Nieu-Seelandse nasionale krieketspan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Nieu-Seeland
Flag of New Zealand.svg
BynaamBlack Caps, Kiwis
KonferensieNieu-Seeland Krieket
Personeel
ToetskapteinKane Williamson
EDI-kapteinKane Williamson
T20I-kapteinKane Williamson
AfrigterGary Stead
Geskiedenis
Toetsstatus verkry1930
Internasionale Krieketraad
IKR-statusVolle lid (1926)
IKR-streekOos-Asië-Pasifiek
IKR-ranglys Tans[1] Beste rang tot dusver
Toetsrang4de2de
EDI3de2de
T20I6de1ste
Toetse
Eerste toetst Vlag van Engeland Engeland op Lancasterpark, Christchurch; 10–13 Januarie 1930
Laaste toetst Vlag van Australië Australië op Sydney-krieketveld, Sydney; 3–6 Januarie 2020
Toetse Gespeel Gewen/Verloor
Totaal[2]44099/175
(166 onbeslis, 0 geen uitslag)
Vanjaar[3]10/1 (0 onbeslis)
Internasionale eendagwedstryde
Eerste EDIt Vlag van Pakistan Pakistan op Lancasterpark, Christchurch; 11 Februarie 1973
Laaste EDIt Vlag van Indië Indië op Bay-ovaal, Mount Maunganui; 11 Februarie 2020
EDIs Gespeel Gewen/Verloor
Totaal[4]771351/373
(7 gelykop, 40 geen uitslag)
Vanjaar[5]33/0
(0 gelykop, 0 geen uitslag)
verskynings tydens wêreldbeker-toernooie12 (eerste in 1975)
Beste uitslagNaaswenner (in 2015 en 2019)
Twintig20s
Eerste T20It Vlag van Australië Australië op Edenpark, Auckland; 17 Februarie 2005
Laaste T20It Vlag van Indië Indië op Bay-ovaal, Mount Maunganui; 2 Februarie 2020
T20Is Gespeel Gewen/Verloor
Totaal[6]13161/59
(8 onbeslis, 3 geen uitslag)
Vanjaar[7]50/3
(2 onbeslis, 0 geen uitslag)
Verskynings by T20-wêreldbeker-toernooie6 (eerste in 2007)
Beste uitslagHalfeindrondte (in 2007 en 2016)
Toetsklere
EDI-klere
T20I-klere

Die Nieu-Seelandse nasionale krieketspan, met die bynaam Black Caps of Kiwis, is die nasionale krieketspan wat Nieu-Seeland in toetse en kitskrieket verteenwoordig. Hulle het hul eerste toets in 1930 teen Engeland in Christchurch, Nieu-Seeland, gespeel en daarmee die wêreld se vyfde toetsland geword. Die span kon eers in 1955–1956 ’n toets wen, teen Wes-Indië op Edenpark in Auckland.[8] Hulle het hul eerste internasionale eendagwedstryd in die 1972–1973-seisoen teen Pakistan in Christchurch gewen.

Die huidige toets-, eendag- en Twintig20-kaptein is Kane Williamson, wat Brendon McCullum vervang het. McCullum vervang Ross Taylor, wat Daniel Vettori opgevolg het nadat hy uitgetree het ná die Krieketwêreldbeker 2011. Vettori het Nieu-Seeland se suksesvolste kaptein, Stephen Fleming, wat Nieu-Seeland tot 28 toetsoorwinnings gelei het – meer as twee keer soveel as enige ander Nieu-Seelandse kaptein – vervang.

Die Nieu-Seelandse krieketspan het bekend geword as die "Black Caps" in Januarie 1998, nadat sy eertydse borg, Clear Communications, ’n kompetisie uitgeskryf het om ’n naam vir die span te kies.[9] Dit is een van talle byname vir Nieu-Seelandse nasionale spanne wat verband hou met die All Blacks. Die nasionale span word bestuur deur Nieu-Seeland Krieket (NZC, van Engels: New Zealand Cricket).

Teen 16 Februarie 2020 het Nieu-Seeland reeds 1324 internasionale wedstryde gespeel, 505 gewen, 599 verloor, 12 geëwenaar, 165 gelykop en 43 onbeslis.[10] Nieu-Seeland is tans (16 Februarie 2020) vierde op die IKR-toetsranglys, derde op die eendagranglys, en sesde op die Twintig20-wêreldranglys.[11][12][13]

