Laerskool Melpark

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Laerskool Melpark

Die Laerskool Melpark (amptelik Melpark Primary School) is ’n primêre Engelsmedium-staatskool in die Johannesburgse voorstad Melville.

Die skool se geskiedenis strek terug tot 1905 met die stigting van die Melville School. Aanvanklik is klasse in tente gehuisves en toe in ’n woonhuis, tot die eerste skoolgebou in Tweede Laan in 1909 betrek is. Reeds in 1913 moes bykomende klaskamers gebou word. Destyds was die onderrigmediums Hollands en Engels in dubbelmediumklasse tot gr. 6. Nadat die skool weer te klein geword het, is van die klasse gehuisves in die NG gemeente Melville (gestig in 1920) se kerksaal.

Omdat die skool steeds aanhou groei het, is die Hollandse klasse oorgeskuif na die nuwe Afrikaansmediumskool die Aucklandparkse Laerskool. Vir die volgende amper 70 jaar het twee laerskole dus in die omgewing bestaan: die Engelstalige Melville Primary School en die Afrikaanstalige Aucklandparkse Laerskool.

Weens ’n afname in die loop van die 1980’s en vroeë 1990’s in albei skole se leerdertal is besluit om die skole in ’n parallelmediumskool te kombineer. So het die leerders en onderwysers van die Aucklandparkse Laerskool, in Eerste Laan oorkant die Gereformeerde kerk Johannesburg-Noord, op 2 Augustus 1992 oorgeskuif na die perseel van Melville Primary School, in Tweede Laan, 'n hanetree van die NG kerk Melville af. ’n Kompetisie is onder die leerders gereël om ’n naam vir die skool te kies en die gewildste voorstel was Melpark, ’n samestelling van die twee vorige name. Daarna het 'n skool vir minderbevoorregte leerders met spesiale behoeftes, Sparrow, die Aucklandparkse skoolgebou oorgeneem.[1]

Die Laerskool Melpark Primary School het net sowat agt jaar as parralelmediuskool bestaan, want teen 2000 het die Afrikaanse leerders sodanig afgeneem dat dié onderrigmedium afgeskaf is. Sedertdien is die skool Engelsmedium en die leerders hoofsaaklik swart.

Bron[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) Inligting oor Sparrow School. URL besoek op 15 Januarie 2018.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Koördinate: 26°10′36″S 28°00′19″O / 26.17667°S 28.00528°O / -26.17667; 28.00528