Gaan na inhoud

Johan Kluge

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Johan Paul Kluge (29 November 1947 – 12 Junie 1998) was sedert 1980 kurator van die Laeveld- Nasionale Botaniese Tuin, en was tot 'n groot mate vir die uitleg en botaniese vestiging daarvan verantwoordelik. Hy het ook baie tyd spandeer om sy botaniese kennis op verskillende wyses aan die publiek oor te dra.

Kluge is te Nongoma in KwaZulu-Natal gebore. Hy het sy B.Sc. in 1969 verwerf, sy T.H.O.D. in 1971 en sy B.Sc. Hons in Plantkunde in 1972, waarna hy vir 'n kort wyle 'n Biologie-onderwyser was. In 1973 is hy by die destydse Departement Bosbou as Bosnavorsingsbeampte aangestel, en was eers te Witklip tussen Sabie en Witrivier gebaseer,[1] en daarna by die D.R. de Wet Bosnavorsingstasie naby Sabie.[2] In hierdie tyd het hy in die plaaslike orgideespesies begin belangstel, en dan ook inheemse sowel as uitheemse orgideë begin kweek.[2]

In 1980 het hy suksesvol aansoek gedoen om die pos van kurator by die Laeveld- Botaniese Tuin. Sy belangstelling in primitiewe plante soos die varings en broodbome het op die huisvesting van 'n groot versameling van hierdie plante in die botaniese tuin uitgeloop. Die tuin sou uiteindelik die mees volledige versameling Afrika-broodbome in die wêreld huisves. In 1994 is daar op sy inisiatief begin om 'n Afrika-reënwoud in die tuine te vestig.[1]

Hy was 'n lid van, of betrokke by 'n aantal natuurgeskiedenis- en tuinbouklubs, en verwante verenigings soos die Laeveldse Orgideëvereniging. By die Laeveld-tak van die Botaniese Vereniging het hy uitstappies gelei, en etlike praatjies oor uiteenlopende onderwerpe gelewer. Hy het moeite gedoen om botaniese konsepte aan die leek te verduidelik, en dit met 'n warm, droë sin vir humor oorgedra.[1]

Kluge was jare lank in gereelde kontak met Jo Onderstall (1929–2016), 'n plaaslike kenner van plante, voëls en sampioene wat ook lank in die bestuur van die Laeveldse tak van die Botaniese Vereniging was. In die 1970's was hulle samewerking instrumenteel om 'n ekologies belangrike stuk berggrasveld te bewaar, wat onder meer ryk aan orgideespesies is. Hierdie gebied op die kruin van die platorand was bestem vir 'n nuwe denneplantasie, maar kon weens haar en Johan se samewerking in 'n reservaat omskep word.[3]

Kluge is in 1978 met Louise van der Zeyde getroud. Sy was die dogter van Alfred van der Zeyde wat destyds kurator van die Nasionale Botaniese Tuin op Harrismith was, terwyl Louise se ma weer uitvoerende sekretaris van die Botaniese Vereniging was. Hierdie verbintenisse was moontlik sy aansporing om in 1980 vir die pos van kurator van die Laeveld- Nasionale Botaniese Tuin aansoek te doen. Kluge is op ouderdom 50 oorlede na 'n lang stryd teen kanker, en is oorleef deur sy vrou, Louise, en hul drie kinders, Leon, Karin en Tanja.[1]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Burrows, John (September 1998). "In memoriam: Johan Kluge 1947–1998". Veld & Flora. Sabinet Gateway (2012): 79. Besoek op 25 Mei 2024.
  2. 2,0 2,1 Kluge, Johan (Desember 1979). "'n Paar Laeveldse Orgideë". Veld & Flora. Sabinet Gateway (2012): 107-108. Besoek op 25 Mei 2024.
  3. "Jo Onderstall will be missed". Laevelder (in Engels). 1 April 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2016. Besoek op 4 April 2016.