Nieu-Seeland het tot dusver twee keer as medegasheer van ’n krieketwêreldbekertoernooi opgetree (in 1992 en 2015), in albei gevalle saam met Australië; hulle het ook twee keer tot die eindstryd van dié toernooi gevorder (in 2015 en 2019), maar is deur onderskeidelik Australië en Engeland in die eindstryd verslaan. Nieu-Seeland het Suid-Afrika in die halfeindstryd van die Krieketwêreldbeker 2015 verslaan, hul eerste oorwinning in ’n wêreldbekerhalfeindstryd en sodoende vir die eerste keer in ’n wêreldbekereindstryd verskyn, maar uiteindelik teen hul trans-Tasmanse teenstanders Australië verloor.[14] In die volgende krieketwêreldbekertoernooi in 2019 het Nieu-Seeland weer die eindstryd gemaak, maar naelskraaps teen Engeland volgens aangetekende grenshoue verloor, nadat beide die wedstryd en die volgende superboulbeurt gelykop geëindig het.[15][16][17][18]

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die begin van krieket in Nieu-Seeland[wysig | wysig bron]

Die predikant Henry Williams verskaf geskiedenis met die eerste berig oor ’n krieketwedstryd in Nieu-Seeland, wanneer hy in sy dagboek in Desember 1832 oor krieketspelende seuns rondom Paihia aan die Horotutu-strand skryf. In 1835 besoek Charles Darwin met sy HMS Beagle tydens sy beroemde omseiling van die aarde die Bay of Islands en Darwin sien, hoe bevryde Māori-slawe en die seun van ’n sendeling in Waimate North krieket speel. Darwin skryf in The Voyage of the Beagle soos volg:[19]

verskeie jong mans wat deur die sendelinge uit slawerny verlos is, is op die plaas in diens geneem. In die aand het ek ’n partytjie van hulle sien krieket spel.

Die eerste bekende krieketwedstryd in Nieu-Seeland het in Desember 1842 in Wellington plaasgevind. Die Wellington Spectator berig oor ’n wedstryd op 28 Desember 1842 tussen ’n "rooi"- en ’n "blou"-span van die Wellington-klub. Die Examiner in Nelson berig oor die eerste amptelike bekende wedstryd tussen die Surveyors en Nelson in Maart 1844.

Die eerste span wat na Nieu-Seeland getoer het was Parr se All Engeland-span in 1863–64.[20] Tussen 1864 en 1914 het 22 buitelandse spanne na Nieu-Seeland getoer. Ses spanne was uit Engeland, 15 uit Australië en een uit Fidji.

Die eerste nasionale span[wysig | wysig bron]

Op 15–17 Februarie 1894 het die eerste verteenwoordigende span uit Nieu-Seeland teen Nieu-Suid-Wallis op Lancasterpark in Christchurch gespeel. Nieu-Suid-Wallis het dié wedstryd met 160 lopies gewen. Nieu-Suid-Wallis het in 1895–96 teruggekom en Nieu-Seeland het die eensame wedstryd met 142 lopies gewen, hul eerste oorwinning. Die Nieu-Seelandse Krieketraad is aan die einde van 1894 gestig.

Nieu-Seeland het sy eerste twee internasionale wedstryde (nie toetse nie) in 1904–05 teen ’n sterbesaaide Australiese span met spelers soos Victor Trumper, Warwick Armstrong en Clem Hill gespeel. Reën het Nieu-Seeland van ’n afranseling in die eerste wedstryd beskerm, maar nie in die tweede nie, wat Nieu-Seeland met ’n beurt en 358 lopies verloor het – tans die tweede hoogste nederlaag in Nieu-Seeland se eersterangse geskiedenis.

Tussenoorlogse tydperk[wysig | wysig bron]

In 1927 het Nieu-Seeland na Engeland getoer. Hulle het 26 eersterangse wedstryde gespeel, meestal teen county-spanne. Hulle het sewe wedstryde gewen, insluitende dié teen Worcestershire, Glamorgan, Somerset en Derbyshire. Na sy sterk prestasie is aan Nieu-Seeland as vyfde nasie toetsstatus toegeken.

In 1929/30 het die MCC na Nieu-Seeland getoer en vier toetse gespeel, almal het drie dae geduur. Nieu-Seeland het sy eerste toetswedstryd met 8 paaltjies verloor,[21] maar kon die volgende drie ewenaar. In die tweede toets kon Stewie Dempster en John Mills 276 lopies om die eerste paaltjie aanteken. Dit is nog steeds die hoogste vennootskap vir Nieu-Seeland teen Engeland. Nieu-Seeland het in 1931–32 vir die eerste keer teen Suid-Afrika in ’n drie-toetsreeks gespeel, maar was nie in staat nie om ’n wedstryd teen ’n ander span as Engeland te wen voordat die Tweede Wêreldoorlog alle internasionale krieketwedstryde vir sewe jaar sal stopsit nie. ’n Toetstoer deur Australië, beplan vir Februarie en Maart 1940 is ná die uitbreek van die oorlog afgelas.[22][23][24]

