Kupido (sanger)
Kupido | |
---|---|
Geboortenaam | Johan Wessels |
Gebore | Lusaka, Noord-Rhodesië (nou Zambië) | 28 Oktober 1953
Oorsprong | Noord-Rhodesië |
Sterf | 22 Februarie 2016 (op 62) Middelburg, Suid-Afrika |
Genres | Afrikaans, Country |
Beroep(e) | Sanger, liedjieskrywer |
Jare aktief | 1983 – omstreeks 2000 |
Assosiasies | Quattro |
Kupido, die verhoognaam van Johannes Matheus (Johan) Wessels (Lusaka, Noord-Rhodesië, 28 Oktober 1953 – 22 Februarie 2016), was 'n Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer van Zambiese herkoms.
Wessels is in 'n Engelssprekende gesin gebore in die destydse kolonie Noord-Rhodesië, wat op 24 Oktober 1964, vier dae voor sy 11de verjaardag, die onafhanklike republiek Zambië geword het. Hy het ook daar skoolgegaan en toe al in konserte opgetree en in musiek belanggestel. As die oudste in 'n musikale gesin van 12 kinders het hy op hul beesplaas altyd die voortou geneem wanneer die gesin hulself moes vermaak. Van kleins af was hy besig om kitaar te speel en liedjies te skryf. In Lusaka het hy saam met 'n orkes, Big Gold Six, begin sing.
Die gesin Wessels het in 1979 na Suid-Afrika verhuis en hulle op 'n plasie naby Ogies in die huidige provinsie Mpumalanga gevestig. Hier het Johan Wessels begin boer, maar later was hy ook vragmotorbestuurder, haarkapper en kok. In dié tyd het hy 'n opdraande stryd gevoer om raakgesien te word, tot hy van sy opnames op kasset na Cora Marie gestuur het. Sy en haar man, Corrie Myburgh, het Wessels 'n platekontrak aangebied en besluit die naam Kupido sal beter in die musiekbedryf werk as sy geboortenaam.
Die naam Kupido is gekies omdat hy meestal liefdesliedjies geskryf en gesing het. Kupido het in 1981 saam met die sangeres Cora Marie begin optree. Sy grootste treffer, Was Ek Maar 'n Digter, was so gewild dat die plaat goud was voor dit op die rakke beskikbaar was. In 1982 was die liedjie die enigste Afrikaanse lied op die destydse Springbokradio se top-20-treffersparade.
In 1983 is Kupido en Cora Marie se duet plaat Country in Harmonie vrygestel. Plaat na plaat het gevolg, met meeste van die oorspronklike Afrikaanse liedjies uit Kupido se eie pen. Hulle het vir 11 jaar saamgewerk tot Cora se afsterwe in 1994.
Kupido se talent as liedjieskrywer is wyd bekend en hy het groot treffers vir sangers soos Cora Marie, Johan Stemmet en Laurika Rauch geskryf.
Kupido het in 1997 die groep Quattro gestig saam met sy broer Alan Ladd en sy susters Cleo en Angela.[1]
Kupido het 'n gospelalbum U Regte Weë in 2009 uitgereik.
In 2012 deel hy sy herinneringe oor wyle Cora Marie in die biografie "Gee Haar 'n Roos-Die Lewensverhaal van Cora Marie" met die skrywer Shaun Mynhardt. Hy is vroeg op 22 Februarie 2016 in sy slaap oorlede aan hartversaking in Middelburg tydens 'n besoek aan sy suster. Hy was 62 jaar oud.[2] Sy begrafnis het plaasgevind op die plaas Karibuni, distrik Zeerust, Noordwes, op Vrydag, 26 Februarie 2016.
Diskografie
[wysig | wysig bron]- U Regte Weë, FANTASIA
- Terug uit Afrika, FANTASIA
- Die Wessels Familie (in harmonie)
- Deur Die Bloed Gebind, FANTASIA
- Heart And Soul Of Kupido, CRESCENDO
- Was Ek Maar 'n Digter, PANORAMA
- Dis Kersfees, Lui die Klokke (Kersfeesalbum saam met Jurie Els, Cleo, Sonja Herholdt Simeon Hamman en Mike & Eileen),1996 BMG (nou Sony)
- Liefde Sal Oorwin
- Country in Harmonie, saam met Cora Marie, 1983 CBS INC/GRAMAPHONE CO/PANORAMA
- 50 – 50 LP, saam met Cora Marie, CBS
- Warm Country Hart / Jy Is Hier By My 7, 1985 PANORAMA
- Voorspoedige Lewensjaar / Min Dae 7, saam met Cora Marie, 1984 PANORAMA
- Die Klokkespel, saam met Laurika Rauch, Johan Stemmet en Cora Marie, 1983
- Was Ek Maar ´n Digter / Vanaand Verlang Ek 7, 1982 PANORAMA
Sien ook
[wysig | wysig bron]Bron
[wysig | wysig bron]- (af) Pretorius, Danie C. 1998. Musieksterre van gister en vandag. Pretoria: J.P. van dr Walt.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Kupido is terug en sy Quattro kan naam maak Geargiveer 3 Maart 2016 op Wayback Machine, Beeld, 12 November 1997.
- ↑ "Kupido sterf op 62". Maroela Media. 24 Februarie 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 November 2019. Besoek op 18 September 2016.