Jong Dames Dinamiek

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search

Jong Dames Dinamiek was ’n landswye (in Suid-Afrika) vroue-organisasie wat met alle kulture netwerk en vroue bemagtig het. Die organisasie was nie-polities en lidmaatskap was oop aan alle vroue met die doel om te netwerk en hulleself en ander vroue te bemagtig. Die leuse van JDD was: "Deugsaam en Dinamies". Deugsaam verwys na die deugsame vrou van Spreuke 31 en is die doel van die aktiwiteite van JDD. Dinamies verwys na die dinamiese groei en ontwikkeling van die organisasie en haar lede.

Doelstelling[wysig | wysig bron]

JDD het daarna gestreef om 'n positiewe verskil in die lewe van vroue te maak.

Ontstaan[wysig | wysig bron]

Die organisasie is in 1977 gestig toe daar onder jong Afrikaanssprekende vroue die behoefte ontstaan het aan ’n organisasie wat vroue bemagtig en ondersteun. Die eerste tak is op 10 Augustus 1977 by RAU in Johannesburg gestig en op 30 September 1987 word JDD ’n volwaardige lede-organisasie met hul eie hoofbestuur. Verskeie nuwe takke word steeds landswyd gestig.

Lidmaatskap[wysig | wysig bron]

Voor Januarie 2011 kon slegs vroue tussen die ouderdomme van 18 en 40 aan die JDD behoort. Vir vroue bo 40 jaar oud was daar die Vriende van JDD wat saam met JDD-lede vergader en gewoeker het. Vanaf Januarie 2011 word JDD lidmaatskap egter aan vroue van alle ouderdomme verleen.[1]

Wat JDD lede bied[wysig | wysig bron]

JDD bied besondere geleenthede aan die moderne vrou vir intellektuele stimulasie en die geleentheid om nuwe opinies en visies te vorm; die ontwikkeling van vriendskappe met ander vroue van haar portuur; die geleentheid om talente te ontwikkel; die uitbreiding van algemene en mensekennis; die ontwikkeling van die vrou deur deelname en samewerking binne takverband; geleenthede in die bewaring van waardevolle kuns- en kultuurskatte; geleentheid om leierseienskappe te ontwikkel; en ’n platform om in die gemeenskap betrokke te raak.

Werking[wysig | wysig bron]

JDD funksioneer op ’n takgrondslag, waar daar maandeliks vergaderings gehou word. JDD se doel met hierdie maandvergaderings is om kennis en vaardighede binne elke tak te ontwikkel en vroue te verryk. JDD het doelgerigte projekte wat aangepak word ter ontwikkeling van die lede en die gemeenskap. Interaksie en samewerking met ander organisasies op nasionale en plaaslike vlak word aangemoedig.

Dagboek[wysig | wysig bron]

Die JDD-dagboek word sedert 1986 gepubliseer. Dit is ’n tweetalige (Afrikaans en Engels) bladsy-per-dag-dagboek wat elke jaar kunswerke van ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar bevat. Dagboeke is jaarliks vanaf September by JDD se hoofkantoor, hoofbestuurslede, JDD-takke en verskeie winkels beskikbaar.

Bestuur[wysig | wysig bron]

Die Nasionale Vergadering wat saamgestel word uit afgevaardigdes van al die takke landwyd, is die hoogste gesagsliggaam van JDD. Hierdie vergadering vind elke twee jaar plaas. By hierdie geleentheid word die Hoofbestuur verkies. Die bestuur gee leiding en inligting deur aan die takke landwyd en bestuur die organisasie. JDD-takke word in die verskillende streke georganiseer en elke streek verkies elke twee jaar hul streekverteenwoordiger tydens ’n takbestuursopleiding. ’n Streekverteenwoordiger tree raadgewend en sameroepend op en is die amptelike skakel tussen die hoofbestuur en die takke. Elke tak verkies elke jaar hul eie takbestuur wat verantwoordelik is vir plaaslike sake, organisering van maandvergaderings en projekte.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Du Plessis, Morné (12 Februarie 2011). "Jong Dames Dinamiek verwelkom nou alle ouderdomme" (html). Rapport. Besoek op 27 Mei 2012.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]