Ná die Tweede Wêreldoorlog[wysig | wysig bron]

Nieu-Seeland se eerste toets ná die oorlog was teen Australië in 1945/46. Dié wedstryd is destyds nie as ’n toets beskou nie, maar is in Maart 1948 deur die Internasionale Krieketraad terugwerkende toetsstatus toegeken. Die Nieu-Seelandse spelers wat in hierdie wedstryd gespeel het, het die besluit deur die IKR nie verwelkom nie, omdat Nieu-Seeland met 42 en 54 lopies onderskeidelik verloor het. Weens die Nieu-Seelandse Krieketraad se onwilligheid om Australiese spelers ordentlike toelae vir toere na Nieu-Seeland te betaal was dit die enigste toets tussen Australië en Nieu-Seeland in die tydperk vanaf 1929 tot 1972.

In 1949 het Nieu-Seeland een van sy beste spanne nog na Engeland gestuur. Dié span het spelers soos Bert Sutcliffe, Martin Donnelly, John R. Reid en Jack Cowie ingesluit. Toetse van drie dae het egter daartoe gelei dat al vier toetse gelykop was. Baie beskou die 1949-toer na Engeland as een van Nieu-Seeland se beste toerprestasies nog. In al die vier toetse is hoë tellings aangeteken, ondanks die feit dat hulle gelykop was en Martin Donnelly se 206 op Lord’s word as een van die beste boulbeurte nog op dié krieketveld beskou.[25] Ondanks die feit dat hulle sonder oorwinning was, het Nieu-Seeland ook nie ’n toets verloor nie. Voorheen het net die legendariese Australiese 1948-span onder die ster Don Bradman daarin geslag.

Nieu-Seeland het sy eerste wedstryd teen Wes-Indië in 1951–52, asook beide Pakistan en Indië in 1955/56 gespeel.

In 1954/55 het Nieu-Seeland die laagste beurttelling nog aangeteken, 26 teen Engeland. In die volgende seisoen het Nieu-Seeland sy eerste toetsoorwinning behaal. Die eerste drie toetse van ’n vier-toetsreeks kon Wes-Indië maklik wen, maar Nieu-Seeland het die vierde met 190 lopies gewen en sodoende sy eerste toetsoorwinning behaal.[26] Dit het 45 wedstryde en 26 jaar geneem voordat hulle dié mylpaal kon bereik.

Gedurende die volgende 20 jaar kon Nieu-Seeland net sewe verdere toetse wen. Vir die grootste deel van hierdie tydperk het Nieu-Seeland nie oor ’n eersterangse bouler wat hul aanvalle kon lei beskik nie, alhoewel hulle met Bert Sutcliffe en Glenn Turner oor twee uitstekende kolwers en met John R. Reid oor ’n goeie veelsydige speler beskik het.

Reid het Nieu-Seeland tydens ’n toer na Suid-Afrika in 1961–62 gelei, waar die vyf-toetsreeks 2–2 onbeslis geëindig het. Die oorwinnings in die derde en vyfde toets was die eerste oorsese oorwinnings waarin Nieu-Seeland kon slaag. Reid het tydens dié toer 1 915 lopies aangeteken, en sodoende ’n nuwe rekord vir die meeste lopies deur ’n besoekende kolwer in Suid-Afrika aangeteken.[27]

Nieu-Seeland het sy eerste toetsreeks tydens sy toer van drie wedstryde in 1969/70 na Pakistan met 1–0 gewen.[28]

1970 tot 2000[wysig | wysig bron]

Telbord – Basin Reserve in Februarie 1978. Nieu-Seeland se eerste oorwinning oor Engeland
Toetswedstryd tussen Indië en Nieu-Seeland op Basin Reserve in Wellington, 1981

In 1973 het Richard Hadlee debuteer en die tempo waarteen Nieu-Seeland toetse kon wen, het dramaties toegeneem. Hadlee was een van die beste snelboulers van sy generasie, en hy het in 86 toetse vir Nieu-Seeland verskyn, voordat hy in 1990 afgetree het. Van hierdie 86 toetse wat Hadlee vir Nieu-Seeland gespeel het, het hulle 22 gewen en 28 verloor. In 1977/78 kon Nieu-Seeland sy eerste toets teen Engeland wen, in die 48ste poging. Hadlee het tien paaltjies tydens die wedstryd geneem.

Gedurende die 1980’s het Nieu-Seeland ook oor sy beste kolwer nog, Martin Crowe, en ’n aantal goeie spelers soos John Wright, Bruce Edgar, John F. Reid, Andrew Jones, Geoff Howarth, Jeremy Coney, Ian Smith, John Bracewell, Lance Cairns, Stephen Boock en Ewen Chatfield beskik, wat almal in staat was om die een of ander wedstryd te wen en waardevolle bydrae tot ’n toetswedstryd te lewer.

