • K-TV Holiday Fun (pret- en aktiwiteitboek) (1997)

Vir kinders (6 tot 7)[wysig | wysig bron]

  • ’n Dag om te vier!/A day to celebrate (2003)
  • Wie wil wat wees?/Who wants to be what? (2003)
  • Spinnekoppe in die huis/Spiders in the house (2003)
  • Blink gedagtes/Great ideas (met Johan van Lill) (2003)

As samesteller[wysig | wysig bron]

  • Donker veld: spanningsverhale (2002)
  • Die boek van spoke (2004)
  • Donker plekke (2011)

Onder die skuilnaam Leo Bekker[wysig | wysig bron]

  • Dinge met tande (1995)
  • Sprong (1998)

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]