Koos du Plooy
Ds. Koos du Plooy | |
Ds. Jacobus Stephanus du Plooy
| |
Naam | Jacobus Stephanus du Plooy |
---|---|
Geboorte | 16 Januarie 1938 Johannesburg, Transvaal] |
Sterfte | 14 Oktober 1982 (op 44) Postmasburg |
Kerkverband | Gereformeerd |
Gemeente(s) | Vanderbijlpark-Suid 1963–1966 Postmasburg 1966–1982 |
Jare aktief | 1963–1982 |
Kweekskool | Potchefstroom |
Ds. Jacobus Stephanus du Plooy (noemnaam Koos, Johannesburg, 16 Januarie 1938 – Postmasburg (waarskynlik), 14 Oktober 1982) was predikant in twee Gereformeerde kerke, naamlik Vanderbijlpark-Suid van 1963 tot 1966 en daarna Postmasburg tot sy onverwagte dood weens ’n hartaanval in die ouderdom van 44 jaar.
Lewensloop
[wysig | wysig bron]Koos du Plooy was die oudste seun van ds. J.F. (Jan Frederik) du Plooy en mev. Johanna Magrieta du Plooy (nee Le Roux), predikantspaar van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Oos (Jeppe) ten tyde van hul eersteling se geboorte. Nadat hy gematrikuleer het, skryf hy in 1955 aan die PU vir CHO in vir die B.A.- en Th.B.-graad. Hy behaal die B.A. in 1958 en die Th.B. in 1962. As student het hy veral in die studie van Grieks, Hebreeus en Latyn uitgeblink. As sportman het hy voetbal vir die eerste span van die universiteit en ook vir Wes-Transvaal gespeel.
As studenteleier is hy tot studenteraadsvoorsitter verkies en ontvang ook die Abe Baileybeurs vir 'n oorsese reis. In Februarie 1963 is hy deur sy vader as die eerste predikant van Vanderbijlpark-Suid bevestig. Drie jaar later het hy 'n beroep na Postmasburg aanvaar, waar hy tot sy dood gebly het. In dié tyd, 1974, het hy net enkele vakke vir die graad B.Juris. gekort.
Waardering
[wysig | wysig bron]Ds. J.L. Ras skryf in sy lewensberig in die GKSA se Almanak van 1984: "In die gemeente van Postmasburg is met groot dankbaarheid melding gemaak van sy ywerige en voortreflike bediening. Hy was 'n dinamiese prediker. In die kerkverband het hy 'n leidende rol gespeel. In die Klassis Griekwaland-Wes en Partikuliere Sinode Noordwes was hy 'n leier. Telkemale was hy voorsitter van hierdie vergaderings. Hy was ook 'n aantal jare lid van die Kuratore van die Hammanskraalse en Potchefstroomse Teologiese Skool. Daarbenewens het hy in verskeie deputaatskappe van die Nasionale Sinode gedien.
Ds. Ras skryf: "Hierdie gelowige kind van God het gewerk en gedien soos iemand wat geweet het dat sy tyd min was. Aan die Here die dank vir so 'n besondere mens — 'n vriend, 'n broer, 'n seun, 'n eggenoot en vader, 'n kollega, 'n bedienaar van die Woord!"
Breër betrokkenheid
[wysig | wysig bron]Ds. Du Plooy het ook buite die grense van sy kerk op Postmasburg en in Noord-Kaapland in die gemeenskap diens gelewer. As voorsitter van drie skoolkomitees en die skoolraad en die beheerraad van die Elizabeth Conradie-skool in Kimberley het hy die onderwys en jeug van sy volk gedien. In die Weermag het hy die rang van majoor beklee.
Vanaf 1969 was hy voorsitter van Griekwaland-Wes se Ontwikkelingsvereniging. In 1973 het die kabinet hom aangestel as voorsitter van die latere Noord-Kaaplandse Administrasieraad. In 1980 is hy verkies tot adjunkpresident van die Raad van Voorsitters en Hoofdirekteure van Administrasierade en tot lid van die Nywerheidsraad van hierdie liggaam. As bewys van erkenning is die kantore van die Administrasieraad in Kimberley na hom genoem.
Gesinslewe en dood
[wysig | wysig bron]Op 5 Oktober 1963 is ds. Du Plooy met Martie (Martha Louisa) Goulding getroud. Uit die huwelik is 'n seun en drie dogters gebore. Op 14 Oktober 1982 het hy plotseling weens 'n hartaanval beswyk. Sy vader het hom met langer as 10 jaar oorleef en is oorlede op 28 November 1992.
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Ras, ds. J.L. in De Bruyn, ds. F.R.P. 1984. Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1984. Potchefstroom: Administratiewe Buro.