Die beste voorbeeld van Nieu-Seeland se twee sterspelers (R. Hadlee en M. Crowe) wat ’n verskil in wedstryde kon maak en ander spelers wat goeie bydraes lewer is Nieu-Seeland teen Australië in 1985 in Brisbane. In Australië se eerste beurt neem Hadlee 9–52. In Nieu-Seeland se enigste draai by die kolf behaal M Crowe 188 en John F. Reid 108. Edgar, Wright, Coney, Jeff Crowe, V. Brown, en Hadlee teken tussen 17 en 54* aan. In Australië se tweede beurt neem Hadlee 6–71 en Chatfield 3–75. Nieu-Seeland wen met ’n beurt en 41 lopies.

Eendagkrieket het aan Nieu-Seeland ook kans gegee om meer gereeld teen die beter spanne van die krieketwêreld mee te ding. In eendagkrieket hoef die kolwer nie honderdtalle aan te teken nie en die bouler hoef nie die teenstander uit te boul om wedstryde te wen nie. Eendagwedstryde kan gewen word deur een kolwer wat ’n vyftigtal en ’n paar ander wat 30’s aanteken, die boulers boul ekonomies en almal doen ’n goeie veldwerk. Dit is die vereistes waaraan Nieu-Seelandse spelers gereeld voldoen en sodoende ’n goeie EDI-rekord teen al die ander spanne kon ontwikkel. Op die manier kon Nieu-Seeland tydens die eerste twee krieketwêreldbekertoernooie (in 1975 en 1979) in Engeland tot die halfeindrondte vorder. Tydens die volgende twee toernooie (in 1983 en 1987) was Nieu-Seeland egter minder suksesvol en is reeds in die groepfase uitgeskakel.

Nieu-Seeland se waarskynlik bekendste EDI-wedstryd is die "onderarm"-wedstryd teen Australië op die Melbourne-krieketveld in 1981. Nieu-Seeland het ses lopies met die laaste aflewering benodig om die wedstryd gelykop te laat eindig, maar die Australiese kaptein Greg Chappell het vir sy broer Trevor opdrag gegee om die bal met sy onderarm langs die paaltjie te "boul" om te verhoed dat die Nieu-Seelandse kolwer Brian McKechnie ’n grenshou kan aanteken. Die Australiese skeidsregters het die skuif as wettig beskou, maar tot vandag toe is baie van mening dat dit een van die onsportiewe besluite in krieket nog is.

Toe Nieu-Seeland tydens die tri-reeks in 1983 weer teen Australië speel, is Lance Cairns vir sy EDI-kolfwerk geprys. In een wedstryd teen Australië op die Melbourne-krieketveld, een van die wêreld se grootste krieketvelde, het hy ses grenshoue aangeteken. Min aanhangers onthou dat Nieu-Seeland hierdie wedstryd met 149 lopies verloor het. Lance se grootste bydrag tot Nieu-Seelandse krieket is egter sy seun Chris Cairns.

Chris Cairns het sy debuut een jaar voor Hadlee se aftrede in 1990 gemaak. Cairns, een van Nieu-Seeland se beste veelsydige spelers, het in die 1990’s die boulaanval met Danny Morrison aangevoer. Stephen Fleming, Nieu-Seeland se mees produktiewe lopiemaker, het beide die kolfwerk en die span na die 21ste eeu geneem. Nathan Astle en Craig McMillan het ook heelwat lopies vir Nieu-Seeland aangeteken, maar albei het vroeër afgetree as verwag is. Tydens die Krieketwêreldbeker 1992 het Nieu-Seeland weer beter gevaar en tot die halfeindrondte gevorder, waar hulle deur die latere kampioen Pakistan onder kaptein Imran Khan uitgeskakel is; Nieu-Seeland kon egter teen al die ander deelnemende spanne wen. Tydens die Krieketwêreldbeker 1996 is Nieu-Seeland effens vroeër – in die kwarteindstryd – deur Australië uitgeskakel en tydens die Krieketwêreldbeker 1999 was in die halfeindstryd weer Pakistan die laaste teenstander.

Daniel Vettori het sy debuut op 18 in 1997 gemaak, en toe hy in 2007 by Fleming as kaptein oorgeneem het, is hy reeds as die beste veelsydige draaibouler in die krieketwêreld beskou. Op 26 Augustus 2009 het Daniel Vettori die agste speler, en tweede linkerhandse bouler (na Chaminda Vaas) geword om 300 paaltjies te neem en 3 000 toetslopies aan te teken, en sodoende die roemryke klub betree. Vettori het in 2011 besluit om ’n onbeperkte ruskans van krieket se internasionale kortvorme te neem, maar voortgegaan om Nieu-Seeland in toetskrieket te verteenwoordig en vir die Krieketwêreldbeker 2015 teruggekeer.

