Holothuroidea

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Seekomkommer
Wetenskaplike klassifikasie
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Animalia
Filum: Echinodermata
Klas: Holothuroidea
deBlainville, 1834
Ordes

Verskeie

Holothuroidea (seekomkommers) is 'n klas seediere, wat hoort tot die filum Echinodermata en het 'n kenmerkende wurmagtige tipe lyf wat bedek is met 'n leeragtige vel. Hulle kom wêreldwyd in oseane voor en is oor die algemeen swart, bruin of olyfgroen van kleur. Hul lywe is die buigbaarste van al die stekelhuidiges omrede die harde beenplate verklein het na verspreide mikroskopiese beenagtige gedeeltes in die vleis.

Die mond word omring deur verskeie terugtrekbare tentakels wat vir voeding gebruik word, wat eintlik ontwikkelde buisvoete is. By sommige spesies ontbreek voete aan die bokant en is so skraps aan die onderkant dat die dier oor die seevloer beweeg deur middel van spierbewegings van die lyf. Sommige seekomkommers is aasvreters wat leef op verrotende, organiese materiaal. Ander gebruik hulle taai tentakels om plankton wat onder in die water dryf te vang en dan in hulle monde te druk om dit skoon te lek. Dié seediere staan bekend as suspensievoeders.

Wanneer sommige spesies bedreig word skiet hulle lang, taai, toksiese drade uit hul anusse in 'n poging om die aanvaller vas te woel. Ander het die vermoë om hul lywe se wand te laat oopbars en dan ingewande vry te laat wat giftige chemikalië bevat. Die ingewande en wond sal met tyd toegroei en herstel. Wetenskaplikes het egter tot die slotsom gekom dat die praktyk nie 'n verdedigingsmeganisme is nie maar eerder 'n manier is om hul self te beskerm teen 'n opbou van toksisiteit as gevolg van hul dieet.

Seekomkommers is of 'n mannetjie of 'n wyfie (dus nie-hermafrodieties) en bevrugting vind plaas as 'n resultaat van eiers en sperms wat in die water losgelaat word. Die larwes ondergaan ontwikkelingsfases voordat hulle begin om op die bodem te leef.

In verskeie Oosterse lande is seekomkommers 'n gesogte lekkerny; dit word veral in sop gebruik en is ook in aanvraag vir hulle medisinale waarde. Oor-oesting is egter 'n groot probleem. Seekomkommers leef ook in simbiose saam met onder andere krappe, garnale, seewurms en vis.

Bron[wysig | wysig bron]

  • The Reef Guide: Fishes, corals, nudibranchs & other invertebrates: East & South Coasts of Southern Africa. Dennis King & Valda Fraser. Struik Nature. 2014 ISBN 978-1-77584-018-3