Berg Everest

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Mount Everest)
Spring na: navigasie, soek
Berg Everest
Berg Everest gesien vanaf Kala Patthar in Nepal
Berg Everest gesien vanaf Kala Patthar in Nepal
Ligging Solukhumbu Distrik, Sagarmatha Sone, Nepal. Tingri-streek, Xigazê-prefektuur, Tibet, Sjina
Hoogte 8 848[1] meter
Prominensie 8 848
Reeks Himalaja
Koördinate 27°59′17″N 86°55′31″O / 27.98806°N 86.92528°O / 27.98806; 86.92528Koördinate: 27°59′17″N 86°55′31″O / 27.98806°N 86.92528°O / 27.98806; 86.92528
Eerste bestyging 29 Mei 1953
Eerste bestyger(s) Edmund Hillary
Tenzing Norgay
Maklikste roete Rotsklim/Sneeu, Suidelike roete
Ligging van Berg Everest op 'n kaart (Nepal)
Berg Everest
Berg Everest

Berg Everest (Nepali: सगरमाथा Sagarmāthā; Sjinees: 珠穆朗玛峰 Zhūmùlǎngmǎ Fēng; Tibettaans: ཇོ་མོ་གླང་མ Chomolungma) is 'n berg in die Himalajagebergte wat op die grens tussen Nepal en Tibet geleë is. Met sy hoogte van 8 848 meter is dit die hoogste berg op land. Berg Everest is egter nie die hoogste berg op die planeet nie; die Mauna Kea (Hawaii) is vanaf die seebodem gemeet die hoogste. Die berg is genoem na die Britse geoloog Sir George Everest.

Opwaarts na die Kruin[wysig | wysig bron]

Everest se kruin kan deur twee hoofroetes bereik word - een teen die noordelike hang van die berg, en die ander teen die suidelike hang.

Klimmers moet deur 'n lang akklimatiseringsproses gaan, wat behels om stelselmatig hoër teen die berg uit te klim, dan weer af tot 'n laer gedeelte, om hulle liggame tyd te gee om aan te pas.

Die finale aanpassingsproses begin nadat klimmers een van die twee basiskampe bereik het (afhangende van watter roete hulle na die piek wil volg). Die basiskampe lê albei op 'n hoogte van net oor die 5000m, met die noordelike basiskamp in Tibet en die suidelike basiskamp in Nepal. Hierdie akklimatiseringsproses kan 4 tot 6 weke duur voordat 'n klimmer gereed is om die kruin aan te durf.[2]

Naby die berg se kruin raak die lug te dun vir die menslike liggaam om behoorlik te funksioneer, met slegs ongeveer 30% van die suurstofinhoud wat jy op seevlak sou hê. Die meerderheid bergklimmers kan nie die kruin sonder ekstra suurstof, wat in silinders op hulle rug gedra word, bereik nie.

Die onvoorspelbare weersomstandighede hoog teen die berg veroorsaak dikwels probleme, en die tydsberekening van 'n aanslag op die kruin het 'n groot invloed op die sukses daarvan.

Klimgeskiedenis[wysig | wysig bron]

Die Britse ekspedisie van 1922 was die eerste wat geloods is met die uitsluitlike doel om die kruin van Everest te bereik. Dit was wel voorafgegaan deur nog 'n Britse ekspedisie in 1921, wat ten doel gehad het om moontlike roetes na die piek te identifiseer. Die 1922 ekspedisie het met 3 afsonderlike pogings om die kruin via die noordelike hang van die berg te bereik misluk. Tydens die derde poging lei 'n sneeustorting tot die dood van 7 draers, en beëindig die ekspedisie. Dit was die eerste aangetekende sterfgevalle op Everest.

In 1924 loods die Britte weer 'n ekspedisie om die kruin van Everest te probeer bereik. Weereens is daar twee mislukte pogings voordat George Mallory (wat lid was van al die Britse ekspedisies na Everest in die 1920's) saam met die onervare klimmer Andrew Irvine 'n finale aanslag op die kruin maak.

Irvine en Mallory word nie weer lewend gesien nie, en hulle lot is tot vandag toe nog in onsekerheid gehul. Die ontdekking van Mallory se lyk teen die noordelike hang van Everest in 1999 kon ongelukkig nie die tergendste vraag in hierdie berg se geskiedenis antwoord nie: was Mallory en Irvine die eerste mense op die kruin van Everest?[3]

Die volgende 9 ekspedisies (vyf in die 1930's, een in 1947 en drie in die vroeë 1950's), misluk almal.

Uiteindelik, op 29 Mei 1953, word die Brit Edmund Hillary en die Sherpa Tenzing Norgay amptelik die eerste mense om Everest suksesvol uit te klim, en wel via die suidelike roete.

Op 8 Mei 1978 word Reinhold Messner en Peter Habeler die eerste klimmers om die kruin van Everest sonder die gebruik van ekstra suurstof te bereik[4].

Kommersiële Ekspedisies[wysig | wysig bron]

Everest is 'n groot trekpleister vir klimmers, en kommersiële ekspedisies na die piek word al vir dekades gedoen.

Die grootste skadu oor hierdie praktyk het tydens die 1996 klimseisoen geval, toe 'n katastrofiese sneeustorm op die aand van 10 Mei tot die dood van 8 mense tydens hulle aanslag op die kruin gelei het.[5] In totaal sterf 12 mense in 1996 teen die hange van Everest.

Meer onlangs, op 18 April 2014, sterf 16 Nepalese gidse in 'n sneeustorting in die Khumbu Icefall, net bo die suidelike basiskamp van Everest.

Die kommersialisering van Everest bly 'n omstrede onderwerp. Die lyke van gestorwe klimmers lê gesaai teen die berg omdat dit onmoontlik is om hulle op daardie ekstreme hoogtes te herwin, en die versameling van menslike afval en rommel teen die berg word 'n groot probleem. Tot op hede het meer as 250 klimmers op Everest gesterf.

Galery[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "Mount Everest, China/Nepal" Peakbagger.com. Besoek op 30 April 2015.
  2. >http://www.bodyresults.com/climbing-everest-training.asp
  3. Hemmleb, Jochen - Ghosts of Everest: The Search for Mallory and Irvine
  4. http://earthsky.org/earth/this-date-in-science-mount-everest-without-supplemental-oxygen
  5. Krakauer, John - Into Thin Air

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]