Op 4 April 1996 het Nieu-Seeland ’n unieke wêreldrekord behaal, nadat die hele span vir hul spanprestasie as speler van die wedstryd aangewys is, nadat hulle Wes-Indië met 4 lopies verslaan het. Dit is die eerste keer wat ’n hele span hierdie toekenning ontvang het.[29][30][31]

21ste eeu[wysig | wysig bron]

Engeland teen Nieu-Seeland op Lord’s in Mei 2004
Die Nieu-Seelandse span vier in 2009 die neem van ’n paaltjie
Eindstryd van die Krieketwêreldbeker 2015 tussen Australië en Nieu-Seeland op Melbourne-krieketveld

Nieu-Seeland het die nuwe millennium met hul oorwinning tydens die 2000 IKR Uitklop-trofee in Kenia afgeskop en sodoende hul eerste IKR-toernooi gewen. Hulle het met ’n oorwinning van 64 lopies oor Zimbabwe begin, en toe Pakistan met 4 paaltjies in die halfeindstryd verslaan. In die eindstryd teen Indië het Chris Cairns ’n onoorwonne 102 in Nieu-Seeland se lopiejaag aangeteken en Nieu-Seeland sodoende die toernooi laat wen.

Shane Bond het tussen 2001 en 2007 17 toetse vir Nieu-Seeland gespeel, maar kon ná ’n besering nie verder speel nie. Wanneer hy fiks was, het hy aan die Nieu-Seelandse boulaanval ’n dimensie besorg wat sedert Hadlee se aftrede nie meer bestaan het nie.

Tydens die Krieketwêreldbeker 2003 het Nieu-Seeland net die Super 6 behaal, wat hoofsaaklik te wyte was aan die puntestelsel. Nadat Nieu-Seeland in die groepfase die wedstryd teen Kenia in Nairobi weens veiligheidskwessies verbeur het,[32] het die punte uit hierdie wedstryd in die volgende rondte ontbreek, omdat dit na die volgende rondte oordra is.[33]

Die opkoms van die finansiële sterk BCCI het ’n sterk impak op Nieu-Seelandse krieket en die spelers gehad. Die BCCI het daarin geslaag om ander krieketrade te oortuig om nie spelers te kies wat by die mededingende Indiese T20-Krieketliga aangesluit het nie. Nieu-Seelandse krieket het die dienste van Shane Bond, Lou Vincent, Andre Adams, Hamish Marshall en Daryl Tuffey verloor. Die geld, wat met T20-krieket in Indië verdien kan word, het dalk ook spelers soos Craig McMillan en Scott Styris (van toetskrieket) vroeër laat aftree as wat hulle andersins sou gedoen het. Ná die ondergang van die Indiese Krieketliga het beide Bond en Tuffey weer vir Nieu-Seeland gespeel.

In 2007 kon Nieu-Seeland tydens beide die Krieketwêreldbeker en die nuwe T20-wêreldbeker die halfeindrondte bereik. Alhoewel die Black Caps tydens die volgende vier T20-wêreldbekertoernooie net tot die Super 8 of Super 10 kon vorder, kon hulle tydens die Krieketwêreldbeker 2011 weer die halfeindstryd maak.

Vettori het in 2011 as toetskaptein bedank en is deur die sterkolwer Ross Taylor opgevolg. Taylor het Nieu-Seeland vir een jaar aangevoer, insluitende ’n naelbyter-oorwinning in ’n toetswedstryd met ’n lae telling teen Australië in Hobart, hul eerste oorwinning oor Australië sedert 1993. In 2012/13 is Brendon McCullum as kaptein benoem en nuwe spelers soos Kane Williamson, Corey Anderson, Doug Bracewell, Trent Boult en Jimmy Neesham het as wêreldklasspelers opgekom. McCullum het Nieu-Seeland in reeksoorwinnings oor beide Wes-Indië en Indië in 2013/14 en beide Pakistan en Sri Lanka in 2014/15 aangevoer, waarvolgens Nieu-Seeland in die ranglyste vir beide toets en EDI gestyg het. In die reeks teen Indië het McCullum 302 in Wellington aangeteken en sodoende Nieu-Seeland se eerste drievoudige honderdtaller in toetse geword.

In vroeg 2015 het Nieu-Seeland die eindstryd van die krieketwêreldbekertoernooi gemaak, en onoorwonne deur dié toernooi tot in die eindstryd gevorder, maar is deur Australië met 7 paaltjies verslaan.[34]

In 2015 het die Nieu-Seelandse nasionale krieketspan onder die naam Aotearoa in hul eerste wedstryd teen Zimbabwe gespeel om die Māori-taalweek te vier.[35]

In middel-2015 het Nieu-Seeland na Engeland getoer,[36] en goed presteer, nadat die toetsreeks onbeslis 1–1 eindig, en hulle die EDI-reeks met 2–3 verloor.

