Odessa

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search

Odesa • Одесса • Одеса
Odessa

Odessa-Montage-2016.png
Kaart Wapen
Odesa-Ukraine-Map.png
Coat of Arms of Odessa.svg
Vlag
Flag of Odessa, Ukraine (1999).svg
 Land Vlag van Oekraïne Oekraïne
 Administratiewe gewes Odessa
 Koördinate 46°28′N 30°44′O / 46.467°N 30.733°O / 46.467; 30.733
 Stigting 1794
 Oppervlakte:  
 - Totaal 163 vk km
 Hoogte bo seevlak 40 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2008) 1,080,000
 - Bevolkingsdigtheid 6,141/vk km
 Etniese groepe:  
 - Oekraïens 57%
 - Russies 34%
 - Joods minder as 0,5%
 Tydsone EET (UTC+2)
 - Somertyd EET (UTC+3)
 Burgemeester (party) Hennadi Troechanof
 Amptelike webwerf Odessa

Odessa (Одесса) is - met 'n bevolking van iets meer as een miljoen - die vierde grootste stad in Oekraïne geleë in die suide van die land aan die Swartsee. Die stad was ook die vierde grootste stedelike nedersetting in die Russiese Ryk en sy belangrikste Swartsee-hawe. In 1897 was 37% van die bevolking Jode, oorwegend afkomstig uit Pole en Galisië, maar ná die Tweede Wêreldoorlog het die meeste na Israel geëmigreer.

Potemkin-trap en seehawe in September 2019
Die interieur van Odessa se operahuis. Die gebou is deur 'n Weense argitekte-ateljee ontwerp

Odessa is deur tsarin Katharina die Grote in 1794 nuut gestig as Russiese vloothawe en handelspilpunt naby 'n vroeëre Krim-Tataarse vesting, met 'n geometriese stadsuitleg wat oriëntasie vergemaklik - kort nadat die gebied, wat voorheen deel uitgemaak het van die Ottomaanse Ryk, deur Russiese magte verower is. Kort voor lank was dit een van die snelste groeiende stede in die Tsareryk. Immigrasie was een van die sleutelfaktore wat bygedra het tot hierdie ontwikkeling; immigrante is onder meer benodig om die stad teen moontlike aanvallers te verdedig. Odessa is stelselmatig ontwikkel tot die administratiewe, ekonomiese en kulturele middelpunt van 'n kolonisasiegebied wat tot 1917 as "Nieu-Rusland" bekendgestaan het.

Katharina en die vroeë administrateurs van Odessa, onder wie Armand Emmanuel du Plessis, hertog de Richelieu (1766−1822), het die vestiging van Europese immigrante met 'n aktiewe werwingsbeleid in heel Europa, belastingvrystelling en die waarborg van die vryheid van godsdiens bevorder, terwyl Grieke, Italianers en Jode uit eie inisiatief hierheen gekom het om voordeel te kan trek uit die geleenthede wat Odessa se florerende ekonomie - veral die grootskaalse graanuitvoer na ander dele van Europa - hulle gebied het. Het Russiese militariste, Poolse grondeienaars en Oekraïense setlaars die oorspronklike kernbevolking gevorm, was daar kort voor lank ook talle nuwe aankomelinge soos Bulgare, Albaniërs, Tatare, Switsers, Duitsers, Franse en selfs enkele immigrante uit Engeland.[1]

Odessa, wat 'n sterker kosmopolitiese inslag gehad het as St. Petersburg, het tot 'n stad met 'n sterk onafhanklikheidsgees en 'n bloeiende letterkundige en kulturele lewe ontwikkel wat eersterangse skrywers, musici, kunstenaars en geleerdes voortgebring het. Vroeë besoekers uit Europa, die Verenigde State en Rusland het bygedra tot die skepping van 'n mite waarin Odessa as "Goue Stad" uitgebeeld is - 'n plek waar 'n mens binne 'n betreklik kort tydperk welvarend kon word. Gedurende die eerste helfte van die 19de eeu, toe Odessa die grootste graanuitvoerhawe ter wêreld was, was daar inderdaad 'n ekonomiese basis vir daardie soort beskrywings.

In Junie 1905 het matrose op die keiserlike pantserkruiser Potemkin in Odessa in opstand teen die Tsarebewind gekom - 'n historiese gebeurtenis wat sy neerslag in die vroeë Sowjet-Russiese filmkuns gevind het. Sergei Eisenstein se rolprent "Pantserkruiser Potemkin", in 1925 vervaardig deur die ateljee Mosfilm, is een van die klassieke rolprente van die stomfilmtyd. Eisenstein se montasietegniek was rigtingwysend vir die filmbedryf - die manier, waarop beeldreekse in sy rolprent aanmekaargevoeg is, het bygedra tot Pantserkruiser Potemkin se internasionale sukses.[2] Sedert 2010 tree Odessa jaarliks as gasheerstad van 'n internasionale filmfees op.

Die groot trap in een van die sleuteltonele van Eisenstein se film, die Potemkin-trap (waarop tsaristiese magte vreedsame betogers doodskiet - 'n gebeurtenis wat histories egter nie toereikend gedokumenteer is nie), lei na die hawe met die Worontsof-vuurtoring en die Primorski-laan (Primorski prospekt), 'n gewilde promenade tussen die Worontsof-paleis en die ou effektebeurs waarlangs herehuise en monumente ontstaan het.

Die Sowjet-tydperk was 'n periode van ekonomiese agteruitgang waartydens min belê is in Odessa se behuisingsektor, monumente en openbare vervoerstelsel. Net die stad se sanatoria en vakansiekampe vir werkers van dwarsoor die Sowjetunie het besondere aandag geniet. Sekere vryhede is aan die stad se kulturele lewe gegun; so was Odessa die belangrikste Sowjet-metropool vir ironie, satire en humeur in die toneelkuns waar selfs beperkte kritiek op die realiteit van die lewe in die Sowjetunie gelewer kon word.

Met die ontbinding van die Sowjetunie is 'n chaotiese proses van privatisering en kapitaalakkumulasie ontketen wat buite die beheer van demokratiese instellings plaasgevind het.

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Die hawe was en is nog baie belangrik vir die ekonomie. Die stad is die belangrikste hawe vir Wes-Oekraïne (ook Kiëf/Kyiv) en vir die meeste van Moldowa en Wit-Rusland se handel.

Toerisme[wysig | wysig bron]

Tradisioneel was Odessa met sy ryk kulturele lewe, sy Mediterreense atmosfeer en sy sandstrande as vakansiebestemming 'n mededinger vir die Krim-skiereiland, alhoewel die lae watergehalte van plaaslike strande verhoed dat die stad in die nabye toekoms as waterparadys vir internasionale toerisme sal ontvou. Toe die Krim met die Russiese anneksasie in 2014 ontoeganklik geword het vir Oekraïense besoekers, het die getal toeriste in Odessa skerp gestyg - van een miljoen besoekers in 2013 tot 1,8 miljoen in 2015 en 3,5 miljoen in 2018 (van wie sowat 60 persent uit Oekraïne afkomstig was).[3]

Verwysings[wysig | wysig bron]