Tussen Oktober tot November 2015, en weer in Februarie 2016, het Nieu-Seeland in twee toetsreekse teen Australië gespeel, met drie en twee wedstryde onderskeidelik. Met ’n Australiese span wat veranderinge ondergaan het, het Nieu-Seeland glo ’n kans gehad om te wen, veral tuis. Nieu-Seeland het albei reekse egter 2-0 verloor.[37]

Tydens die Krieketwêreldbeker 2019 het Nieu-Seeland vir die tweede agtereenvolgende keer die eindstryd behaal, nadat hulle in die halfeindstryd Indië met 18 lopies verslaan het.[38] Nieu-Seeland het teen die gasheer Engeland te staan gekom en sedert die Krieketwêreldbeker 1992 was dit die eerste keer dat twee spanne in die eindwedstryd ontmoet het wat nog nie ’n titel ingepalm het nie. Die eindstryd teen Engeland op Lord’s word as een van die beste en mees dramatiese krieketwedstryde nog beskryf, en sommige beskou dit as die "beste EDI in die krieketgeskiedenis",[17] nadat beide die wedstryd en die nodige Superboulbeurt in ’n gelykop geëindig het en Engeland die titel inpalm nadat hulle meer grenshoue aangeteken het as Nieu-Seeland.[39][18][40][41] Die Nieu-Seelander Kane Williamson was die kaptein wat die meeste lopies (578) tydens een enkele krieketwêreldbekertoernooi aangeteken het.[42]

Kleure[wysig | wysig bron]

Nieu-Seeland in hul donker EDI-klere

Nieu-Seeland se trui word verskaf deur Canterbury, wat in 2009 by die vorige vervaardiger WStar oorgeneem het.

Wanneer hulle toetskrieket speel, toon Nieu-Seeland se wit krieketklere die silwervaring op die linkerkant van die trui, die naam en kenteken van die borg Amul op die regterkant, Ford se embleem op die linkermou en die Canterbury-kenteken op die regtermou. Nieu-Seeland se veldwerkers mag ’n swart pet (soortgelyk aan ’n bofbalpet pleks van die baggypet wat deur ander spanne gebruik word) of ’n wit sonhoed met die Nieu-Seelandse Krieketkenteken in die middel dra. Helms is ook swart geverf (alhoewel dit tot in 1996 wit was met die silwervaring-logo in ’n swart sirkel).

In die korter vorme van krieket vertoon Nieu-Seeland se EDI- en T20I-truie die ANZ-kenteken in die middel met die silwervaring op die linkerkant van die trui, Canterbury se kenteken op die regtermou en die Ford-embleem op die regterkant. In EDIs bestaan die trui uit ’n swart hemp met blou aksente en swart broeke, terwyl die T20-trui uit ’n roomkleurige hemp met swart aksente en swart broeke bestaan. Tydens IKR-toernooie in die korter vorme van krieket word ’n veranderde trui-ontwerp gebruik met die borg se kenteken op die mou en NEW ZEALAND oor die bors.

Nieu-Seeland se EDI-trui tussen die Wêreldkrieketreeks in 1980 en 1988 was roomkleur en bruin. Die 1983–1984-weergawe is deur die Black Caps se ondersteunersgroep Beige Brigade gewild gemaak, wat die weergawe van hierdie trui aan die algemene publiek saam met ’n "morele kontrak", wat die verwagtinge van die Beige Brigadier verklaar het, verkoop is; die trui is ook tydens die eerste T20I-wedstryd tussen Australië en Nieu-Seeland gedra. Tussen 1991 en 1997 is egter grys of silwer (met die een of ander spatsels van swart of wit) gebruik. Tot in 2000 was die EDI-trui geteël met swart aksente.

Vorige uitrusters was Adidas (Wêreldkrieketreekse 1980–1990), ISC (Krieketwêreldbekertoernooie in 1992 en 1996, Wêreldkrieketreekse 1993–97), Canterbury (1998–1999), Asics (wat al die deelnemende spanne tydens die Krieketwêreldbeker in 1999 toegerus het) en WStar (2000–2009).

Vorige borge was DB Draught (in 1990–1994 op die voorkant, in 1995–1997 op die mou), Bank of New Zealand (in 1993–94 en in 1997–99 op die voorkant), Clear Communications, later TelstraClear (in 1997–2000 op die voorkant, in 2001–2005 op die mou), National Bank of New Zealand (in 2000–2014) en Dheeraj and East Coast (in 2009–2010),[43] sedert 2014 is ANZ die huidige borg, weens die herbemarking van die Nasionale Bank as ANZ. In Mei 2017 het Amul die nuwe borg geword.[44]

Tuisstadions[wysig | wysig bron]

Nieu-Seelandse stadions wat al internasionale krieketwedstryde gehuisves het

Nes ander vername krieketnasies soos Australië, Bangladesj, Engeland, Ierland, Indië, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe beskik Nieu-Seeland oor geen amptelike tuisstadion vir sy nasionale span nie. Die Nieu-Seelandse nasionale krieketspan span vir hul krieketwedstryde eerder ’n verskeidenheid stadions dwarsdeur Nieu-Seeland in.

Van Nieu-Seeland se tradisionele krieketwedstryde op vakansiedae sluit in dié rondom Welwillendheidsdag op Basin Reserve in Wellington of Hagley-ovaal in Christchurch.

Krieketwêreldbekerstadions[wysig | wysig bron]

EDI-wedstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland op Edenpark in Auckland in 2013

Die Krieketwêreldbeker 1992 is saam deur Australië en Nieu-Seeland aangebied. Van die wedstryde was soos volg opgedeel: Australië het 25 wedstryde op 11 verskeie plekke gehuisves, terwyl Nieu-Seeland 14 wedstryde op 7 plekke aangebied het. Beide Australië en Nieu-Seeland het hul wedstryde tydens dié toernooi tuis gespeel, terwyl die openingswedstryd tussen albei gashere op die Nieu-Seelandse Edenparkstadion in Auckland aangebied is. In ruil daarvoor is die eindstryd tussen Pakistan en Engeland op die Australiese Melbourne-krieketveld aangebied.

23 jaar later het beide Australië en Nieu-Seeland die Krieketwêreldbeker 2015 aangebied. Australië het 26 wedstryde op sewe verskeie plekke gehuisves, terwyl Nieu-Seeland 23 wedstryde op sewe plekke aangebied het. Albei gashere het hul wedstryde tuis gespeel, terwyl hul ontmoeting tydens die groepfase weer op die Nieu-Seelandse Edenparkstadion in Auckland gehou is. Tydens die eindwedstryd op die Australiese Melbourne-krieketveld het die gashere herontmoet.

Rekords[wysig | wysig bron]

Wêreldbekerrekord[wysig | wysig bron]

Jaar Uitslag
1975 Halfeindrondte
1979 Halfeindrondte
1983 Groepfase
1987 Groepfase
1992 Halfeindrondte
1996 Kwarteindrondte
1999 Halfeindrondte
2003 Super 6
2007 Halfeindrondte
2011 Halfeindrondte
2015 Naaswenner
2019 Naaswenner
2023 N.v.t.

Twintig20-rekord[wysig | wysig bron]

Jaar Uitslag
2007 Halfeindrondte
2009 Super 8
2010 Super 8
2012 Super 8
2014 Super 10
2016 Halfeindrondte
2020 Gekwalifiseer
2021 N.v.t.

Kampioenetrofee-rekord[wysig | wysig bron]

Jaar Uitslag
1998 Kwarteindrondte
2000 Kampioen
2002 Groepfase
2004 Groepfase
2006 Halfeindrondte
2009 Naaswenner
2013 Groepfase
2017 Groepfase

Sien ook[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "ICC Rankings". Internasionale Krieketraad.
  2. (en) "Test matches – Team records". ESPNcricinfo.
  3. (en) "Test matches – 2020 Team records". ESPNcricinfo.
  4. (en) "ODI matches – Team records". ESPNcricinfo.
  5. (en) "ODI matches – 2020 Team records". ESPNcricinfo.
  6. (en) "T20I matches – Team records". ESPNcricinfo.
  7. (en) "T20I matches – 2020 Team records". ESPNcricinfo.
  8. (en) Frindall, Bill (2009). Ask Bearders. BBC. p. 163. ISBN 978-1-84607-880-4.
  9. (en) Anderson, Ian (29 Januarie 1998). "It's Clear Black Caps very dull". Waikato Times. p. 12.
  10. "Records / Test matches / Team records / Result summary" (in Engels). ESPNcricinfo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  11. "Men's Test Team Rankings" (in Engels). Internasionale Krieketraad. 10 Februarie 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  12. "Men's ODI Team Rankings" (in Engels). Internasionale Krieketraad. 15 Februarie 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Mei 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  13. "Men's T20I Team Rankings" (in Engels). Internasionale Krieketraad. 15 Februarie 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  14. Baum, Greg (24 Maart 2015). "Cricket World Cup: Drama aplenty as New Zealand enter first final". The Sydney Morning Herald (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Februarie 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  15. "A recap of the most dramatic match in cricket history". The Guardian (in Engels). 14 Julie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 April 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  16. "England win Cricket World Cup: Ben Stokes stars in dramatic finale against New Zealand" (in Engels). BBC. 14 Julie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  17. 17,0 17,1 (en) "2019 Cricket World Cup final: England beat Black Caps in greatest ODI in history". New Zealand Herald. 14 Julie 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  18. 18,0 18,1 "Epic final tied, Super Over tied, England win World Cup on boundary count". ESPNcricinfo (in Engels). 14 Julie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Mei 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  19. (en) The Summer Game by D.O & P.W. Neely 1994 bl. 11
  20. "Why cricket? - New Zealand cricket" (in Engels). NZ History. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  21. "England tour of New Zealand, 1929/30" (in Engels). ESPNcricinfo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Junie 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  22. (en) (8 Julie 1939) “Australian cricket team: Tour of New Zealand”. Evening Star. Besoek op 16 Februarie 2020.
  23. (en) (22 Junie 1939) “Bradman may lead Australian team on tour of N.Z.”. Auckland Star. Besoek op 16 Februarie 2020.
  24. (en) (30 November 1939) “Australian tour abandoned: 'Difficulties caused by war'”. Press. Besoek op 16 Februarie 2020.
  25. "New Zealand cricket Page 4 – Playing England" (in Engels). NZHistory. 20 Desember 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Maart 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  26. "West Indies tour of New Zealand, 1955/56" (in Engels). ESPNcricinfo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 November 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  27. "Outstanding Achievements" (in Engels). Te Ara – the Encyclopedia of New Zealand. 23 April 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Maart 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  28. "New Zealand in Pakistan Test Series, 1969/70" (in Engels). ESPNcricinfo. 1 Januarie 1970. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Maart 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  29. "1995–1996 West Indies v New Zealand – 4th Match – Georgetown, Guyana" (in Engels). HowStat. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 November 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  30. "4th ODI, New Zealand tour of West Indies at Georgetown, Apr 3 1996" (in Engels). ESPNcricinfo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Maart 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  31. "Fourth One-Day International – WEST INDIES v NEW ZEALAND". Wisden 1997 (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Februarie 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  32. "New Zealand refuse to play in Kenya" (in Engels). The Guardian. 31 Januarie 2003. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Junie 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  33. "Kiwi chief slams format" (in Engels). BBC. 16 Maart 2003. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Maart 2016. Besoek op 16 Februarie 2020.
  34. (en) "Results | Cricket World Cup 2015 – ICC Cricket | Official Website". www.icc-cricket.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Maart 2016. Besoek op 19 Maart 2016.
  35. "New Zealand to play as Aotearoa" (in Engels). 27 Julie 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Maart 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  36. "New Zealand tour of England, 2015 schedule – Match details, time, venue – Cricbuzz". Cricbuzz (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Mei 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  37. "Australia v New Zealand Test series: Little brother's big chance". The Sydney Morning Herald (in Engels). 11 Februarie 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Februarie 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  38. "Jadeja, Dhoni fight in vain as New Zealand advance to final". Cricbuzz (in Engels). 10 Julie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Julie 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  39. Sarkar, Akash (15 Julie 2019). "England win World Cup on boundary count after Super Over thriller against New Zealand". Cricbuzz (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Julie 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  40. "Relive incredible World Cup final with clips and analysis as it happened". BBC (in Engels). 14 Julie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Mei 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  41. "Drama op Lord's". Maroela Media. 14 Julie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020. Besoek op 16 Februarie 2020.
  42. (en) "Kane Williamson becomes captain with most runs in a World Cup". Times of India. 15 Julie 2019. Besoek op 16 Februarie 2020.
  43. "NZ Cricket Museum Shop - Poster: NZ ODI Shirts" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 September 2018. Besoek op 8 September 2018.
  44. (en) "Indian dairy giant Amul to sponsor Black Caps – The Country – The Country News". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 September 2018. Besoek op 8 September 2018.

Verdere leesstof[wysig | wysig bron]

  • (en) Greg Ryan (2004). The Making of New Zealand Cricket, 1832–1914. Cass. ISBN 978-0-7146-5354-9.
  • (en) Don Neely en Richard Payne (1986). Men in White: The History of New Zealand International Cricket, 1894–1985. Moa. ISBN 978-0-908570-01-0.
  • (en) Tom Reese (1927). New Zealand Cricket, 1841–1914. Simpson & Williams. ISBN 1-877145-65-3.
  • (en) Rice, Geoffrey; Ryman, Frances (2015). Cricketing Colonists: The Brittan Brothers in Early Canterbury. Christchurch, NZ: Canterbury University Press. ISBN 978-1-927145-68-5.AS1-onderhoud: ref=harv (link)

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.